Geloofsvrae: Menseregte: Weerstand teen menseregte

Geloofsvrae: Menseregte: Weerstand teen menseregte – Adrio König

Menseregte: Weerstand teen menseregte

In Suid-Afrika het die weerstand teen menseregte veral gekom van sekere witmense wat al die jare omtrent alle menseregte geniet het maar duidelik gehuiwer het by die gedagte dat alle mense in dié regte moet deel. Daar is ‘n aantal argumente teen menseregte opgebou soos dat dit onbybels is, dat onrealistiese hoë verwagtings daaraan gestel word, dat dit die sondige mens net aanspoor tot meer sonde, dat dit die staat se gesag beperk om wet en orde te handhaaf en persoonlike veiligheid te verseker, dat alle regte reeds in die tien gebooie opgeneem is en dat ons net ons naaste moet liefhê om alle regte te verseker.

Dat sekere mense te hoë verwagtings aan menseregte stel, kan sekerlik waar wees, maar dit neem tog nie die beperkte waarde wat dit wel het, weg nie. Dat die mens ‘n sondaar is en net in sy of haar sonde aangemoedig word, sou seker ook in sommige gevalle waar wees, maar dan moet ‘n mens onthou dat die mense wat in magsposisies is, ook sondaars is en beperk moet word in die mag wat hulle oor ander mense se lewens het. Die gedagte van menseregte het juis oorspronklik in Engeland ontstaan in die stryd van die burgers teen die mag van die staat.

Verder het mense nog altyd bepaalde regte selfs al is hulle sondaars. Ook ‘n sondaar wat ‘n vader is, het die reg op werk en op ‘n behoorlike loon om vir sy gesin te sorg.

Die argument dat menseregte `in sonde ontvang en gebore is’ omdat dit ‘n liberale agtergrond het, is ‘n beswaarlike argument. Die Here het gesorg dat die lewe op aarde sinvol kan voortgaan ondanks die feit dat ons almal sondaars is en daar selfs vreeslike misdadigers ook is. Selfs wette wat deur sondige regeerders gemaak word, kan goed wees. Selfs uit selfsug word soms goeie wette gemaak, wette om eiendom en persoonlike en landsveiligheid te beskerm, om behoorlike lewensomstandighede te verseker – almal wette wat op sekere menseregte gebou is.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König