Geloofsvrae: Godsdiensvryheid

Geloofsvrae: Godsdiensvryheid – Adrio König

Godsdiensvryheid en godsdiensgelykheid

1  Godsdiensvryheid

Godsdiensvryheid is ‘n veel makliker saak as godsdiensgelykheid. Min Christene sal veel probleme hê met die siening dat mense vry behoort te wees om die godsdiens van hul keuse te beoefen, trouens ook min mense van ander godsdienstige oortuigings – behalwe skynbaar Moslems in situasies waar hulle in beheer is.

Natuurlik moet ‘n mens dadelik nader kwalifiseer. Die staat behoort vryheid van godsdiens te handhaaf sodat mense op geen manier druk van die staat sal ervaar oor die godsdiens wat hulle beoefen nie. Dit beteken egter nie dat Christene geen belang gaan hê by die godsdiens wat ander mense beoefen nie. Christene behoort alle ander mense uit te nooi en te probeer oorreed om Jesus as Verlosser te aanvaar en na te volg. En tegelyk kan Christene dan nie ander godsdienste kwalik neem as hulle dieselfde doen nie.

Vryheid van godsdiens is ‘n ou en gewaardeerde Protestantse erfenis. Ons weet van godsdiensvervolgings in die geskiedenis van die Christendom. En ons weet ook dat dit geen sin maak om mense te probeer verplig om Christene te word nie. Dit is benede die waarde en betekenis van die Christelike godsdiens om mense op enige manier teen hul wil Christene te probeer maak. Geloof, liefde en hoop is nie afdwingbaar nie.

Wat wel waar is, is dat daar in ‘n ander sin nie godsdiensvryheid bestaan nie: in terme van die Christelike geloof is mense nie voor God vry om te besluit watter godsdiens hulle wil beoefen nie. Hy is die God wat alle mense oproep om Hom te dien deur in Jesus te glo. Hy doen dit nie omdat Hy nie respek het vir hulle vryheid nie – Hy wil slegs in vryheid gedien word – maar omdat Hy weet hulle is nie vry nie en daarom dien hulle Hom nie. Trouens Hy bied selfs aan om hulle vry te maak sodat hulle Hom kan dien, want mense is nie van nature vry nie, maar slawe van die sonde. `Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees ‘ (Joh 8:36).

En daar is nog ‘n sin waarin ons nie van godsdiensvryheid kan praat nie: Christene is nie vry om te besluit of hulle alle ander mense wil uitnooi om vir Jesus Christus te kies nie. `Die liefde van Christus dwing ons …’ (2Kor 5:14).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König