Geloofsvrae: Die volharding van die heiliges

Geloofsvrae: Die volharding van die heiliges – Adrio König

Die volharding van die heiliges

Die leer dat mense wat gered is, nie weer verlore kan gaan nie (`eenmaal gered, altyd gered’), is al vir eeue lank ‘n omstrede saak. Dit hang saam met die ou probleem van die volgorde in die heilsweg: wedergeboorte – bekering, of bekering – wedergeboorte. Dié wat die klem lê op die inisiatief van God (soos gewoonlik in die Gereformeerde teologie), sal aanvaar dat ons eers weergebore word, en daarmee saam dat ‘n kind van God nie weer verlore kan gaan nie. Dié wat nadruk lê op ons verantwoordelikheid (die meeste Evangelicals en die Pinkster-Charismatiese tradisie) sal die teendeel aanvaar: ons moet eers tot bekering kom voor die Here ons red, en ons kan weer van Hom afdwaal en verlore gaan.

In ‘n vorige gedeelte het ons gesien ons kan nie die verskillende fasette van die heilsweg in ‘n bepaalde volgorde na mekaar plaas nie. Maar dit los nie die probleem op of ‘n gelowige weer verlore kan gaan nie. Tradisioneel word gepraat van die volharding van die `heiliges’ omdat gelowiges in die NT `heiliges’ genoem word.

Daar is twee probleme met die Gereformeerde standpunt. Die een is dat dit maklik kan lei tot selftevredenheid en passiwiteit by gelowiges as hulle eenvoudig aanvaar dat hulle saligheid nooit weer in gevaar kan kom nie, en die ander een is dat daar sterk waarskuwings in die NT is wat skynbaar impliseer dat kinders van God weer verlore kan gaan.

Die eerste probleem hang saam met ‘n bepaalde interpretasie van die uitverkiesingsleer: as ek uitverkies is, sal ek in elk geval tot geloof kom en nooit verlore gaan nie, want dit sou God se ewige besluite in gedrang bring. Gereformeerdes het altyd ontken dat dit ‘n gepaste reaksie is op die gedagte van God se inisiatief, en op baie maniere probeer aantoon dat hierdie gedagte misverstaan word as dit daartoe lei dat die ywer van gelowiges gedemp word. Een poging is om te sê dat die ware geloof altyd vrugte sal voortbring en nie sonder goeie werke kan wees nie.

Daar is verder die dringende waarskuwings dat die kinders van God moet volhard, en die implikasie is skynbaar dat hulle anders weer verlore sal gaan (Mat 24:13; Kol 1:23; Heb 10:26ev). Maar daarteenoor staan die krag van die volhardingsleer wat roem in die trou van God (Joh 10:28-29).

Waarskynlik is dit die beste om te onthou dat ons ons nie in ongehoorsaamheid op die beloftes van God kan beroep nie. Net so min as wat ‘n gedoopte persoon in ongehoorsaanheid kan leef en hom of haar dan op die doop beroep as versekering van redding, kan iemand weier om na die vermaninge van die Here te luister maar dan aanspraak maak op die volharding van die heiliges. Dit is alleen in gehoorsame afhanklikheid van God wat ons ons op sy beloftes kan beroep, maar dan kan ons ook werklik weet dat ons veilig in sy hande is.

Daarom moet ons die oproepe tot volharding ernstig neem en nie die genade van God as iets vanselfsprekends beskou nie. Maar as ons geloof swak is, hoef ons nie aan die genade van God te twyfel nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König