Geloofsvrae: Versoening: Om die Bose te oorwin

Geloofsvrae: Versoening: Om die Bose te oorwin – Adrio König

Versoening: om die Bose te oorwin

Hierdie siening van die versoening is verreweg die oudste van die drie, maar ook die een wat ongelukkig die meeste verwaarloos is. Dit is ontwikkel deur Irenaeus in die 2e eeu. Hy het geleer dat Christus se versoeningswerk beteken dat Hy die bose magte oorwin. Hy het daar bygevoeg dat Hy ook ons skuld versoen.

 

Irenaeus probeer antwoord op die vraag waarom die ewige Seun van God na die wêreld gekom het. Antwoord: om die sonde te oorwin, die dood te vernietig, en lewe aan die mense te gee. Miskien kan dit ons ‘n effens beter begrip gee van die manier waarop Irenaeus en die vroeë Christene gedink het as ons in ‘n bietjie meer besonderhede na hulle luister.

 

Die lewe is vir hulle baie belangrik, en die dood die groot vyand – en nie die sonde soos by ons nie. Deur die slang het die mense die lewe verloor. As God hulle eenvoudig aan die dood oorgegee het, sou Hy eintlik die neerlaag gely het en die slang die oorwinnaar gewees het. Maar Hy is onoorwinlik. Daarom het Hy deur die tweede Mens die sterk man oorwin en die lewe aan die mense teruggegee. Adam het deur sy ongehoorsaamheid die duiwel se eiendom geword en onder sy mag gekom. Maar nou het God deur Christus die duiwel oorweldig en die mense uit sy mag bevry. Dit is die soort taal en begrippe wat Irenaeus gebruik het. Die werk van Christus is dus allereers sy oorwinning oor die bose magte: die sonde, die dood, en die duiwel.

As ons met hierdie teorie na die NT gaan, is dit opvallend hoeveel aandag die Sinoptiese Evangelies gee aan Jesus se bestryding van die bose magte. Dink verder aan sekere kernuitsprake oor sy werk (Hand 10:38; 1 Joh 3:8). Die NT het egter veel meer. Nie net tydens sy lewe bevry Hy mense van bose magte nie, maar ook deur sy kruis en opstanding breek Hy die mag van die bose, in besonder van ons aartsvyand die dood (1 Kor 15:24ev; Kol 2:15; Rom 6:1-17).

Dit is opvallend dat Irenaeus naas die oorwinning oor die bose magte, ook praat van ons skuld wat deur Christus by God versoen is. ‘n Mens sou kon vra waarom daar skuld is wat versoen moet word as ons onder die mag van die Bose was. Maar as ons terugdink aan Adam, was dit inderdaad sy skuld dat hy onder die mag van die Bose gekom het. Hy en Eva is nie teen hulle wil deur die bose mag oorrompel nie, hulle het aan ‘n versoeking toegegee.

Met ons is dit nie anders nie. Ons is nie eenvoudig tragiese slagoffers van die Bose nie. Ons het skuld daaraan dat ons onder sy mag is, want Christus kan ons uit sy mag verlos, en dit is ons skuld as Hy dit nog nie gedoen het nie.

Dit is ‘n belangrike perspektief. Terwyl dit baie gevaarlik is om van die mag van die sonde te vergeet, is dit ewe gevaarlik om onsself te verontskuldig asof ons willoos aan sy mag onderwerp is en geen ander keuse het as om te sondig nie.

Ook hierdie perspektief op die betekenis van die kruis van Christus het dus besondere waarde. In die gangbare teologiese nadenke word die betekenis van Jesus se wonderwerke wat so ‘n oorheersende rol in sy aardse optrede speel, selde doelbewus beklemtoon. In sy hele bediening is Hy besig om die mag van die bose te breek: in sy aardse optrede, sy kruis en sy opstanding.

Verder help dit ons om rekening te hou met die mag van die sonde en die duiwel. Sonde is nie net ‘n morele saak (Abelardus) of ‘n aantasting van God se eer nie (Anselmus). Sonde is ook ‘n bose mag wat mense in sy greep het sodat ons nie net vergifnis en verandering nodig het nie, maar ook verlossing, bevryding. Daarvan is daar dikwels sprake in die evangelie (Joh 8:34ev; Rom 6).

Daar is minstens twee probleme wat kortliks ons aandag verdien. Die eerste is die vraag of ons regtig vandag nog die bestaan van bose magte kan aanvaar. Is dit nie deel van ‘n wêreldbeeld wat eenvoudig verby is nie? Is daar regtig sulke goed iewers?

Allereers sal ‘n mens moet besef dat die evangelie van Jesus baie van sy betekenis verloor as ‘n mens aanvaar dat daar nie regtig so iets is nie. Die hele faset van bevryding van bose magte waaraan die evangeliste soveel aandag gee, is dan eintlik nie sinvol nie. Maar tweedens is die vraag of ons nie juis nou, in hierdie tydsgewrig, rede het om te aanvaar dat daar magte is wat bomenslik is, wat mense, selfs massas mense, selfs goeie mense, in hul mag kry en meer en erger dinge laat doen as wat hierdie mense ooit onder normale omstandighede sou gedoen het nie? Nazisme, Kommunisme, apartheid.

Die tweede probleem wat uit hierdie siening van versoening as bevryding kan voortvloei, is die nadruk op stryd en oorwinning. Dit is onmiskenbaar deel van die Bybelboodskap. Dit kom telkens in ons nadenke oor die evangelie na vore: skeppingsleer, voorsienigheidsleer, die apokaliptiek, en weer hier. Die vraag is net hoe ‘n mens stryd en oorwinnig moet verstaan. In God se verhouding met chaosmonsters en bose magte word dit aggressief-vernietigend verstaan. God verslaan en vernietig die chaosmonsters, en Jesus oorwin die bose magte en sal hulle uiteindelik vernietig (1 Kor 15:24ev). Maar wanneer dit in sy verhouding met mense ter sprake kom, gaan dit om ‘n ander soort stryd. Dan stry God om die hart van sy volk, en oorwinning word dan om hul liefde te wen. Trouens in Jesus Christus oorwin God sy vyande nie deur hulle te vernietig nie, maar deur hulle sy vriende te maak (2 Kor 5:18-19 TEV) – en watter effektiewer oorwinning is daar as juis dit?

Toegepas op ons intermenslike verhoudings, maak dit hierdie verhoudings sagter en mensliker. Almal wat van my verskil is nie noodwendig gevaarlik nie. Ons hoef in politieke verhoudings nie so gou met geweld te dreig, en in godsdienstige verhoudings nie altyd van die ander oortuiging ‘n karikatuur te maak nie. Ons moet onthou dat een van die bose magte wat Christus aan die kruis oorwin het, juis die vyandskap tussen mense is (Ef 2:16) – wat allereers verwys na godsdienstige verskille. Ons kan verskille en ander standpunte ook verrykend ervaar – ‘n oefening wat ons juis op die drie versoeningsbeskouings toegepas het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König