Geloofsvrae: Die Wese van God

Geloofsvrae: Die Wese van God – Adrio König

Die Wese van God  

1 Die verbondsgod en die verbond

God is die God van mense, die God wat in verhoudings leef, die Gemeenskapsgod, die troue Verbondsgod. Hy leef allereers in gemeenskap met Homself, maar daarna en daarom ook in gemeenskap met sy skepsels, en in ‘n besondere sin met die kroon van sy skepping, die mens. Dit beteken dat God naby wil wees, dat Hy omgee en liefhet. Dit is trouens die een woord waarmee Johannes Hom beskryf: liefde (1 Joh 4:8,16).

In Homself is God alreeds liefde. Ons weet dat die Vader die Seun liefhet, en die Seun die Vader (Joh 15:9; 17:23-26). Daar is ‘n ou tradisie in die kerk wat die Gees die band van liefde tussen die Vader en die Seun noem. Dit is ook een van die wonderlike betekenisse van die triniteitsleer (die leer dat God drie en tog net een is): dat daar in die een ware God alreeds verhoudinge is, dat Hy in Homself as Vader, Seun en Heilige Gees gemeenskap het en in Homself in ‘n ewige verbond van liefde en trou leef. Dit beteken dat Hy nie eensaam is en mense gemaak het om sy eensaamheid te verdryf nie. Dat Hy ons gemaak het, is pure goedheid omdat Hy nie sy heerlike gemeenskap alleen wou geniet nie, maar dit met ander wou deel. Sy liefde is onselfsugtig.

As God van ewigheid af in Homself liefde is, kan ons met reg sê dat liefde sy wese is. Dan wil Hy ook met sy ganse skepping, en in besonder met ons as mense, in liefdesverbondenheid leef, en ons ‘n aandeel gee aan sy verbondsliefde en -trou.

Ons kan dus nooit oor God praat sonder om iets te sê oor die verbond waarin Hy met mense wil leef nie. Ons sal later sien dat ons dit kan beskou as een van die wyses waarop ons sy doel met die skepping kan beskryf: om in liefdesverbondenheid met mense op aarde te leef (21.3).

Behalwe al die ander dinge wat later in ander verbande oor die verbond gesê sal word, is twee sake van fundamentele belang: die inisiatief en die trou van God.

God neem altyd die inisiatief in sy verhouding met die mense. Uit die elf hoofstukke in hierdie boek, handel sewe uitsluitlik oor wat God is en doen, terwyl naas sy inisiatief ook ons reaksie net by drie na vore kom. Net in een hoofstuk, dié oor die sonde, gaan dit omtrent heeltemal om ons `inisiatief’!

Die geskiedenis wat God met die mensdom maak, kan ons saamvat in sy skeppingswerk, sy sorg vir sy skepsels en veral vir die mense, sy verkiesing van Israel en sy eeue-lange moeite en geduld met hulle, sy verlossingsplan deur Christus en die Gees, en die toekoms wat Hy vir ons beloof het – alles sy inisiatiewe.

Verder moet ons sy trou onthou, want juis dit gee ons moed as ons weer in sonde geval het. God leef nie maar net in ‘n verhouding met ons nie, maar in ‘n verbond. Wat ‘n verbond meer maak as ‘n verhouding, is dat ons seker is van God. Hy is getrou. Hy sal nie môre-oggend met die verkeerde voet uit die bed opstaan en die verhouding beëindig nie.

Trouens ons moet nie maar net so in die algemeen van sy verbond met mense praat nie, want uiteindelik het sy verbond finaal gestalte gekry in sy verbond met Abraham-en-sy-nageslag. Abraham is die vader van alle gelowiges (Rom 4:16), hy is die klassieke voorbeeld van hoe ons gered word (Rom 4:1ev), en Jesus kom juis die heidene in God se verbond met Abraham inlyf (Gal 3:14) sodat ook nie-Jode deur die doop in die Abrahamverbond ingelyf kan word (3:26ev). Wat hierdie verbond onvervangbaar maak, is die feit dat dit die genadeverbond is waarin mense net deur die geloof opgeneem word. Van ‘n ander verbond en ‘n ander heilsweg weet ons nie, en wil ons ook nie weet nie.

Daarom is dit ‘n misverstand om te neem dat die Abrahamverbond die ou verbond is wat afgeskaf is. Hoe sal ons dan nou gered word? Die ou verbond is die Sinaïwetgewing soos dit deur die Laat-Jodendom verkeerd geïnterpreteer is as sou dit die manier wees waarop God ons red (deur wetswerke). Daarteenoor stel Christus die nuwe verbond wat Hy met sy dood bevestig, wat juis die herbevestiging van die genade- en geloofsverbond is wat God met Abraham gemaak het (Gal 3:14).

In hierdie verbond gaan dit om die God van liefde wat Hom onherroepelik aan mense verbind het om hulle God te wees en hulle in sy vreugde te laat deel, en daarmee ook die mense aan Hom verbind het om sy kinders te wees wat Hom in onverdeelde liefdestrou geniet, eer en dien.

Is God net liefde? Nie ook toorn nie?

Nee. En ja.

Ja, God kan ook in toorn reageer op ons sonde. Hy haat sonde. As ‘n mens toorn en haat negatief wil noem, kan God ook negatief reageer. Al weet ons dat sy geduld merkwaardig lank hou, het daar selfs in sy geskiedenis met Israel ‘n tyd gekom toe Hy in toorn uitgebreek en sy volk in ballingskap weggevoer het. ‘n Boek soos Klaagliedere is ‘n skokkende verhaal van hoe God se toorn kan ontvlam. En die waarskuwings teen die verderf in die Nuwe Testament is selfs erger.

God kan in toorn reageer. `Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val … want ons God is ‘n verterende vuur’ (Heb 10:31; 12:29).

En tog moet ons dadelik ook sê: Nee. God kan wel in toorn reageer, maar Hy is nie toorn soos Hy liefde is nie. Ons gebruik doelbewus die woord `reageer’ want God se toorn is ‘n reaksie op wat ons doen, nie inisiatief wat Hy self neem nie. Anders gesê: Sy toorn is iets wat net voorkom in die geskiedenis wat Hy met ons maak, en Hy is net toornig omdat ons sy liefde minag. Hy sou nooit toorn geken het as ons nie in sonde volhard het nie. In sy ewige wese is daar geen toorn nie. Sy toorn is ‘n reaksie op ons volhardende ontrou en verwerping van sy genade. Maar sy liefde is sy wese. As ons nooit sonde gedoen het nie, sou daar nooit van sy toorn sparke gewees het nie, maar altyd net van sy liefde.

Ons moet dus versigtig wees om nie die `eienskappe’ van God (soos liefde en toorn) in balans te probeer hou nie. Sy liefde en sy toorn lê glad nie op dieselfde vlak nie. As Hy in toorn reageer, doen Hy dit traag en teësinnig en net na eindelose geduld, maar Hy het ons spontaan lief, selfs sonder enige aanleiding van ons kant af. Dit is hoe Hy in Homself is. Ons hoef Hom nie te beweeg om ons lief te hê nie. Maar tot toorn kan ons Hom alleen met die uiterste inspanning van volhardende sonde beweeg.

2 Die Koning se mag 

Maar ons lees in die Bybel nie net van die verbond en die liefde en nabyheid van God nie. Ons lees, veral in die NT, dikwels van die koninkryk van God wat verband hou met die boodskap van veral sekere Psalms dat God Koning is (o.a. Ps 24, 47, 48, 68, 84, 95, 98, 99). Veral Jesus kondig aan dat die koninkryk van God op hande is en selfs dat dit (in sy optrede) reeds gekom het (Mk 1:15; Luk 17:21).

Die koninkryk van God is die heerskappy van God oor sy skepping. Hy is die regmatige eienaar daarvan en daarom het niemand anders enige aanspraak daarop nie. Wanneer ons oor Jesus dink, sal ons nader ingaan op wat die koninkryk beteken en hoe ons dit vandag moet verstaan. Nou is dit net belangrik om te weet dat God reg het op alles en dat niemand sy heerskappy mag minag nie. Sy mag is so groot dat ons selfs lees dat Hy spot met die konings wat teen Hom in opstand kom en sy heerskappy verwerp (Ps 2:1-6).

Ons het hier te doen met die mag van God. Hierdie eienskap van God is net so belangrik soos sy liefde omdat liefde alleen nie ‘n noodsituasie kan hanteer nie. Liefde is onontbeerlik, en as ‘n mens tussen die twee moet kies, is liefde altyd beter. Dis minstens veiliger. Maar in nood is albei eintlik nodig. Daar is ‘n bekende beeld waarmee mense verduidelik wat dit beteken dat Jesus die openbaring van God is. Twee bedelaars loop in hul ellende langs die pad. ‘n Derde sluit by hulle aan, uiterlik in net sulke vodde soos hulle. En eers later, nadat hy hulle vertroue gewen het, sê hy wie hy regtig is: die prins van die paleis wat hulle uit hul ellende kom help.

‘n Pragtige verhaal. God openbaar Hom in Iemand wat netsoos ons lyk, anders sou ons so geskrik het as Hy in sy heerlikheid gekom het dat ons sou weggehardloop het.

Maar die derde bedelaar kan net help omdat hy die prins is, omdat die mag van die koning agter hom is. As hy self ook maar net ‘n bedelaar was, sou sy simpatie met die twee bedelaars hulle misklien wel ‘n bietjie getroos het, maar nie regtig hul probleem opgelos het nie. As God nie mag het om te red nie, sal sy liefde net troos, nie regtig help nie.

Daarom is die Bybel se boodskap oor die mag van God ‘n wonderlike boodskap. En al sal ons later aantoon dat daar ook ernstige probleme in dié verband is, neem dit niks weg van die onontbeerlikheid van hierdie boodskap dat God die Koning is wat met mag regeer nie.

Van ‘n ander kant af bekyk: dit sou nie regtig ons probleem opgelos het as Jesus uit liefde aan die kruis vir ons sonde gesterf het, maar nie die mag gehad het om uit die dood op te staan nie. Dan het Hy nie die mag gehad om ons te verlos van die bose magte van sonde, duiwel en dood nie.

In God gaan verbond (liefde) en koninkryk (mag) saam: Hy wil ons verlos omdat Hy liefde is, en Hy kan ons verlos omdat Hy magtig is.

3 Oorredende mag 

Die verband tussen liefde en mag is egter nog inniger. ‘n Mens kan op twee maniere daarna kyk. Omdat die koning van Israel die verteenwoordiger van God by die volk is en namens God oor hulle moet regeer, word hy opgeroep om soos God aan die verdruktes reg te laat geskied, die armes te hulp te kom, hom oor die swakkes en behoeftiges te ontferm, en die lewe van die arm mense te beskerm (Ps 72:2,4,12-14). Hy moet dit alles doen omdat hy die volk moet regeer volgens God se wil (v 1).

God is dus nie ‘n koning wat net mag het en verder is sy volk maar aan sy grille oorgelaat nie. God is ‘n koning wat omgee, wat sy volk liefhet. Daar is nie by God so iets soos neutrale mag wat dan agterna deur liefde in die regte rigting gestuur moet word nie!

En dit kon ‘n mens ook verwag het. Want – en dit is die tweede manier om hierna te kyk – God se eienskappe staan nie los van mekaar asof Hy hulle een vir een in werking moet stel of hulle dalk selfs apart kan laat funksioneer nie. Omdat Hy een is, funksioneer sy eienskappe ook as ‘n eenheid. Daarom werk sy liefde en mag nie net saam nie, maar is sy mag liefdesmag. Dit beteken dat God met oorredende mag werk, dat Hy beloof, uitnooi, vermaan, dreig, straf – alles om te probeer oorreed. ‘n Mens moet ook van God se oorweldigende mag praat, maar een van dié kenmerke van God se omgang met Israel is dat Hy hulle op verskillende maniere probeer oorreed, nie dwing nie, omdat Hy die magtige koning is wat vir hulle omgee.

Miskien is die aangrypendste voorbeeld hiervan die kruisdood van Jesus. Ons as mense het deur ons sonde God se vyande geword. God besluit om teen sy vyande op te tree. In die OT is die aandrang dat God sy vyande moet vernietig. Hy moet die getroues red en die goddelose verdelg. Die wraakpsalms is bekend daarvoor (o.a. Ps 52:7-9; 101:8; 143:12; 145:20;). In Jesus besluit God om wel sy vyande te `vernietig,’ maar om dit op sy manier te doen: om hulle sy vriende te maak. Dit is die effektiefste manier van `vernietiging’: om jou vyande te `wen’ deur hulle jou vriende te maak (Rom 5:10: 2 Kor 5:19, kyk TEV).

Maar oorredingsmag vra geduld, en geduld vra tyd, maar gelukkig het God albei. Daarvan is sy lang geskiedenis met Israel – om nie te praat van sy 2000 jaar met die kerk nie – die sprekende voorbeeld.

Ons sou dus van God kon praat as die Een in wie mag en liefde saamwek. God se mag is mag wat omgee en nadertrek.

4 Die drie-enige God 

Ons het alreeds kortliks daarna verwys dat God tegelyk een en drie is.

Ons dien net een God. En tog glo ons in die Vader en die Seun en die Gees. Daar is net een, en tog is daar drie. Die kerk het dit in 325nC probeer formuleer deur te bely dat daar net een Goddelike Wese is, maar dat ons Hom in drie Goddelike Persone leer ken. Dié beslissing is bereik na verskille oor hoe ons Jesus moet verstaan. Daar was die gedagte dat Jesus wel iemand besonders is, selfs heeltemal uniek, die eerste van alle skepsels, maar dat Hy nie self God is soos die Vader God is nie. Daarteenoor het die kerk uiteindelik besluit dat Hy netsoos die Vader God is, maar dat Hy ook van die Vader onderskei kan word, dat Hy nie dieselfde Goddelike Persoon as die Vader is nie. Die kerk wou hul eendersheid én eenheid, maar ook hul andersheid beklemtoon eenvoudig omdat ons dit só in die Bybel kry. Jesus sê dat Hy en die Vader een is, die skrywers van die NT noem Jesus `God,’ en Paulus skryf dat Hy die hoogste Naam kry wat daar is (wat net die Naam Jahwe kan wees, die Naam van God in die OT, sodat die implikasie is dat Hy self ook God is, Joh 10:30; 1:1,18; Fil 2:9).

Nadat die beslissing in die kerkgeskiedenis geval het dat Jesus saam met die Vader die een ware God is, was dit byna vanselfsprekend dat die Gees ook daarby ingesluit sou word.

‘n Mens moet dit nie misverstaan nie. Daar is geen besondere waarde in die getal een nie. Monoteïsme (een God) is nie vanself beter as politeïsme (meer as een God) nie. En boonop is daar ook ander godsdienste wat net een God aanvaar. Dit maak hulle nie beter as godsdienste wat meer as een God aanvaar nie.

Daar is net een rede waarom Christene in net een God glo, en dit is omdat daar net een ware God is: Israel se God. En ons glo dat die Vader én die Seun én die Gees al drie saam hierdie een God is net omdat ons dit uit die Bybel aflei.

Die leer dat God drie-enig is, het heelwat betekenis vir ons, veral vir die wyse waarop ons ons verhoudings moet inrig.

Dat God drieënig is, beteken dat Hy in Homself gesag en gehoorsaamheid ken. Die Vader beveel, en die Seun gehoorsaam. Maar dit is ook wat nodig is in enige menslike samelewing. Sonder gesag en gehoorsaamheid verval ons in losbandigheid. Kinders wat sonder reëls groot word, kan nie ‘n stabiele lewe lei en krisisse hanteer nie. Gehoorsaamheid bring dissipline en deursettingsvermoë in ‘n mens se lewe. Ons leer dus by God hoe ons as mense moet leef – wat nie vreemd is nie omdat ons in elk geval sy beeld is.

Maar gesag en gehoorsaamheid is nie net goed nie, dit is ook gevaarlik. Gesag word maklik tiranie, en gehoorsaamheid slaafse onderworpenheid. Daarom moet ons weer na God kyk. Daar is nie net gesag en gehoorsaamheid in God se lewe nie, daar is liefdevolle gesag, en liefdevolle gehoorsaamheid in Hom. Die Vader beveel die Seun in liefde, en die Seun gehoorsaam die Vader in liefde. Gesag wat in liefde uitgeoefen word, is opbouende, vormende gesag. En gehoorsaamheid wat in liefde gegee word, is liefdesdiens wat die adel in ons na vore laat kom. In enige samelewing, in watter faset daarvan ookal, is vorme van gesag en gehoorsaamheid onontbeerlik, maar altyd in ‘n verhouding van onderlinge begrip en sorg.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König