Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse optrede (5)

Geloofsvrae: Jesus Christus: Aardse optrede (5) – Adrio König

Selflose diens

‘n Ander aangrypende faset van Jesus se aardse optrede is sy nederige diens.

Die eis van selflose diens wat Jesus aan sy volgelinge stel, is baie hoog. Daar is ‘n sin waarin Hy byna deurgaans die OT radikaliseer. Dele van die bergrede is goeie voorbeelde. Hy eis dat ons getrouheid aan die wet meer inhou as dié van die Fariseërs. Dit beteken dat ons nie net die agste gebod oortree as ons letterlik iemand vermoor nie. Ons kan iemand met ons oë of met ons woorde vermoor. Ons oortree nie net die sewende gebod deur fisiese onsedelikheid nie, maar deur met ons oë en in ons gedagtes onrein te wees. In plaas van die OT se beginsel van ‘n oog vir ‘n oog, vra Jesus dat ons ook die ander wang sal draai. In plaas van een kilometer vernederende diens, vra Hy twee. In plaas van om net jou `naaste’ (wat in die OT jou volksgenoot of geloofsgenoot beteken het) lief te hê, vra Hy dat ons ook ons vyande moet liefhê (Mat 5:17-48).

Dit is baie gevra! Is dit nie ‘n bietjie hoog opgegee nie? Weet Hy wat dit kos?

As Hy dit nie self gedoen het nie, kon ons sulke vrae gevra het. Maar omdat Hy dit alles eers self gedoen het, en wel op ‘n baie radikaler manier as wat ons ooit kan hoop om dit te doen, het Hy ons alle reg ontneem om sulke vrae te vra. Ons het ook nie die reg om (in nederigheid!) te bely dat ons nie uit onsself daartoe in staat is nie, omdat Hy ons ou sondige lewe deur die doop van ons weggeneem het (79.2), en ons deel gegee het aan sy nuwe lewe sodat Hy nou in en deur ons leef as ons op Hom vertrou (Gal 2:19ev).

Selflose liefdesdiens sien ons in die lewe van Jesus Christus. Hy wat as die Here volkome aanspraak op ons diens kon maak, het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien, en dan nie deur hier en daar te help nie, maar deur sy lewe te gee as ‘n losprys vir die wat dit nie verdien of werd is nie (Mark 10:45).

Dit is dan ook onvanpas om Jesus se gebod van naasteliefde uit te lê asof dit twee gebooie is (39.5). Jy moet jou naaste liefhê soos jouself beteken nie jy moet jouself liefhê en dan jou naaste ook só liefhê nie. Dít leer ons nie uit Jesus se voorbeeld nie. Daarom behoort Fil 2:4 ook nie te lees nie: `Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.’ In die lewe van Jesus, wat ook hier as voorbeeld aan ons voorgehou word (Fil 2:5ev), sien ons iets anders, iets veel radikaler. Hy het nie eers Homself lief en dan ook ander nie, Hy word nie eers self bedien en dan bedien Hy ook ander nie, Hy dink nie maar net naas sy eie belange darem ook aan ander s’n nie.

Inteendeel. Hy het nie Homself nie, maar ander lief; Hy kom nie om gedien te word nie, maar om self te dien; Hy dink nie aan sy eie belange nie, maar juis aan die van ander. En hierin volg Paulus Hom na: `Ek soek nie my eie belange nie maar dié van ander …’ en vervolg uitdruklik: `Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg’ (1Kor 10:33ev).

Jesus se wonderwerke en sy nederige diens is twee van die belangrikste fasette van sy aardse optrede. In sy wonderwerke tree Hy met mag op teen die Bose, en in sy diens tree Hy met liefde op onder die mense in nood. Dit herinner ons aan God wat in die OT met mag teen sy vyande optree maar sy volk met oorredende liefde probeer wen (10.3, 11 en 16).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König