Geloofsvrae: God se liefde

Geloofsvrae: God se liefde – Adrio König

God se liefde

God se liefde is so belangrik dat ons nog weer apart aandag daaraan moet gee. Maar dan veronderstel ons wat reeds onder die behandeling van sy wese daaroor gesê is.

Ons het God se wese probeer omskryf as liefde en mag wat verenig is, as mag wat omgee en nadertrek.

Die uitspraak van Johannes dat God liefde is, is onoortreflik, maar dit is vatbaar vir misverstand as dit omgekeer word: Liefde is God, met die gedagte dat God oral is waar ons liefde kry. Alle vorme van liefde is gestaltes van God.

Dit kan egter nie waar wees nie. Allereers is daar soveel betekenisse waarin ons van liefde praat, dat ons dit alles onmoontlik met God kan identifiseer. Selfs die mees onbeheersde en selfsugtige hartstog word liefde genoem. Daarom moet ons mooi kyk wat Johannes onder liefde verstaan as hy God liefde noem. Hy verwys dadelik na dit wat God gedoen het – die grootste daad van opoffering ooit: `Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.’ En asof hy dubbel seker wil maak dat ons besef watter soort liefde ter sprake is, vervolg hy onmiddellik: `Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes’ (1 Joh 4:9,10).

God het dus sélf die inhoud van sy liefde bepaal. Ons leer dit uit dit wat Hy in Jeus gedoen het. Sy liefde is liefde wat gee, wat bereid is om te offer, selfs tot die uiterste toe. In sy liefde ag Hy ander hoër as Homself, en dié ander is ons wat nie net oneindig minder as Hy is nie, maar selfs sy liefde ten diepste onwaardig is.

Dit beteken dat God doen wat Hy sê, dat Hy self doen wat Hy van ons vra: om niks uit selfsug of eersug te doen nie, om in nederigheid ander hoër te ag as onsself, om nie aan ons eie belange te dink nie maar aan dié van ander. As God dit alles van ons vra, moet ons onthou dat Hy dit alles self alreeds op ‘n onvergelyklike wyse gedoen het. Trouens ons kan uit sy liefdesoffer in Jesus aflei dat die vertaling van Fil 2:4 verkeerd is. `Nie net ons eie belange nie … maar ook die van ander’ is natuurlik glad nie van toepassing op Jesus se lewe nie. Hy het juis nie na sy eie belange omgesien nie maar juis na ons s’n. Daarom moet ons eerder vertaal met iets soos: `Julle moenie elkeen aan sy eie belange dink nie, maar juis aan dié van ander.’ Dit is trouens ook wat Paulus ons elders beveel (1 Kor 10:24,33).

Ons moet altyd versigtig wees om nie die Bybel se eise by ons algemene ordentlikheid te probeer aanpas nie. As God minder gedoen het as wat Hy vra, kon ons nog ons belange en dié van ander mooi probeer uitballanseer het. Maar deur vir ons duidelik te wys hoe Hy ander se belange bo syne stel, laat Hy ons geen keuse nie. Ons sal by die bespreking van die mens as beeld van God sien dat Hy juis wil hê dat ons soos Hy moet leef, en as ons na ons vereniging met Christus kyk, sal ons sien dat dit wat eintlik onmoontlik is vir ons, moontlik gemaak word deur ons deelname aan Christus se lewe.

Dit beteken dat ons versigtig moet wees met beelde wat ons vir sy liefde gebruik. Selfs die pragtige analogieë wat die Bybelskrywers gebruik, skiet tekort. Hulle gebruik veral vier analogieë: die liefde van ‘n vader en ‘n moeder, van ‘n eggenoot en van ‘n vriend. En al vier hierdie vergelykings het besondere waarde. Wat beteken dié soorte liefde nie in ons lewe nie! Maar selfs hierdie beelde skiet te kort. Want hoe edel die liefde vir ‘n vriend ookal is, is dit nog nie die liefde vir jou vyand nie (Mat 5:43ev). En dit is presies wat God in Jesus doen! En hoe aangrypend die liefde van ‘n moeder vir haar kindjie ookal is, is daar altyd nog weer moeders wat hul kinders verwaarloos. `Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vegeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer‘ (Jes 49:15-16). Sy liefde is altyd meer as enige beeld wat ons kan uitdink.

Een van die wesenskenmerke van God se liefde is dat dit liefde-na-onder is, liefde vir onwaardiges. In sy eie gemeenskapslewe ken God dit nie. Vader, Seun en Gees is gelyk. Elkeen van hulle is die liefde van die ander werd. Daarom is hulle liefde deur die voorwerp van hul liefde gemotiveerd: die Vader het die Seun lief omdat die Seun so wonderlik is, en die Seun het die Vader lief omdat die Vader so onvergelyklik is.

Maar as God skep, kom daar ‘n nuwe situasie. Allereers is die skepping nie Goddelik of gelyk aan God nie. Deur ons lief te hê, het Hy dus iets lief wat minder is as Hy. Dit is alreeds liefde-na-onder. Maar ‘n mens sou nog kon argumenteer dat ons sy handewerk is, en dat daar geen rede is waarom Hy nie trots sal wees op wat Hy gemaak het en dit sal liefhê nie. Maar ons is nie net skepsels nie, ons is ook sondaars.

Dit bring werklik ‘n nuwe situasie. Vir die eerste keer staan God voor iemand wat nie sy liefde werd is nie, wat sy liefde verwerp, wat nie sy gesag aanvaar nie maar Hom van sy posisie wil beroof. En vir die eerste keer wys God hoe diep sy liefde werklik is, dat dit óók die onwaardiges insluit, die opstandelinge, die rebelle. Hier is liefde wat nie deur die voorwerp van die liefde gemotiveer word nie. Hy het ons nie lief oor wat ons is nie. Hy motiveer self sy liefde: Hy het ons lief omdat Hy so wonderlik is.

Hieruit weet ons dat God `waardeblind’ is as Hy liefhet, of laat ons liewer sê dat sy liefde waardeskenkend is en daarom nie waarde in ons hoef te soek nie. Hy het ons nie lief omdat ons dit werd is nie, ons kry juis waarde omdat Hy ons liefhet. En dit bring soveel rus in ‘n mens se gemoed: Hy sal my nie net liefhê solank ek alles mooi en reg doen nie, Hy sal my ook liefhê as ek verkeerd doen, as ek ontrou aan Hom is, en Hy sal my selfs op allerlei wyses tot besinning probeer roep sodat ek weer sy liefde kan geniet.

Want dít moet ons onthou: al het God ons nie lief omdat Hy ons nodig het of omdat ons soveel waarde vir Hom het nie, eis Hy wel wederliefde van ons. Liefde wil sy doel bereik: gemeenskap. En God wil sy doel met ons bereik: dat ons in sy vreugde sal deel. Daarom kan Hy dit nooit aanvaar dat ons nie sy liefde met wederliefde beantwoord nie. Trouens Hy word in die OAV nog die jaloerse God genoem. Dit is in die NAV verander na: die God wat onverdeelde trou eis (Eks 20:5). Dit beteken dat God nie bereid is om ons liefde met iemand anders te deel nie. Sy verhouding met ons word nie verniet vergelyk met ‘n huweliksverhouding waarin daar nie vir ‘n derde persoon plek is nie. En God sal ver gaan in sy oorredende mag om ons daarvan te oortuig. Die ballingskap met sy vernietigende gevolge vir Israel is die sterkste voorbeeld hiervan in die geskiedenis.

God se genade en barmhartigheid is vorme wat sy liefde aanneem onder besondere omstandighede. Hy is ons genadig omdat ons sondaars is, en Hy is barmhartig oor ons as ons in nood is.

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König