Geloofsvrae: Die Wederkoms van Christus

Geloofsvrae: Die Wederkoms van Christus Adrio König

Die wederkoms van Christus

Daar is vier gebeurtenisse waarna die gelowiges met `brandende harte’ moet uitsien:

  • die wederkoms van Christus,
  • wanneer Hy die dooies sal opwek,
  • alle mense sal oordeel, en
  • die aarde sal nuut maak of ons die ewige lewe sal gee.

Hierdie vier gebeurtenisse is die kern van ons toekomsverwagting. Dit is die enigste profesieë waarop ons nog wag, wat nog nie vervul is nie.

Nie voorspelbaar nie

Nie een van die vier gebeurtenisse waarop ons nog wag, is regtig voorstelbaar nie. Dit is nie die soort gebeurtenisse wat ons al beleef het of waarvoor ons geskikte begrippe het nie. Dit is uit en uit apokaliptiese, `bonatuurlike’ gebeurtenisse. As profesieë normaalweg anders en veral baie ryker vervul word as wat ‘n mens uit ‘n letterlike interpretasie kan aflei, hoeveel te meer die beelde wat vir die apokaliptiese profesieë gebruik word. Daarom moet Christene baie nederig wees en erken dat ons gebeurtenisse verwag wat ons ons nie goed kan voorstel nie. Ons het stippellyne waarmee ons ‘n sekere rigting kan aandui, niks meer nie.

Die wederkoms van Christus is nie voorspelbaar nie. Die beelde wat in die NT gebruik word, is nie maklik toepasbaar op ons moderne wêreldbeeld van ‘n ronde aarde met geen `onder’ of `bo’ in die ruimte nie. Allerlei pogings om byvoorbeeld moderne tegnologie in te span (soos die TV) om Christus se sigbaarheid oor die hele aarde voor te stel, is verleentheidsoplossings.

Wat ons wel kan aflei uit die Bybelse profesieë is dat daar ‘n dramatiese verandering sal kom waardeur Christus in ‘n nuwe en meer direkte verhouding tot die wêreld sal staan. Dit is ook sondermeer duidelik dat daar so ‘n wending nodig is voordat die doel van God in elke vorm met die wêreld bereik kan word, nie net vir en in ons nie, maar ook met ons en die wêreld.

Wat ons wel kan probeer, is om ‘n paar van die stippellyne oor die koms van Christus te probeer volg. ‘n Mens sou kon sê dat Hy sigbaar, skielik, kosmies en in heerlikheid sal kom.

Stippellyne vir sy koms

(1) Christus se koms sal sigbaar wees. Daarvoor is daar sterk getuienis (Mat 24:30; Hand 1:11; 1Joh 3:2; Open 1:7). Daar is Christene wat praat van ‘n onsigbare wederkoms, maar dit skep allerlei probleme.

  1. Die Jehovagetuies het ‘n hele aantal kere voorspel dat Hy op ‘n bepaalde datum sou kom. Aanvanklik het hulle elke keer deur nuwe berekenings die datum vorentoe geskuif, maar toe dit later nie meer geloofwaardig was nie, het hulle aangekondig dat Hy wel gekom het – in 1914 – maar dat dit ‘n onsigbare koms was. Dit maak egter nie veel sin nie, want sedert sy hemelvaart is Hy nog altyd deur die Gees (onsigbaar) by ons.
  2. `Daar is ook die beskouing dat Hy eintlik twee wederkomste sal hê: tydens die sg. wegraping sal Hy onsigbaar kom en al die kinders van God wegneem, en dan sal Hy veel later eers sigbaar kom om die ongelowiges te oordeel.

Die wegraping word gebou op tekste soos Mat 24:40; Luk 17:34; Joh 14:3; 1Tes 4:15-17; Heb 9:28; en die tweede wederkoms op Mat 24:30; Luk 17:24; 1Tes 3:13; 2Tes 2:7-8; Open 1:7.

Die gronde vir die wegraping is egter baie onseker. In Mat 24 en Luk 17 sou die sigbare wederkoms dan eerste beskryf word, en die onsigbare wegraping eers daarna – wat tog ongerymd is. Trouens in werklikheid word in elk van hierdie hoofstukke net een saak beskryf: die wederkoms. Daarom eindig die gedeelte (Mat 24:42-44) met dieselfde gedagte as waarmee dit begin (:36). Ook die spesifieke uitsprake wat die wegraping sou beskryf, geld heeltemal sinvol vir die (sigbare) wederkoms. Dat sommige saamgeneem en ander agtergelaat word (:40-41), pas goed in by die gedagte dat Hy by sy koms sy engele sal stuur `om sy uitverkorenes bymekaar te maak’ (:31).

Dit is ook duidelik dat Jesus veronderstel dat die dissipels tydens sy wederkoms nog op die aarde sal wees en dus nie vooraf deur die wegraping weggevoer nie. In Lk 21:28 sê Hy vir die dissipels om bemoedig te word deur die tekens wat sy sigbare wederkoms sal vergesél (:25-27).

Uit 1Tes 3:13 en 4:13ev word ook twee wederkomste afgelei: een `vir sy heiliges’ en een `saam met sy heiliges,’ maar daar is dikwels kleiner verskille in woordgebruik sonder dat dit verskillende gebeurtenisse aandui. As ‘n mens vir elke klein verskil in woorde ‘n aparte koms wil aanvaar, sal ‘n mens eindig met ‘n hele paar wederkomste.

  1. Christus sal ook skielik kom. Dat sy koms naby is, trouens dat sy koms al in die dae van die NT naby was, is reeds verduidelik. Maar dat Hy skielik sal kom, het ‘n ander betekenis. Dit sal nie ‘n geleidelike proses wees sodat ‘n mens dit kan waarneem en dan begin om jou daarop voor te berei nie. Die twee geliefde beelde vir sy koms, is die weerlig en die dief (Mat 24:27, 43; Luk 12:39ev; 1Tes 5:2; 2Pet 3:10; Open 3:1-3). Wat beide so gevaarlik maak, is dat ‘n mens nie weet wanneer hulle kom nie. Juis daarom is ‘n mens net veilig as jy elke oomblik vir hulle voorbereid is. En dit is ook die boodskap van die tekens van die tye, nie: bereken (selfs nie so ongeveer) wanneer Hy sal kom nie, maar: `Julle moet altyd gereed wees want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie’ (Mat 24:44).
  1. Christus se koms sal kosmiese afmetings aanneem. Dit gaan nie net om individuele mense nie, maar om die totale skepping van God. Die beelde waarmee Christus se koms in die NT geteken word, het ongelooflike afmetings. Mat 24:29 teken ‘n kosmiese katastrofe van ongekende afmetings, en so ook 2Pet 3:10-12.

Natuurlik is dit apokaliptiese taal om iets te probeer sê waarvoor ons nie regtig begrippe het nie. Ons kan dus nie maak asof dit vooruitgeskrewe geskiedenis is wat ons net mooi agtermekaar moet sit en dan presies weet wat sal gebeur nie. Die blote feit dat die Bybelskrywers apokaliptiese taal gebruik, beteken dat dit alles onvoorstelbaar sal wees. En die beelde wat hulle gebruik, beklemtoon die feit dat dit die hele skepping is wat geraak gaan word. Die aarde (as simbool van die totale werklikheid) is altyd betrokke by die werk van God. Hy het die aarde geskep, die aarde is op een of ander manier deur die sonde getref, en die aarde sug saam met die kinders van God in afwagting van die groot dag (Rom 8:20ev). Daarom sal die aarde ook geoordeel (2Pet 3) en gereinig en vernuwe word (Open 21-22). Dit beteken dat die evangelie nie net ons geestelike lewe of die `ewige dinge’ raak nie, maar die totale werklikheid. Dit sal duideliker word as die opstanding bespreek word.

Christus se koms sal ook in heerlikheid wees. Sy oorweldigende verskyning sal alle teenspraak en weerstand verbreek. Sy eerste koms was in vernedering. Hy is verwerp en verag, gespot en met die opperste duiwel vergelyk. In die tussentyd kon mense die werk van sy Gees ontken en minag. Maar sy wederkoms sal in heerlikheid wees, só dat weerstand nie meer moontlik sal wees nie, dat elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely: `Jesus Christus is die Here,’ tot eer van sy Vader (Fil 2:10ev).

Christus se koms sal ‘n onthulling én ‘n vervulling wees.

  1. Onthulling: Hy sal dinge onthul of bekend maak, dinge wat reeds waar is maar nog weerspreek kan word. Hy sal onthul dat ons sy kinders is (Rom 8:23), iets waarvan ons nou getuig, maar nog nie kan bewys nie. Hy sal ook onthul wat ons lankal in Hom was al het dit weens ons sonde nooit volkome in ons lewe na vore gekom nie.

Vervulling: Maar sy koms sal ook vervulling (nuwe dinge) bring. Daar is dinge wat nog nie gebeur het nie: die opstanding uit die dood, die reiniging en vernuwing van die aarde. Naas sy koms is dit die dinge waarop ons wag.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König