Geloofsvrae: Evolusie

Geloofsvrae: Evolusie – Adrio König

Evolusie

‘n Mens kan minstens drie standpunte onder Christene onderskei: die een is skerp teen die gedagte van evolusie gekant, die tweede meen skepping en evolusie dek twee terreine wat geen verband met mekaar het nie, en die derde meen dat daar maniere is om skepping en evolusie sinvol met mekaar in verband te bring. Voordat ons na hierdie drie standpunte kyk, is ‘n paar onderskeidinge nodig.

As ons praat oor skepping en evolusie, moet ons besef daar is verskillende sieninge oor beide. Daar is nie net een opvatting onder Christene oor wat ons in die Bybel leer oor die skeppingswerk van God nie , en daar is ook nie net een evolusieteorie nie.

Wat evolusie betref, moet ons onthou dat daar eintlik drie groot terreine is wat gedek moet word: die ontstaan van lewelose materie, die ontstaan van lewe, en die ontwikkeling van lewe tot die gevorderde vorme wat ons vandag ken. In die ontwikkeling van lewe moet ‘n mens ook onderskei tussen mikro- en makro-evolusie, dit is tussen kleiner veranderinge binne ‘n spesie, en groot veranderinge veral van een spesie na ‘n ander.

Wat die ontwikkeling van lewe betref, is daar ‘n hele aantal teorieë. Daar is die bekende teorie van Darwin dat alles ontwikkel het deur tallose klein toevallige veranderinge oor baie lang tydperke heen, en dat spesies wat die beste by die omgewing aangepas het, oorleef het (the survival of the fittest). Daar is egter ook die teorie van Lamarck waarvolgens veranderinge nie toevallig is nie maar sinvolle reaksies op behoeftes. Die kameelperde se nekke het oor ‘n lang tydperk geleidelik langer geword omdat hulle hoë blare moes bykom.

Hierdie twee teorieë oor geleidelike veranderinge bied redelike verklarings vir mikro-evolusie, dit is die kleiner veranderinge binne ‘n spesie, maar nie vir makro-evolusie nie. Dit bied veral nie verklarings vir die ontwikkeling van ingewikkelde organe soos die vlerk en die oog nie, organe wat nie geleidelik kan ontwikkel nie, maar van die eerste oomblik af sou moes gewerk het of anders weer sou uitgesterf het.

Verder is daar die saltasieteorieë waarvolgens evolusie sprongsgewys plaasvind, dus in groot eenmalige veranderinge, en nie in klein veranderinge oor ‘n lang tydperk nie. Een vorm van hierdie teorie is dat sekere stowwe uit die ruimte van tyd tot tyd op die aarde neergekom het en groot veranderinge bewerk het. ‘n Algemene indruk wat fossiele skep wat opgegrawe word, is dat spesies baie lank bestaan met slegs geringe veranderinge, en dan skielik verdwyn en deur ander vervang word. Hierdie waarneming bied steun aan die saltasieteorieë en bevraagteken die eerste twee van geleidelike ontwikkeling deur tallose klein veranderinge.

Maar as daar verskillende evolusieteorieë is, is daar ook verskillende oortuigings oor wat die Bybel ons oor die skepping leer. Die algemeenste en eenvoudigste is dat God alle dinge in ses dae net deur die woord uit niks geskep het. So ‘n beskouing sal natuurlik ernstige beswaar hê teen enige teorie oor makro-evolusie. Omdat dit egter so opsigtelik is dat daar fossiele is wat ouer is as die veronderstelde Bybelse ouderdom van die skepping (wat deur sommige op omtrent 6000 jaar gestel word), soek sommige Christene gronde in die Bybel dat die skepping baie ouer is. Die dae van Gen 1 sou dan lang tydperke wees, wat ruimte bied vir die hoë ouderdom van die fossiele. Of daar sou ‘n oorspronklike skepping gewees het wat tussen Gen 1:1 en Gen 1:2 verwoes is, en die fossiele wat miljoene jare oud is, sou dan deel van daardie oorspronklike skepping gewees het. Ná Gen 1:2 sou God dan net met ‘n herskepping of ‘n tweede skepping begin het.

Dit is alles taamlik ongeloofwaardige pogings om ‘n bepaalde interpretasie van die Bybelse skeppingsboodskap met sterk natuurwetenskaplike getuienis te probeer rym. Die groot probleem is dat hierdie interpretasie van die Bybelse skeppingsboodskap baie arm en oorvereenvoudig is en nie naastenby die rykdom gegewens oor die skepping in ag neem wat oor baie dele van die Bybel versprei is nie.

As ons ‘n paar dinge in ag neem wat ons in die Bybel teengekom het, kan dit ons help om ‘n Christelike posisie teenoor die gedagte van evolusie te formuleer. Maar voor ons daarby kom, moet ons eers onthou dat dit nie die taak van teoloë is om oor die geldigheid van bepaalde evolusieteorieë te besluit nie. Natuurwetenskaplikes moet onder mekaar uitmaak watter teorieë die beste verklaring vir bepaalde verskynsels bied. Soos alle ander mense het Christene dan die verantwoordelikheid om algemene oortuigings wat uit die natuurwetenskappe kom, te respekteer. Onder hierdie oortuigings tel die hoë ouderdom van die aarde en van baie fossiele (nie duisende jare nie, maar miljoene der miljoene jare), en die feit dat alles nie op dieselfde stadium ontstaan het nie, maar dat daar oor baie lang tydperke opeenvolging van spesies is. Daar is verder opvallende ooreenkomste tussen alle vorme van lewe en selfs nog meer tussen sekere spesies, soos mense en soogdiere.

Uit die Bybel moet ons onthou dat die groot saak nie is hoe of wanneer alles geskep is nie, maar Wie dit gedoen het. Wat die hoe betref, deel die Bybelskrywers die meeste van sy omgewing se skeppingsvoorstellings. Die Bybelskrywers integreer dié voorstellings in hulle geloof in die Here deur sekere voorstellings aan te pas (soos stryd by die skepping) en ander eenvoudig glad nie te gebruik nie (soos dat die mense uit die gode gebore is).

As ons die Bybelskrywers hierin wil navolg, sou ons die verskillende evolusieteorieë ook op hul aanpasbaarheid by ons geloof in die Here kon toets. Daar is tog skynbaar nie rede waarom die Here nie alles oor lang tydperke heen kon geskep het deur dit geleidelik of sprongsgewys te laat ontwikkel nie. Christene sou dan net huiwering hê oor teorieë wat ontken dat God betrokke was by die skepping. En natuurwetenskaplikes sal natuurlik nie maklik sulke teorieë verdedig nie omdat daar nie op natuurwetenskaplike wyse vasgestel kan word of God by die skepping betrokke was nie.

Daar is natuurlik wel vrae oor God se betrokkenheid by die skepping. Dink maar aan die wreedheid van natuurlike seleksie. Maar daarteenoor moet ‘n mens onthou dat Christene twee stelle begrippe, positiewes en negatiewes, nodig het om oor die skepping te praat. Dink maar aan die voorstellings van stryd en skeiding by die skepping. Dit suggereer dat daar meer as net God by die skepping betrokke was.

Ook die gedagte dat die veranderinge wat tot die evolusie lei, toevallig is en nie planmatig nie, sou teen die betrokkenheid van God geopper kon word. Maar dit sou op ‘n misverstand dui, want wat natuurwetenskaplikes onder `toevallig’ verstaan, beteken maar net dat daar nie bekende oorsake vir sekere veranderinge aangetoon kan word nie. Maar dit sê nie dat God nie onbekende oogmerke daarmee kon gehad het nie.

Daar is dus nie noodwendig ‘n spanning tussen skepping en evolusie in die algemeen nie. Daar kan wel spanning wees tussen sekere evolusieteorieë en sekere interpretasies van die Bybelse gegewens oor die skepping. Maar daar is genoeg ruimte vir onderlinge gesprek en begrip as daar welwillendheid van beide kante is. Daar is in elk geval baie natuurwetenskaplikes wat ook Christene is en bydra tot ‘n verstaan van evolusie wat in terme van die Christelike geloof aanvaarbaar is.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König