Geloofsvrae: Die oordeel

Geloofsvrae: Die oordeel – Adrio König

Die oordeel

Die eindoordeel, wanneer alle mense deur God geoordeel sal word, is ‘n nuwe gebeurtenis, en tog is dit ‘n bevestiging van wat reeds vooraf beslis is. Dit is nie so dat elke mens eers tot dan moet wag om uit te vind wat die beslissing oor sy of haar lewe sal wees nie. Uiteindelik lê die beslissing van ons ewige heil in ons verhouding met Jesus Christus in hierdie lewe. `Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie’ (Joh 3:18). Gelowiges hoef dus nie in spanning te wag tot die oordeel om uit te vind of hulle vrygespreek word nie. Trouens dit is opvallend dat daar staan dat ongelowiges `alreeds veroordeel is,’ wat beteken dat die eindoordeel net ‘n openbare bevestiging sal wees van dit wat alreeds in hierdie lewe gebeur het tussen ‘n persoon en Jesus (Joh 3:36; 5:24; 1Joh 5:11-13). Dit kan egter alles nou nog weerspreek word, byvoorbeeld dat gelowiges kinders van God is en die ewige lewe het. Maar by die oordeel sal dit in die openbaar bevestig word.

Geloof of werke?

Dit lyk soms of daar verskil is oor die gronde waarop mense deur God aangeneem word. Is dit op grond van ons werke, of op grond van ons geloof in Christus? Soms lees ons dat ons deur geloof gered word, en dan lyk dit weer of ons op grond van ons dade geoordeel sal word (vergelyk die tekste in die vorige paragraaf met o.a. Mat 25:31ev; Joh 5:28-29; Rom 2:1-10; 2Kor 5:10). Daar is egter nie regtig ‘n spanning tussen geloof en werke in die NT nie. Volgens Jakobus bevestig die dade die egtheid van die geloof (2:14ev). Wie dus nie dade kan wys nie, kan nie op geloof en vryspraak aanspraak maak nie. Só ‘n geloof is dood.

Wat egter belangrik is, is die feit dat daar ‘n verskil is tussen wetswerke en geloofswerke. Dit sal in die oordeel om geloofswerke gaan as bevestiging van ons geloof, nie om wetswerke nie.

Twee oordele?

Deel van die dispensasionele en die Chiliastiese toekomsverwagting is die oortuiging dat daar eintlik twee verskillende oordele sal wees (netsoos twee wederkomste, en twee opstandings): die gelowiges voor die regterstoel van God (Rom 14:10), en die ongelowiges voor die groot wit troon van God (Open 20:11ev). Daar is egter heelwat getuienis dat die apostels net aan een oordeel gedink het waar alle mense sal verskyn (o.a. Mat 25:31ev; Joh 5:28,29; Rom 2:5ev; 2Tes 1:5ev). Dit is nie ‘n gesonde manier van uitleg om sulke kleiner verskille soos dié tussen `regterstoel’ en `groot wit troon’ te gebruik om ‘n teorie van twee totaal verskillende gebeurtenisse te fundeer nie.

Beloning?

Die vraag na loon by die oordeel kom ook dikwels na vore (Mat 5:12; Open 22:12). In 1Kor 3 is duidelik sprake van loon en skade by die oordeel (:12ev). Loon beteken nie saligheid, en skade nie verlorenheid nie. Iemand wat weens die swak gehalte van sy of haar goeie werke geen loon ontvang nie, beërf tog nog die saligheid (:15). Daar is dus ‘n meer en ‘n minder in die saligheid, maar daar is nie enige duidelikheid oor hoe ‘n mens jou dit moet voorstel nie, soos byvoorbeeld belangriker posisies of groter voorregte nie.

Twee verskillende bestemmings

Die eindoordeel lei tot twee eindbestemmings: saligheid of verlorenheid. Natuurlik is dit twee totaal verskillende bestemmings, maar daar is mense wat dit voorstel asof albei so ongeveer op dieselfde wyse uit God se hand voortkom: so asof dit vir Hom om ‘t ewe is of mense gered word en of hulle verlore gaan. Daar is selfs die siening dat God net sowel verheerlik word deur díe wat verlore gaan as deur dié wat gered word. Dié twee bestemmings staan egter in heeltemal verskillende verhoudings met die werk en die doel van God.

Om dit te beklemtoon, word die twee bestemmings glad nie eens in dieselfde hoofstuk in hierdie boek behandel nie. Met die ewige heil bereik God sy doel met ons, maar die hel staan in geen verband met sy skeppingsdoel nie behalwe as die totale mislukking daarvan. Dit kom baie mooi uit in die profetiese rede waarin Jesus aan dié wat die heil beërf, die koninkryk toesê wat van die skepping van die wêreld af vir hulle voorberei is, maar die verlorenes wegstuur na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Mat 25:34,41). Dit word voorgestel asof die Here nie voorsiening gemaak het vir mense wat verlore gaan nie, waarskynlik met die implikasie dat Hy dit nie verwag het nie – wat weer direk verband hou met die onbegryplikheid van die sonde en die opmerkings wat gemaak is oor die gedagte dat alle mense gered word.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König