Geloofsvrae: Voorsienigheid: ’n Paar tradisionele antwoorde

Geloofsvrae: Voorsienigheid: ’n Paar tradisionele antwoorde – Adrio König

Voorsienigheid: ‘n Paar tradisionele antwoorde

Die Christelike geloof het in die loop van die geskiedenis ‘n hele aantal antwoorde op hierdie knellende vrae probeer gee.

As ‘n mens aan uiterstes dink, is daar eerstens die antwoord dat God alles vooraf beskik, dat elke ding wat gebeur, deur Hom vooraf bepaal is om presies net só en nie anders nie te gebeur. Wie nie hierdie standpunt aanvaar nie, word dan daarvan beskuldig dat hulle `in die noodlot glo’ of van God ‘n magtelose toeskouer maak terwyl die mense bepaal wat op aarde gebeur.

Teenoor die albeskikking van God is daar die ander uiterste dat God wel alles geskep het, maar dat Hy Hom teruggetrek het en dat alles nou volgens bepaalde wetmatighede verloop (die deisme). God is dus nie direk betrokke by wat op aarde gebeur nie. Min Christene aanvaar egter hierdie standpunt bewustelik.

Tussen die twee uiterstes is daar die beskouing dat God alle goeie dinge beskik, maar nie die sonde en die ellende nie. Dié laat Hy net toe. En as ‘n mens vra waarom Hy sulke vreeslike dinge toelaat, is die antwoord gewoonlik óf dat Hy die mense se sonde straf, óf dat Hy ‘n onbekende maar goeie doel daarmee het, óf dat Hy die mens vry geskep het en dus nie die wreedhede kan keer wat ons mekaar aandoen nie, óf dat ons dit nie kan verstaan nie.

Twee van hierdie tradisionele antwoorde verdien ons aandag. Die een oor die albeskikking het ‘n hoë aansien omdat dit sterk op Calvyn teruggryp, en die ander een oor die toelating (Arminius) is taamlik algemeen onder Christene, selfs onder Gereformeerdes.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König