Geloofsvrae: Die Skeppingsvoorstellings

Geloofsvrae: Die Skeppingsvoorstellings – Adrio König

Die Skeppingsvoorstellings 

Vir baie Christene is die hoofsaak van wat ons in die Bybel oor die skepping leer, dat God alles net deur die woord, uit niks geskep het. Dit gaan dus om twee voorstellings: God het alles uit niks geskape, en Hy het dit net deur die woord gedoen.

 

Alhoewel hierdie twee voorstellings belangrik is, is dit nie korrek dat dit die twee oorheersende voorstellings in die Bybel is nie. As ‘n mens ‘n bietjie moeite doen, kom jy gou agter dat die Bybelskrywers ‘n hele aantal skeppingsvoorstellings gebruik, en dat sommige van die ander baie meer voorkom as hierdie twee, o.a. daadskepping (om iets te maak), en skepping deur voortbrenging (waarvolgens God iets – soos die aarde – beveel om iets anders voort te bring).

 

In die volgende bladsye gaan ons in ‘n bietjie meer besonderhede na die skeppingsvoorstellings kyk.

1 Skepping deur die woord 

Skepping deur die woord kom in die Bybel voor, maar nie so algemeen as wat ons soms dink nie (Gen 1; Ps 33:6,9; Heb 11:3). Omdat so baie mense egter die Bybel so onnoukeurig lees, meen hulle dat Hy volgens Gen 1 alles net deur die woord geskep het. In werklikheid word dit egter net van twee van die agt skeppingsdade gesê: lig, en die skeiding van see en land (Gen 1:3,9). Die ander ses skeppingsdade word wel ingelui deur die formule: `Toe het God gesê…’ maar dit is nie meer ‘n blote bevel waardeur iets tot stand gebring word nie. Dit is eerder ‘n bevel aan iets om iets anders voort te bring. Soms bring hierdie iets dan iets anders voort (bv. die aarde bring plante voort – 1:11ev), maar soms gebeur dit skynbaar nie en doen God dit self (1:24ev). Wat ook nog hier bykom, is die feit dat ons in ‘n paar gevalle iets van ‘n herhaling het. God dat iets tot stand moet kom, maar dan maak Hy dit ook nog (6-7;14-18;20-21;24-25). As ons uiteindelik by die skepping van die mens kom, dan is dit selfs glad nie meer ‘n bevel nie, dan is dit ‘n besluit waarop God self reageer en die mense deur ‘n daad skep (v26-27).

Dit is dus onnoukeurig om te dink alles is net deur die woord geskep. Daar is ‘n ryk verskeidenheid van skeppingsvoorstellings in Genesis 1, en nog meer in die res van die Bybel.

2 Skepping uit niks 

Skepping uit niks is ‘n voorstelling wat nie in die Bybel voorkom nie. Die beroep op Paulus is nie oortuigend nie want dat God `dinge wat nie bestaan (het) nie, tot stand bring deur sy woord’ (Rom 4:17) sê nie dat Hy hulle uit niks tot stand gebring het nie. Hy kon hulle ook uit iets anders gemaak het, soos Hy inderdaad in baie gevalle gedoen het (plante uit die aarde Gen 1:11ev). So ook nie die beroep op Hebr 11:3 nie. `Die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie’ kan beteken dit het ontstaan uit onsigbare dinge, dinge wat ons nie kan sien nie. Selfs die uitspraak uit 2 Makkabeërs 7:28ev, een van die Apokriewe boeke, is onseker, sodat die oudste duidelike verwysing na skepping uit niks eers in die Herder van Hermas voorkom – ‘n geskrif uit die einde van die eerste eeu nC.

Daar is egter meer op die spel as dat skepping uit niks nie in die Bybel voorkom nie. Eintlik kon dit nie in die Bybel voorgekom het nie, in elk geval nie in die Ou Testament nie. Die Jode het nie die begrip `niks’ in hierdie sin geken nie. `Niks’ is ‘n teoretiese begrip wat die totale afwesigheid van enige materie aandui. Ons sal nou-nou sien dat die Hebreeuse woord vir `niks’ heeltemal iets anders beteken het. Dit was eers in ‘n Griekse atmosfeer dat `niks’ die betekenis gekry het van die totale afwesigheid van enigiets. Eers toe kon die oortuiging van skepping uit niks ontstaan.

‘n Mens kan ook uit ander gegewens aflei dat die Jode nie regtig die vraag radikaal deurdink het of daar absoluut niks voor die skepping bestaan het nie. Dink maar aan die voorstelling van stryd by die skepping. Van die begin af beskerm die Here sy skepping teen vyandelike magte. Teoreties is dit onmoontlik as daar nog niks bestaan het toe Hy geskep het nie. Maar ons weet dat die Bybelskrywers nie in ‘n studeerkamer oor die skepping sit en dink en alle moontlikhede sorgvuldig oorweeg het nie. Hulle het in gespanne situasies van nood opgetree waarin hulle op dringende vrae antwoorde moes probeer gee, vrae soos: Kan God ons uit hierdie nood verlos?

3 Stryd by die skepping 

Ons het hier te doen met ‘n skeppingsvoorstelling wat vir eeue lank nie eintlik aanvaar is onder Christene nie. ‘n Mens kan dit ook maklik verstaan. Die voorstelling dat God uit niks geskep het, was so oorheersend dat daar nie ruimte was vir hierdie voorstelling nie. As daar niks was by die skepping nie, waarteen moes God dan stry en sy skepping bewaar? Waar dié voorstelling dan tog oorweeg is, is gewoonlik aanvaar dat Hy eers die engele geskep het en dat sommige engele baie gou ongehoorsaam geword het, sodat Hy die res vn sy skepping teen hulle moes beskerm.

Vandag is dit makliker om ruimte te maak vir die voorstelling van stryd by die skepping. Ons besef beter dat die verskillende voorstellings langs mekaar staan en tegelyk waar is, omdat die skrywers nie daardeur wou sê hoe God geskep het nie, maar eerder iets oor God en oor die geskape werklikheid wou sê. So weet ons byvoorbeeld dat skepping deur die woord nie beteken dat God letterlik alles net deur ‘n bevel geskep het nie, maar eerder dat God magtig is en nie hulp nodig gehad het om te skep nie.

Stryd by die skepping beteken dat God by die skepping magte oorwin het wat sy skepping bedreig het. Waar dié magte vandaan gekom het, is nie regtig ter sake nie, want Israel het nie teoreties nagedink oor presies wat by die skepping gebeur het nie. Dat hulle nie gedink het aan `niks’ soos ons daaraan dink as die totale afwesigheid van enigiets nie, blyk o.a. uit die feit dat hulle onder `niks’ die afgode verstaan het (o.a. Deut 32:21; 2 Kon 17:15; Jer 8:19; 14:22; 16:19). `Nikswerd afgode’ is eintlik ‘n vertaling van `nikse’ en beteken dat die afgode niks is in vergelyking met God nie – dus glad nie Gode is nie.

Israel het die voorstelling van stryd by die skepping met die omringende volke gedeel by wie dit ‘n belangrike rol gespeel het. Onder hierdie volke was daar die gedagte dat daar ‘n groot stryd was tussen sekere Gode en dat die een groep dan die oorwinning behaal het en die aarde en die mense uit oorblysels van die oorwonne Gode gemaak het. Tydens die ballingskap in Babilon is Israel gekonfronteer met so ‘n voorstelling. ‘n Mens moet onthou dat hulle oorwin en weggevoer is, en dat hulle oorwinnaars hul oorwinning aan hul eie Gode toegeskryf het. In Babilon is dan elke jaar – ten aanskoue van die ballinge! – die fees vir Marduk gevier, die triomfantelike God wat vir Apsu verslaaan het en uit ‘n deel van haar lyf die aarde gemaak het. Marduk is nou aan hulle voorgehou as die magtige een wat ook die Here oorwin het sodat die Babiloniërs hulle in ballingskap kon wegvoer.

Dit is in hierdie lig merkwaardig dat die profete bereid was om hierdie voorstelling te gebruik. Dit is in soveel opsigte vreemd aan Israel se geloof in God. Hy was nooit in ‘n bloedige geveg met ander Gode betrokke nie. Hy het ook nie sulke `oerstof’ soos godeliggame gebruik om te skep nie. En tog sien die profete ‘n besondere geleentheid as hulle juis hierdie voorstelling wat so populêr in Babilon was, kan gebruik en in sy teendeel kan omdraai, nie as Marduk wat die ander Gode verslaan het – en per implikasie ook die Here nie – maar as die Here wat die ander verslaan. Dit het die troosboodskap dat God sy volk sal bevry, op ‘n merkwaardige wyse tuisgebring.

Maar hulle pas die voorstelling aan om by hulle geloof in God te pas. Hulle stel die ander Gode nie as Gode voor nie, maar as chaosmagte wat God se skepping bedreig het. God oorwin die chaosmagte deur hulle te vernietig. Hy maak nie eens verder van hulle liggame gebruik nie. Die boodskap is duidelik: As God hulle eenmaal oorwin het, kan Hy dit weer doen, en daarom kan Israel met vertroue die vervulling van sy belofte van bevryding afwag, ook in hierdie skynbaar hopelose situasie van die ballingskap.

Hierdie voorstelling kom dikwels in die Bybel voor (vgl o.a. Job 9:36-38; Ps 74; 89; 104; 148; Jes 51:9ev; Jer 5:22).

Omdat hierdie voorstelling selde ernstig oorweeg word, is dit belangrik om in meer besonderhede na minstens een voorbeeld te kyk, Ps 74.

Ps 74 kan in drie dele verdeel word: 1-11; 12-17; 18-23. Die eerste deel is ‘n aangrypende klag oor die feit dat God nie ingryp in die vreeslike nood van sy volk nie. (Die Psalm is waarskynlik in Babilon tydens die ballingskap geskryf.) Die tweede deel is ‘n loflied oor die groot oorwinnings wat Hy behaal het oor die chaosmonsters. Die derde deel is ‘n dringende oproep dat Hy terwille van sy eer, sy verbond en sy volk, moet ingryp en Israel verlos van sy wrede oorheersers.

Sommige verklaarders meen dat 12-17 nie regtig goed hier inpas nie. Die eerste en die derde dele pas pragtig bymekaar: eers die aangrypende klag dat God nie iets doen aan die nood van sy volk nie, en dan die dringende oproep dat Hy moet ingryp. Maar hoe pas die loflied van die tweede deel oor God se oorwinnings hier in? Is dit nie per ongeluk van elders af hier ingevoeg nie?

Nee, dit pas presies. Die loflied prys die Here omdat Hy die vreeslike seemonsters oorwin het. As Hy dít kon doen, kan Hy dit sekerlik ook met die huidige verdrukkers van Israel doen. Dit sit dus krag by die digter se oproep in die derde deel van die Psalm dat God moet ingryp.

As ons nou nader ingaan op die tweede deel, is dit duidelik dat dit om God se skeppingsdade gaan. Ook op ander plekke word die seemonsters in verband met die skepping genoem (Ps 89:10-13; Jes 51:9ev). Hier word verder verwys na die skepping van son en maan, na die vasstelling van die seisoene (eintlik grense) van die aarde, na die begin van somer en winter. Dit wys alles terug na die skepping.

Wat het God dan by die skepping gedoen? Hy het die koppe van die seemonsters vermorsel, ook dié van Leviatan, Hy het die son en die maan geskep, die groot `Gode’ van Babilon, Hy het die grense van die aarde vasgestel, wat beteken dat Hy die dreigende see (wat self as ‘n chaosmonster beskou is – Jes 51:10) `agter grense ingeperk het’ (Job 38:8-11; Jer 5:22).

Die voorstelling van stryd by die skepping word dus hier aangepas om iets te sê van die groot mag van God wat sy skepping teen bedreiging beskerm – iets soortgelyks as die skeidingsmotief in Gen 1.

Dit help ons ook verstaan waarom lofliedere so dikwels na die skeppingswerk van God verwys. Hy word geprys oor sy groot krag waardeur Hy alles tot stand gebring het. Dit hou die verwagting lewendig dat Hy ook nou in sy volk se nood sal ingryp. Ons het pragtige voorbeelde hiervan in die pelgrimsliedere in die Psalms (115:15; 121:2; 124:8; 134:3; 146:6).

4 Skepping deur skeiding 

In verband met stryd by die skepping dink ‘n mens byna onwillekeurig aan nog ‘n voorstelling wat nie so algemeen bekend is nie: skepping deur skeiding. In sy skeppingswerk skei God sekere dinge van mekaar. In Gen 1 skei Hy elke keer iets gevaarliks af van iets wat goed is. Hy skei die donker af van die lig (v4), die waters in die lug (dink aan die sondvloed!) van dié op die aarde (v6-7), die see van die land (v9-10), en die nag van die dag (v14ev). Dit is opvallend dat die skrywer nie noem dat Hy die donker, die water, die see, en die nag geskep het nie. Hy skei juis hierdie dinge af van dit wat Hy geskep het. Ons het hier dus skynbaar dieselfde gedagte as in stryd by die skepping, dat God van die begin af sy skepping teen bedreiging beskerm.

5 Die duister elemente in die skepping 

Daar is sekere dreigende, duister elemente in die skepping. Sowel in stryd by die skepping as in skepping deur skeiding het ons daarna verwys. Wat word hieronder verstaan?

Die duister elemente is almal elemente wat Israel baie negatief beleef het. En dit is nie so vreemd nie. Die meeste mense het ‘n bepaalde huiwering vir hierdie dinge: vir donkerte en die nag; en vir die mag van water, veral in die vorm van die see. Wie dit betwyfel, kan net volgende keer ‘n bietjie te diep in die see ingaan as daar groot golwe is.

Israel het hierdie elemente met die magte van die duisternis geassosieer. In die meeste skeppingsverhale in die Bybel word nie gesê dat hierdie duister elemente deur God geskep is nie (al is daar uitsonderings soos byvoorbeeld die see – Ps 95:5; 146:6). Die skrywers het nie teoreties nagedink oor waar hierdie negatiewe dinge vandaan kom nie.

Dit kan interessant wees om vir ‘n oomblik in die Bybel oor die see te lees. Dit word voorgestel as ‘n mag wat die mense wat op die droë grond leef, met sy golwe wil vernietig deur ons te oorspoel. Daarom het God die see `agter grense ingehok’ wat dit soos tralies inperk (Job 28:8-11 Ps 104:6-9; Jer 5:22). Hierdie siening gaan deur tot in die NT waar Jesus die see soos ‘n bose mag behandel. As die storm op see sy lewe en dié van die dissipels bedreig, `bestraf’ Hy die wind, dieselfde wat Hy met bose magte in mense se lewens doen (Mark 4:39). En as Johannes op Patmos ‘n gesig sien van die nuwe hemel en die nuwe aarde, is daar nie meer ‘n see nie (Op 21:1). Dit het geen plek op die nuwe aarde nie! So radikaal is die see deur Israel vereenselwig met die bose wat vernietig sal word.

‘n Mens kan dieselfde pad loop met die duisternis en die nag. Daar is nooit sprake van die skepping van die nag of die donker nie. As eerste skeppingsdaad skep God die lig en skei die duisternis daarvan af. Dwarsdeur die OT het duisternis ‘n negatiewe betekenis. In die NT word Jesus die lig van die wêreld genoem, en die duisternis word vereenselwig met dié wat teen Hom is. Ook sy volgelinge word lig genoem en kinders van die lig. En op die nuwe aarde is daar geen duisternis en nag meer nie. Natuurlik ook nie meer ‘n son of ‘n lamp nie, maar nie omdat daar iets met lig verkeerd is nie, maar omdat God en die Lam self die lig vir die nuwe aarde is (Op 22:5).

Daar is dus van die begin af negatiewe magte ter sprake, en die Bybelskrywers is nie so bekommerd soos ons oor waar hulle vandaan kom nie. Hulle is meer bekommerd daaroor dat hulle vernietig moet word sodat die nuwe aarde vry van hulle sal wees. En is dit nie ‘n paslike reaksie nie? Wat is die belangrikste: dat daar vóór die skepping van hemel en aarde niks negatiefs was nie, of dat daar ná die vernuwing van die aarde niks negatiefs sal wees nie?

Interessant dat ons in hierdie verband meestal meer bekommerd is oor die verlede as oor die toekoms. Israel was nie. Hulle het min aandag aan de vraag gegee of daar alreeds bose magte tydens die skepping was. As hulle iets daaroor gedink het, was dit waarskynlik dat hulle al bestaan het, maar hulle het hul nie teveel daaroor bekommer nie. Ons dink meestal egter anders. Ons wil ten alle koste die versekering hê dat daar niks voor die skepping van hemel en aarde bestaan het nie, maar intussen aanvaar ons sonder probleme dat daar tot in ewigheid boosheid en ellende in die hel sal wees.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König