Geloofsvrae: Die tekens van die tye

Geloofsvrae: Die tekens van die tye – Adrio König

Die tekens van die tye

Die wederkoms was van die begin af naby.

Hierdie agtergrond dat Christus se wederkoms al in die tyd van die NT naby was, help ons om te begryp wat bedoel word met die tekens van die tye, die tekens dat Christus se koms naby is. Die beginsel is eenvoudig: Jesus en die apostels het nie dié tekens bedoel as aanduidinge wat die gelowiges sal help om te bepaal wanneer sy koms naby sal wees nie – immers sy koms was van die begin af naby – maar as staande herinneringe dat sy koms (altyd!) naby is en ons altyd gereed moet wees om Hom te ontvang. Wie dus die tekens (soos die Antichris of die wêreldwye verkondiging van die evangelie of die Jode) gebruik om te probeer bereken wanneer Christus gaan kom – ook net naastenby – misken die wese van die tekens.

Op net twee bladsye in die NT lees ons vyf keer dat ons nie die tekens moet gebruik om die tyd van sy koms te bereken nie, omdat dit eerder waarskuwings is dat ons altyd gereed moet wees (Mat 24:36,42,44,50; 25:13; vgl ook 1Tes 5:2ev; 2Pet 3:10ev). Die oproep van Jesus is duidelik: Julle weet nie wanneer die Seun van die mens kom nie, wees dus elke oomblik gereed, Hy gaan juis kom wanneer julle dit nie verwag nie.

Wat verder duidelik is, is die feit dat Jesus sy dissipels aanspreek as Hy oor die tekens praat. Daar staan nêrens iets soos: Wanneer ‘n geslag in die verre toekoms eendag dié tekens in vervulling sien gaan, moet hulle gereed wees omdat Jesus dan op ‘n onverwagte oomblik kan kom nie. Hy spreek direk sy dissipels aan – tereg, want sy koms was toe al naby (vgl `julle’ in Mat 24:6,9,15,20,23,26,32).

Elke interpretasie van die tekens wat daartoe lei dat ‘n mens nog eers sekere gebeurtenisse verwag voor Christus weer kan kom, is dus ‘n miskenning van die duidelike getuienis van die NT. Dit is die rede waarom ons nie aandag gee aan onderwerpe wat in ander kringe baie populêr is nie, soos die groot verdrukking, en Armageddon nie.

In hierdie lig sou ‘n mens kon verwag dat die tekens alreeds in die lewe van die vroeë Christene in vervulling sou gaan. Dit was immers allereers vir hulle bedoel. Dit is dan ook wat ons in die NT vind. Drie baie interessante voorbeelde is die Antichris, die sending, en die Jode, drie van die heel belangrikste tekens van sy koms.

Ons gaan elk van hulle afsonderlik hanteer.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König