Geloofsvrae: Versoening: Om God tevrede te stel

Geloofsvrae: Versoening: Om God tevrede te stel – Adrio König

Versoening: om God tevrede te stel

Hierdie teorie is in die 11e eeu deur Anselmus geformuleer. Dit is tot vandag nog die bekendste interpretasie van Jesus se kruisdood. Deur sy kruisdood versoen Christus God die Vader deur sy eer te herstel, aan sy reg te voldoen, en só sy toorn teen ons te stil.

Anselmus het op hierdie wyse die erns van ons sonde beklemtoon. Ons as mense mag dalk nie so erg oor ons sonde voel nie, maar in werklikheid het ons daarmee God se eer aangetas, en daar is niks vreeslikers wat kan gebeur nie. Daarom het God se toorn ontvlam, en sy toorn kon net gestil kan word as die hoogs moontlike prys as vergoeding aan Hom betaal word.

Mense het egter niks om mee te betaal nie, want al ons dade is sondig, en al sou ons ook werklike goeie dade doen, is ons dit in elk geval aan God verskuldig, sodat ons niks ekstra het om mee te betaal nie. Trouens niemand behalwe God self sou ooit iets ekstra kon hê om mee te betaal nie omdat alle wesens in elk geval altyd volle gehoorsaamheid aan God verskuldig is.

Verder kan ‘n ander wese as ‘n mens ook nie betaal nie omdat dit mense is wat sonde doen. Dit moet dus ‘n mens wees wat betaal. Maar geen mens kan nie, net God kan.

Die konklusie lyk voor die hand: net ‘n wese wat sowel God as mens is, sal kan betaal. Maar waar kry ons so ‘n wese? Ons sal nie een kan voorsien ie, maar in sy genade het God vir ons so iemand gegee: Jesus Christus. Hy is tegelyk die ware God en ‘n ware, regverdige mens (HK Sondag 4).

Christus kon nie deur sy lewe betaal nie, want al was Hy in alles volkome gehoorsaam aan God, is elke wese in elk geval volle gehoorsaamheid aan God verskuldig. Hy kon dus nie deur sy lewe en dade iets ekstra verdien waarmee Hy ons skuld by God kon betaal nie. Maar Hy kon deur sy sterwe, want juis dit was Hy nie aan God verskuldig nie: om sy lewe vrywillig op te offer. Daarmee delg Hy dan ons vreeslike skuld by God uit.

Ons ken hierdie teorie goed. In een of ander vorm hoor ons dit dikwels: Christus het aan die kruis vir ons sonde betaal, of vir ons sonde geboet, of ons skuld betaal.

Hierdie teorie se groot betekenis lê daarin dat dit die erns van die sonde bekemtoon. Ons dink te ligtelik oor sonde. Dikwels bely ons sommer ons sonde in so ‘n gewoontesinnetjie aan die einde van ons tafelgebed: `En vergeef ons ons sonde, om Jesus wil. Amen.’ God dink anders daaroor. Hy haat ons sonde. Dit wek sy toorn. Hy straf sonde. In die OT het ons aangrypende verhale van God se straf oor Israel. Die ballingskap! Daarom is die NT duidelik daaroor dat Jesus ons van die toorn van God verlos (1 Tes 1:10; ook Rom 4:15; 5:9; Ef 2:3; Kol 3:6 waar `straf’ vir toorn gebruik word).

Ons moet dus aanvaar dat daar ‘n soort `dubbelheid’ in God is: liefde én toorn. Hy is toornig oor ons weens ons sonde, maar tegelyk is Hy so lief vir ons dat Hy so ver gaan as om sy eie Seun te gee om ons sonde te versoen. Hierdie teorie help ons dus om iets van die betekenis van die kruisdood van Christus te verstaan.

Andersyds is daar ook sekere probleme met Anselmus se teorie. Anselmus se eis dat juis ‘n mens die offer moes bring, klop nie goed met Bybelse gegewens waarvolgens dit juis God is wat die offer bring nie (Joh 3:16; 2 Kor 5:18ev). Verder werk hy baie eensydig met regsterme i.p.v. die Bybel se verbondsterme. Hy praat van straf, boete, genoegdoening, ‘n regsorde, ‘n prys wat betaal moet word, terwyl ons in die Bybel eerder hoor van die liefde en die toorn van God, van die offer van sy Seun, van berou, en van vergifnis van sonde. Anselmus dink in terme van ‘n formele, wetlike verhouding, terwyl ons in die Bybel eerder ‘n persoonlike verbondsverhouding van liefde, toorn en vergifnis het.

Al sou ons egter in terme van hierdie verbondsverhouding dink, staan ons nog steeds saam met Anselmus voor probleme. Waarom moes Christus sy lewe as ‘n offer gee sodat God ons kan vergewe? Daar is in die loop van die geskiedenis ‘n aantal antwoorde aangebied, maar ek het nog nie op ‘n oortuigende een afgekom nie. Dit lyk my nie daar is ‘n goeie antwoord op dié vraag nie. Ons moet vergewe sonder om eers te eis dat ons eer hetstel moet word. Die vader van die verlore seun doen dit ook. Maar Christus moet sterwe sodat God kan vergewe? Waarom kan God nie vergewe soos Hy van ons vereis en soos die vader van die verlore seun nie?

As daar nie ‘n goeie rede daarvoor te vinde is nie, aanvaar ons dit eenvoudig omdat dit só in die Bybel aangebied word. Dit is trouens ook nie ‘n klein bykomstigheid nie. Dit is ‘n sentrale waarheid in die evangelie. Om dit eenvoudig te aanvaar sonder om dit te verstaan, is ‘n goeie oefening in geloof-sonder-om-te-sien. En dit is ‘n wesenlike faset van geloof.

Wat ons wel weet, en wat God so wonderlik maak, is die feit dat terwyl Hy die hoogste offer eis en ons dit nie kan voorsien nie, Hy dit self voorsien, nie ten koste van iemand anders nie, maar ten koste van Homself. Selfs in die geval van ‘n menslike vader en sy seun sou ‘n mens ‘n sterk argument daarvoor kon uitmaak dat dit vir die vader veel erger is om sy seun in die dood prys te gee as om self te sterf. En dit is presies wat die Vader doen.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König