Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse Optrede (4)

Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse Optrede (4) – Adrio König

Die duiwel en die bose magte

Die apokaliptiese (`bonatuurlike’) agtergrond van Jesus se prediking en optrede maak ook vir ons duidelik waarom die duiwel in die NT in ‘n nuwe gestalte optree. Ons vergeet soms dat daar tussen die OT en die NT ‘n baie duidelike ontwikkeling was in die siening van die duiwel.

In ons poging om die vreeslike ellende op aarde te probeer hanteer, maak baie van ons graag gebruik van die begrip `toelating’. Die Here laat die duiwel toe om sekere vreeslike dinge op aarde te doen. Die vreeslike dinge is dan die duiwel se skuld, maar die Here `bly in beheer.’ Die Bybelse voorbeeld wat dan skynbaar soos ‘n handskoen pas, is Job. Die Here laat die Satan toe om Job te teister, maar net tot op ‘n sekere punt (Job 1:12; 2:6).

Maar ons besef nie dat dié voorbeeld glad nie meer in die tyd van Jesus toepaslik is nie. Die apokaliptiek sien die Satan en sy bose magte in heeltemal ‘n ander lig. In die OT is die Satan ‘n redelik onskuldige figuur wat maar ‘n paar keer voorkom (Job 1-2; 1 Kron 21:1; Sag 3:1ev). Hy sou met reg die openbare aanklaer genoem kon word. Hy hou die mense op aarde dop, en as hy iets verkeerds vermoed, gaan vertel hy dit vir die Here. Hulle bespreek dan die saak, neem ‘n besluit, en Satan kom voer dit uit (Job 1 en 2). Satan is dan ook ‘n gerespekteerde figuur as een van `die seuns van God’ of hemelwesens.

Daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen hierdie figuur en die duiwel en die bose magte wat die lewens van mense vernietig in die tyd van Jesus. Stel jou ‘n oomblik voor dat Jesus eers met die bose magte beraadslaag oor die lewe van die besetene van Gerasa!? Inteendeel! Hier het ons ‘n absolute botsing van twee magte wat radikaal teenoor mekaar staan, ‘n nuwe situasie wat ná die ballingskap ontwikkel het. Daarom kan daar ná Jesus nie meer sprake wees van Job se situasie van onderhandeling tussen God en die duiwel of van God wat die duiwel toelaat nie. Dit sou net so goed wees as om op grond van Eks 4:24-26 vandag nog van Christene te eis om hulle te laat besny.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König