Geloofsvrae: Vorme van sonde

Geloofsvrae: Vorme van sonde – Adrio König

Die wese van sonde

3. Vorme van sonde

In die geskiedenis van die teologie is daar ‘n paar sondes wat altyd weer die aandag getrek het soos ongehoorsaamheid, hoogmoed, begeerte. Al drie is altyd by voorkeur uit Gen 3 afgelei, en dit dui al dadelik daarop dat daar tradisioneel eensydige aandag aan hierdie hoofstuk gegee is in die leer oor die sonde. Hierdie besondere rol van Gen 3 kan nie regtig geregverdig word in die lig van die min aandag wat dié hoofstuk in die res van die Bybel speel nie, en dit het dan ook tot baie eensydighede aanleiding gegee, nie die minste nie tot ‘n eensydige nadruk op sonde as sonde teen God ten koste van sonde teen mense en teen die natuur, ‘n eensydigheid wat nie sou ontstaan het nie as ons die literêre eenheid van Gen 2-4 gerespekteer het in plaas van die vreemde indeling van Gen 1-3 nie.

Naas sonde as ongehoorsaamheid, hoogmoed en begeerte, is klem gelê op sonde as die afwesigheid of berowing van die goeie. Dit klink nogal vreemd, maar dit is baie belangrik omdat dit beteken dat sonde nie iets positiefs is in die sin van iets wat deur God geskape is nie, maar dat die sonde iets wat God goed geskep het, van sy goedheid beroof. Die huwelik is goed, maar ons beroof dit van sy goedheid deur die sonde wat ons in ons huwelik doen.

Omdat die Bybel baie konkreet oor sonde handel en nooit teoreties daaroor nadink nie, word ‘n byna onoorsigtelike hoeveelheid sondes genoem. Daarom is daar in die loop van die geskiedenis baie indelings gemaak wat heeltemal sinvol is en help om ‘n oorsig oor die groot verskeidenheid te kry. Sulke indelings is onder andere: sondes teen God, teen mense, en teen die natuur; verder ook sondes van doen en van nalaat (nie-doen-nie); sondes van dade, woorde en gedagtes; bewuste en onbewuste sondes; sonde as verkeerde dade en sonde as ‘n bose mag; oortredings van die Tien Gebooie.

‘n Mens kan aan die een kant onderskei tussen ‘n paar grondvorme of kernbegrippe van die sonde, en aan die ander kant konkrete sondes. Liefdeloosheid, ongeloof, ongehoorsaamheid is sulke grondvorme wat nog nie regtig sê presies watter sonde dit is nie, maar dan is daar spesifieke sondes wat eintlik konkretiseringe van hierdie grondvorme is soos hoogmoed, selfsug, diefstal, moord.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König