Geloofsvrae: Voorsienigheid: Die Probleem

Geloofsvrae: Voorsienigheid: Die Probleem – Adrio König

VOORSIENIGHEID: Die Probleem

Die leer van die voorsienigheid van God is enersyds seker die algemeenste en populêrste oortuiging onder Christene, en andersyds een van die mees problematiese. Dit is dikwels die laaste oorblysel van die Christelike geloof by mense wat omtrent totaal gesekulariseer is. Hoe bekend klink die volgende uitdrukkings nie: Wat moet gebeur, sal gebeur; elke mens het sy tyd; niks gebeur by toeval nie. Mense wat regtig deel van die Christelike gemeenskap is, betrek alles net duideliker op God: God beskik alles; niks gaan by God verby nie; God weet die beste, Hy maak nooit ‘n fout nie.

Andersyds is hierdie voorsienigheidsgeloof ‘n veld wat met dorings besaai is. Die een groot probleem is die vreeslik baie sinlose lyding. Die vraag lui gewoonlik iets soos: Hoekom? Hoe kon God dit toelaat? Die vraag wen aan dringendheid as ‘n mens aan die groot wêreldrampe dink: vreeslike aardbewings, natuurrampe, menslike wreedheid (Auschwitz, apartheid). Maar dit is op ‘n persoonlike vlak net so smartlik selfs al staan ‘n mens net voor een enkele mishandelde kindjie: Waar is God?

Wat nogal vreemd is in die tradisionele voorsienigheidsleer is die feit dat dit nie geskryf word in die lig van die dringende en pynlike vrae waarna ons nou net verwys het nie. Dit word meestal eenvoudig as deel van die leer oor God behandel, en dus voordat die leer oor die mens en die sonde aan die beurt gekom het. Dit beteken dat ‘n mens net die een pool van die verbondsverhouding in die oog het, God, en nie die eintlike probleem, die mense en hul sonde nie. Om net in die lig van die Godsleer oor God se betrokkenheid by die wêreld te skryf, is byna om soos ‘n volstruis jou kop in die sand te steek en te dink niemand sien jou nie. ‘n Voorsienigheidsleer wat nie die vreeslike sonde en ellende in die wêreld vierkantig in die oë kyk nie, is ‘n werklikheidsvreemde leer wat nooit kan hoop om geloofwaardig te wees nie.

Selfs wat in die natuur gebeur, kan ons nog redelik maklik hanteer, maar wat in die geskiedenis gebeur, wat tussen mense en deur mense se toedoen gebeur, skep oneindige probleme. Dit is juis dan wanneer die `waaroms’ opklink. Dit is waarom die voorsienigheidsleer in hierdie boek eers ná die hoofstukke oor die mens en die sonde behandel word. Dit is eers in die lig van die sinloosheid van die sonde en die vreeslike lyding wat mense mekaar aandoen, dat die vraag na God se betrokkenheid by die wêreld gevra moet word.

Wat is die probleem presies? As ons geglo het in ‘n willekeurige God met buie en grille, ‘n God wat met die verkeerde voet uit die bed kan opstaan, sou ons minder probleme gehad het. Hy sou te eniger tyd enigiets kon doen of toelaat. Maar ons glo in die troue Verbondsgod, die magtige God van liefde. Hoe moet ons dan die vreeslik baie wreedhede en sinlose lyding verstaan? As God almagtig is, kan Hy dit mos verhinder. En as Hy liefde is, wil Hy mos?

Hoe moet ons die vreeslike en vreeslik baie ellende op aarde verstaan in die lig van ons geloof in die magtige God van liefde?

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König