Geloofsvrae: Jesus Christus se kruisiging: Die betekenis van die kruis

Geloofsvrae: Jesus Christus se kruisiging: Die betekenis van die kruis – Adrio König

Jesus Christus se kruisiging

1 Die betekenis van die kruis

In die Westerse Christendom staan die kruis van Christus in die middelpunt. `Jesus het vir ons sondes gesterf’ word sondermeer as die hart van die evangelie beskou, al sal ander fasette ook aandag kry. Die Skrif is natuurlik self ook vol van die betekenis van die kruis. Deur die kruis het Christus versoening bewerk (Rom 5:10; Ef 2:16). Aan die kruis het Hy Homself gegee vir ons sondes, het Hy die skuldbewys teen ons tot niet gemaak, en ons oortredinge vergewe (Gal 1:4; Ef 1:7; Kol 2:14). Aan die kruis het Hy die vyandskap beëindig, dit beteken ons vyandskap teen God en onder mekaar (Ef 2:13, 15-16, 19ev), en ons in die regte verhouding met God gebring (Rom 3:14). Deur sy kruiswerk het Hy ons in sy genadeverbond met Abraham opgeneem (Gal 3) en ons medeburgers (saam met Israel) van sy koninkryk en lede van sy huisgesin gemaak (Ef 2:19) sodat ons as heidenchristene nou saam met Israel erfgename en deelgenote aan sy beloftes is (Ef 3:6 OAV).

Wat ‘n rykdom wat ons deur die kruisdood van Christus ontvang! Wat dikwels uit die oog verloor word, is die nadruk daarop dat die vyandskap tussen mense ook deur die kruis vernietig is, sodat gelowige Jode en heidene nou saam in die heil deel en verenig is in die een liggaam van Christus, die kerk. Die OAV bring dit pragtig uit in die nadruk op die `mede-‘ in Ef 3:6. Dit beteken dat die eenheid van die kerk óók ‘n kruisvrug is en ‘n wesenlike deel van die versoening. In werlikheid word die versoening sigbaar in die eenheid tussen die verskeidenheid kinders van God.

Dit is sondermeer duidelik dat Jesus aan die kruis die einddoel van God met ons bereik het: Hy het vrede bewerk tussen ons en Hom, en vrede tussen die mense, en Hy het ons ingesluit in God se koninkryk en huisgesin. Wat anders is dit as die einddoel van God met ons? Maar terwyl Hy dit aan die kruis vir ons bewerk het, is ons nog nie aktief daarby betrek nie, en maak ons van ons kant nog asof ons sy vyande is (Rom 5:8-10). Daarom bereik Hy op ‘n tweede manier hierdie doel van God, hierdie keer in ons deur ons aktief te betrek sodat ons daadwerklik begin om in vrede met God en ons naaste te leef. Dit is sy doel met alle mense, en dit doen Hy nou, in die tussentyd, deur die Heilige Gees. Dit (die sending) word ook deur baie Christene gesien as die sin van die tyd tussen sy eerste koms en sy wederkoms.

In die loop van die kerkgeskiedenis het daar ‘n hele aantal interpretasies van die kruisgebeure na vore gekom. Minstens drie van hulle help ons vandag nog om hierdie wonderlike ryk gebeure dieper en ryker in ons eie lewe te ervaar: die siening dat Christus deur sy kruisdood God versoen (verander) het; dat Hy die mens versoen (verander) het; en dat Hy die duiwel `versoen’ (verander, oorwin) het. Hierdie sieninge word meestal teenoor mekaar gestel (óf die een, óf die ander), maar met ‘n bietjie welwillendheid en ruimheid kan ons hulle almal ernstig neem en in elkeen iets van die evangelie herken.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König