Geloofsvrae: Doop: Die betekenis

Geloofsvrae: Doop: Die betekenis – Adrio König

Die betekenis van die doop

Die NT heg ‘n ryker betekenis aan die doop as wat in enige kerklike tradisie tot sy reg kom. Ons moet dit egter nie verkeerd verstaan asof dit beteken dat die doop-op-sigself heilsbetekenis het nie. Die doop funksioneer in die nouste verband met die ander heilsmiddele soos die heilswerk van Christus, die werk van die Gees, die verkondiging van die evangelie en die geloof (o.a. 1Kor 12:13; Ef 5:26; Kol 2:12). Selfs in die klassieke Rom 6 met sy besondere waardering van die doop, word die geloof veronderstel. Die doop is dus nie ‘n magiese of meganiese handeling waardeur die gedoopte vanselfsprekend aan die heil deel kry nie. Maar in samehang met die ander heilsmiddele het die doop ‘n besondere betekenis.

Die NT heg minstens agt verskillende betekenisse aan die doop wat in drie groepe ingedeel kan word: vereniging of inlywing, vergifnis en reiniging, en vernuwing.

Vereniging of inlywing Die opdrag van die Here Jesus word deur Matteus weergegee as: Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Mat 28:19). Volgens Handelinge het die apostels (aanvanklik?) net in die naam van Jesus gedoop. Wat ookal histories presies die geval was, beteken `in die Naam van’ in elk geval `in die gesag van’ of `tot die eiendom van.’ Die gedoopte word dus die eiendom van die Here en sy gesag word deur die doop oor hom of haar uitgeroep (2 Sam 12:28; 2 Kron 7:14).

Verder verenig die doop ons met Jesus Christus sodat ons deel kry aan sy hele geskiedenis van kruis en opstanding. Deur die doop is ons saam met Hom gekruisig en opgewek sodat ons ou lewe in diens van die sonde beëindig is en ons sy nuwe verheerlikte lewe saam met Hom mag leef (Rom 6; Kol 2-3; kyk onder 77.5).

‘n Mens behoort in hierdie verband Rom 6:1-14 noukeurig deur te lees, en die struktuur van Kol 2-3 soos volg na te gaan: begin by 2:11-13; dan die `dus’ (gevolgtrekking) van 2:20; die `aangesien’ van 3:1; die `daarom’ (gevolgtrekking) van 3:5; en die `daarom’ van 3:12. Hierdie ganse deel is die uitvloeisel van die betekenis van die doop (2:11ev): dood vir die sonde (2:20ev); lewe saam met Christus (3:1ev), met die herhaling in 3:3; `Want (deur die doop) het julle (saam met Christus) gesterwe, en is julle lewe saam met Christus verborge in God;’ die gevolglike einde van ons lewe in die sonde (3:5ev) en die begin van ons volkome toewyding aan God (3:12ev).

Verder lyf die doop ons ook in die kerk as die liggaam van Christus in (1Kor 12:13, wat in die NAV verkeerd vertaal is, en iets soos die volgende behoort te lui: Deur die een Gees het ons immers almal een liggaam geword deur die doop). Die doop het van die begin af die betekenis gehad van ‘n openlike, amptelike inlywing of opname in die gemeenskap van die mense wat Jesus as Messias en Here bely het. Juis om hierdie rede het die doop so ‘n ryk betekenis gehad: toegang tot die volle rykdom van die heil.

In die laaste plek lyf die doop ons ook in die verbond in. `Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort… En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God’ (Gal 3:26-29).

Dat die doop ons in Christus inlyf (v 26), weet ons reeds (Rom 6; Kol 2-3). Hier kom nou ‘n aspek by: As ons (deur die doop) aan Christus behoort, is ons in die Abrahamverbond opgeneem (v 29). Dat dit juis om die verbond met Abraham gaan, kan niemand vreemd vind wat onthou dat juis dít die genadeverbond is (10.1).

Hiermee is die vier insluitende of inkorporatiewe betekenisse van die doop afgehandel: die doop maak ons Christus se eiendom, lyf ons in sy dood en opstanding in, ook in sy liggaam (die kerk) in, en in die Abrahamverbond.

Vergifnis en reiniging van sonde is die tweede reeks betekenisse van die doop. Vergifnis en reiniging van sonde is waarskynlik die oudste betekenisse van die doop. Dit is die betekenisse wat vroeg in Handelinge na vore kom, selfs al in Petrus se preek op die Pinksterdag: `Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes‘(Hand 2:38). Die skuinsgedrukte woorde is uit die OAV geneem omdat dit die Grieks getrouer weergee. Hierdie betekenis kom ook voor in die Geloofsbelydenis van Nicea waarvolgens ons `een doop tot vergifnis van sonde’ bely. Dit het ook direk verband met die doop van Johannes waar die OAV ook getrouer is: Hy het bekering verkondig en `die doop tot vergifnis van die sonde’ (Mark 1:4).

Later lees ons van die bekering van Paulus en die opdrag van Ananias: `Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het’ (Hand 22:16). Ook elders lees ons: `Maar julle het julle sondes laat afwas’ (1Kor 6:11). Daar is verder die verwysing in Efesiërs: `nadat Hy (die kerk) met die water en die woord gereinig het’ (5:26). Al hierdie uitsprake verind die doop met vergifnis en reiniging van sonde.

Die ontvangs van die Gees en nuwe lewe Daar is een duidelike verwysing en ‘n aantal wat minder direk is. Tit 3:5: Hy het ons gered `deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Gees’ (OAV). Die doop word hier duidelik verbind met die weergeboorte, reiniging van sonde, die ontvangs van die Gees en die nuwe lewe. Wat ‘n mondvol! Ons sou hierdie uitspraak ongeveer soos volg kon lees: Die Heilige Gees gee ons die weergeboorte en die nuwe lewe deur die doop.

Daar is egter meer. Die meeste kommentare sien in Joh 3:5 ‘n verwysing na die doop (`As iemand nie uit water en Gees gebore word nie …’), en ook in 1Kor 6:11 en 12:13 is daar ‘n verband tussen die doop en die Gees. Dit is eintlik vanselfsprekend want die Gees is ingesluit in die Naam waarin ons gedoop word.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König