Geloofsvrae: Die Oorsprong van Sonde

Geloofsvrae: Die Oorsprong van Sonde – Adrio König

Die oorsprong van die sonde

Eintlik sou dit beter gewees het om van die begin van die sonde te praat, want `oorsprong’ kan die indruk skep dat ‘n mens kan verstaan waar dit vandaan kom en hoe dit ontstaan het. Maar die sonde is sinloos, chaoties, onbegryplik. Dit pas op geen manier in in God se skepping en sy doel met die skepping nie. Daar is ook niks in die skepping waarmee dit sinvol in verband staan nie. Profete en apostels reageer nie met ‘n begrypende knik nie, maar met ontsteltenis op sonde: `Hoe kán ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortleef?’ `Selfs die hemel (‘n eufemisme vir God) moet daaroor skrik en beef en sidder’ (Rom 6:1; Jer 2:12).

Dit is dan ook onmoontlik om sonde op enige manier sinvol met God in verband te bring soos dat Hy dit gewil of voorbeskik of toegelaat het. Al `verhouding’ tussen God en die sonde, is dat Hy dit haat, dit versoen en vergewe, en dit uit die weg ruim sodat daar op die nuwe aarde niks sal kom wat onrein is nie (Open 21:27).

Kan die Here ook goeie dinge uit sonde laat voortkom? As iemand deur bedrog in die moeilikheid beland, en hom of haar dan bekeer en soos nooit tevore op die Here begin vertrou, sou ons kon sê God het die goeie uit die sonde laat voortkom? En sou ‘n mens nie selfs verder kon gaan en sê dat die Here dié sonde gewil het sodat die persoon tot bekering kan kom nie?

Dit loop op huiweringwekkende teensprake uit! Dan is God teen Homself gekant want terwyl Hy ‘n wet gegee het waarvolgens ons nie bedrog mag pleeg nie, bepaal Hy dat iemand bedrog moet pleeg?!

Ons sal dus fyner moet probeer onderskei. As die sonde God die duur prys van sy enigste Seun in Godverlatenheid aan die kruis kos, is dit buite die kwessie om te meen Hy beskik dat iemand sonde moet doen.

Dit is ook teveel om te sê Hy laat die goeie uit die kwaad voortkom. Wat sou daar in die kwaad wees wat goeie gevolge kan voortbring? Wat ons seker wel sou kon sê, is dat Hy ons kan help om die situasie waarin die sonde ons beland het, só te hanteer dat dit ons ten goede kom. En daarvan sou ‘n mens talle wonderlike voorbeelde kon vind. Maar uit eerbied vir Hom behoort ons te huiwer om Hom enigsins direkter met sonde in verband te bring.

Dit alles beteken dat ons nie ‘n sinvolle verklaring sal kry vir die vraag waar die sonde vandaan kom nie. Dat ons dit nie uit die vryheid van die mens kan verklaar nie, is elders verduidelik.

Die een gedeelte in die Bybel wat ons nie nader aan ‘n antwoord bring nie, is Gen 2-4. As daar een gedeelte is wat die boodskap dra dat die sonde onbegryplik, sinloos, chaoties is en op geen manier in God se skepping inpas nie, is dit hierdie hoofstukke. Daar word wel allerlei pogings aangewend om te verklaar hoe slim die slang dan sou gewees het om juis by Eva, die swakkere vat, te begin, om vrae te vra in plaas van stellings te maak, om die indruk te skep dat sy benadeel word deur die verbod van God, en talle ander gedagtes.

Die teendeel is egter waar. Die verhaal, wat by Gen 2:4 begin, berei ‘n mens hoegenaamd nie daarop voor dat Eva aan God ongehoorsaam sou kon wees nie. Dit is ‘n idilliese verhaal van God wat in die haglikste omstandighede wonderlike voorsiening maak vir die mens wat Hy geskep het. Om in so ‘n barre wêreld van God ‘n tuin te ontvang met ‘n stroom water wat so groot is dat dit later in vier groot riviere verdeel, is in die dorre Palestina onvoorstelbaar. Só sorg God. En om vir Adam, wat eers onder al die diere gesoek het maar geen maat kon kry wat by hom pas nie, iemand te maak oor wie hy met ‘n vreugdekreet juig, is onmeetlike goedheid van God.

Dat Eva dan na die eerste die beste slang luister wat hierdie troue Verbondsgod kom verdag maak, is onbegryplik. As dit nie in die Bybel gestaan het nie, sou ek dit nie geglo het nie. Dis totaal onverwags, onvoorbereid, heeltemal teen die verloop van die verhaal in.

Dit is nie die enigste voorbeeld van die onbegryplikheid van die sonde nie. Inteendeel. Die onbegryplikheid van die sonde is ‘n deurlopende tema in die Bybel. Dink maar ‘n oomblik na oor die uittog uit Egipte. Israel word in Egipte vreeslik verdruk, hulle moet die wreedste slawewerk doen, hulle seuntjies word uitgemoor. En dan lei God hulle op wonderbaarlike wyse uit, op pad na die land van melk en heuning. Maar as die geringste probleme op pad voorkom, kom hulle in opstand, protesteer die heel tyd teen God, en verlang terug Egipte toe?! Wie kan dit verstaan?

Wie kan die goue kalf verstaan? Is Eks 32:1-6 nie dalk nog skokkender as Gen 3 nie? Israel is pas bevry. Na al die wonderlike ervaringe met die Here in die woestyn, staan hulle aan die voet van die berg van die Here. Hy het pas amptelik aangekondig dat Hy hulle God is, dat Hy vir hulle verantwoordelikheid aanvaar en vir hulle sal sorg. Maar as Moses net ‘n bietjie lank wegbly, vergeet hulle totaal van die Here se uitredding uit Egipte (`Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek’!) en maak hulle vir hulleself ‘n ander God?! En dit onder die leiding van Moses se vertroueling, Aäron! Wie sou probeer om dit te verklaar?

In Jeremia het ons ook sulke skokkende gebeurtenisse. Die profeet verwys in die Naam van die Here na die ongehoorsaamheid van die volk (2:4-13). Die hele volk is daaraan skuldig.: priesters, regeerders, profete inkluis. Elkeen van hulle doen die teendeel van dit waarvoor hy verantwoordelik is. Daarom kla die Here hulle aan in die vorm van ‘n hofsaak. Die klag is dat hulle doen wat selfs heidene nog nooit gedoen het nie. Terwyl heidene se Gode eintlik `nikse’ is (nikswerd Gode, Jer 2:5), het selfs húlle nog nooit hul Gode verruil vir ander Gode nie.

Maar Israel, die enigste volk wat die ware God ken, verruil Hom vir sulke `nikse.’ Dit is so goed as dat ‘n mens in ‘n droë gebied met wisselvallige reënval, ‘n plaas het met ‘n sterk, standhoudende fontein, maar dan die plaas verkoop vir ‘n droë plaas en dan die bietjie reënwater in ‘n paar gebarste klipbakke probeer opvang. Dwaasheid! Dis hoe onverklaarbaar sonde volgens Jeremia is! Daarom roep God selfs die hemel (eintlik Homself) om daarvoor te skrik, te beef en te sidder. Die implikasie is dat God dit self nie verstaan nie. Om te sê dat Hy dit self nie verstaan nie, is nie tot sy oneer asof Hy dan nie alles sou weet nie, maar tot sy eer, want net ‘n dwaas sal sin uit sonde probeer maak.

‘n Mens kan die voorbeelde vermenigvuldig, maar die gevolgtrekking is dieselfde: sonde is in beginsel onbegryplik, dit is nie ‘n kwessie van beter insig of dieper denke en dan sou ons tog iets daarvan kon begryp nie. Die sterkste getuienis van die onbegryplikheid van sonde is die feit dat sonde die oorsaak is waarom God alles moet omkeer om ons te red en die sonde uit die wêreld te maak. God moet ‘n mens word, die Heer moet ‘n slaaf word, die Koning ‘n kneg, die Regter die veroordeelde, die Helper die hulpelose aan die kruis.

Dit alles beklemtoon: sonde pas nie in die skepping van God in nie, dit het geen sinvolle oorsprong of plek in die werklikheid nie. Daarom kan ons ook net werklik gelukkig wees as ons daarvan verlos is. Dit het eenvoudig net langs die pad begin, en dan nie by God nie, maar by ons. Ons is verantwoordelik vir die sonde. Daarom kan God ons ook met reg oor ons sonde kwalik neem. As Hy die sonde vooraf beskik het, kon Hy tog nie.

Andersyds moet ons tog ook die slang van Gen 3 ernstig neem. Dit is ‘n mag buite die mens. Dit beteken dat die sonde in ‘n mag buite die mens gestalte kan aanneem. Toe Eva daaraan toegegee het, het dit mag oor haar gekry. Later sal veral Paulus die gedagte van die mag van die sonde duideliker uitwerk (39.2). Dit beteken op sy beurt dat God ons nie net kan vergewe nie, maar ons ook moet verlos en vrymaak, want deur die sonde het ons juis ons vryheid verloor en slawe van die sonde geword. Dit maak ons nie slagoffers en daarom minder skuldig aan die sonde nie, omdat daar ‘n Verlosser is sodat dit nog steeds ons eie skuld is as ons slawe van die sonde bly

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König