Geloofsvrae: Vryheid

Geloofsvrae: Vryheid – Adrio König

Vryheid 

Hoe ons die mens sien, hang af van hoe ons God sien. Ons is immers geskape om in ‘n verbondsverhouding met Hom te leef en om sy beeld te wees. Ons sal dus by Hom leer wie ons is en hoe ons behoort te leef.

Toe ons gevra het wie en hoe God is, was die eerste twee eienskappe van God wat ons behandel het, sy liefde en sy vryheid. Dit is dus gepas om dié twee ook te behandel as die eerste twee eienskappe van die mens. As God die Een is wat in vryheid liefhet, en die mens is sy beeld, moet die mens ook in vryheid liefhê.

Natuurlik sal ons vryheid, net soos ons liefde, maar net ‘n flou skaduwee van God s’n wees, maar iets van hoe Hy vry is, moet in ons lewe blyk want daarvoor is ons geskape.

Daar bestaan groot verskille oor die mens se vryheid. Reeds onder die ou Grieke was daar uiteenlopende beskouings. Daar was die oortuiging dat jy net vry is as jy nie onder ‘n tiran staan nie. Ander het gemeen ons is eers vry as ons oor ons drifte en hartstogte beheer het. ‘n Derde groep was oortuig dat ware vryheid beteken dat ‘n mens vry is van die wêreldse dinge sodat jy jou kan onttrek en in afsondering leef. Vandag is daar nog steeds interessante vryheidsbegrippe. Sommige sien ons vryheid as ‘n las. As vrye wesens is ons ‘n abnormale verskynsel in die res van die wetmatige werklikheid. Dis juis ons vryheid wat lei tot al die ellende in die wêreld. Ons is gedoem tot vryheid. Daarteenoor is daar ‘n groot groep wat die vryheid sien as die hoogste goed. Elke mens is vry en hierdie vryheid is ons mees basiese reg wat ten alle koste beskerm moet word. Daar moet so min as moontlik sosiale beperkinge wees sodat mense hul aangebore vryheid kan uitleef en waarlik gelukkig kan wees.

Dit is nie moeilik om kritiese vrae aan hierdie vryheidsbegrippe te vra nie. Om maar net by die laaste een stil te staan, is dit waar dat ons ons vryheid sal geniet as ons geen sosiale bindinge het nie? Is dit nie dalk nader aan die waarheid dat sosiale bindinge ons help om nie ons drange onbeheersd te volg en juis ons eie en ander se lewens in ongeluk te dompel nie? Is ons vry gebore of is ons slawe van die sonde?

Staan ons nie nog ‘n keer voor die feit dat ons nie ons mensbeskouing uit mense se werklike lewe kan aflei nie, maar net uit God se bedoeling met ons? Ons is nie vry as die Seun ons nie vrygemaak het nie, maar ons behoort vry te wees, want só het God ons bedoel.

Wat beteken dit om vry te wees?

Vryheid lê nie op dieselfde vlak as liefde nie, nie in die geval van God nie, en ook nie wat mense betref nie. As liefde die inhoud van ons menswees is, is vryheid die vorm. Ons is nie geskape om vry te wees nie, maar om lief te hê. Ons leer dit by God. God se wese is nie sy vryheid nie. Sy wese is sy liefde. Sy vryheid is die manier waarop Hy liefhet. Hy is vry van selfsug sodat Hy kan liefhê. En Hy het ook vir ons vry geskape sodat ons kan liefhê. Vryheid is die infrastruktuur van die liefde. As ons vryheid ons nie langer help om lief te hê nie, het ons ons vryheid verloor.

Dit staan skerp teenoor heelwat ander oortuigings. Veral nasionalistiese bewegings sien vryheid as ‘n waarde op sy eie. Hulle sal stry en selfs ander doodmaak vir hul vryheid. Hoeveel oorloë is nie al vir `ons vryheid’ geveg nie! En watter rol het vryheid nie die afgelope dekades in die politiek in Suid-Afrika gespeel nie!

Daarteenoor staan Christelike vryheid in diens van die liefde. Die ander persoon of groep is nie ‘n inperking of ‘n bedreiging van my vryheid nie, maar ‘n geleentheid om hulle in vryheid lief te hê.

Hierdie standpunt help ons ook om die ou bekende onderskeiding tussen formele vryheid en materiële vryheid te hanteer. Formele vryheid is keusevryheid, die vermoë om ‘n besluit te kan neem. Materiële vryheid of inhoudelike vryheid is die vermoë om reg op te tree, dit is vryheid om lief te hê.

Ons sien dit alreeds by God, en juis omdat ons by Hom leer hoe ons as sy beeld behoort te wees, is sy vryheid belangrik om ons te help om te verstaan wat Hy met ons vryheid bedoel.

God se vryheid is sy vermoë om lief te hê. Ons kan dus verwag dat minstens ‘n analogie daarvan in ons vryheid sigbaar moet word.

Kom ons pas hierdie oortuigings toe op Adam en Eva se sonde (Gen 3). Adam en Eva sondig in die tuin. Hulle is aan God ongehoorsaam.

Hoe is dit moontlik? Gewoonlik word gesê dat God hulle met vryheid geskape het en dat hulle hierdie vryheid misbruik het. Die veronderstelling is dat hulle vryheid formele keusevryheid was. God het hulle die vermoë gegee om te kies en hulle toe voor ‘n keuse gestel. Dit word dikwels die `proefgebod’ genoem. Hulle kies dan verkeerd. Dit is natuurlik vreeslik jammer, maar God moes hulle noodwendig met hierdie vryheid skep anders was hulle soos diere of robotte. Liefde moet vry wees om die naam liefde werd te wees. Gedwonge liefde is nie liefde nie.

Die `voordeel’ van hierdie verklaring is dat ‘n mens skynbaar kan verstaan hoe dit moontlik was dat Adam en Eva gesondig het. Om mense te hê, en nie robotte of diere nie, het God geen ander keuse gehad as om hulle te skep met die moontlikheid om te sondig nie.

Van hier af loop die paaie dan uiteen. Die meeste Christene sal aanvaar dat dit jammer was dat dinge só geloop het, maar dat God genadiglik ingegryp het en verlossing bewerk het. Maar daar is sommige wat nie hiermee tevrede is nie. Hulle voel dat dit nie aan God reg laat geskied nie. Hy is nie maar net die magtelose toeskouer wat ons laat begaan en later reageer op die foute wat ons maak nie. Hy is die een wat vooraf alles bepaal wat gebeur, en daarom moet ons aanvaar dat Hy ook die sonde beskik het. Gewoonlik word as verklaring aangebied dat Hy wel bepaal het dat hulle sal sondig, maar dat hulle skuldig is omdat hulle in vryheid gesondig het. Dit is so ongeveer die sieninge van Calvyn.

Intussen het daar natuurlik al heelwat ernstige probleme om die hoek begin loer, so ernstig dat ‘n mens ‘n ander benadering moet oorweeg – al moet ons vooraf goed besef dat elke siening sy eie probleme sal oplewer sodat ons op die ou end maar moet kies wat vir ons die mees bevredigende lyk.

Die probleme is natuurlik eerstens dat dit ‘n vreemde soort vryheid is wat God dan vir die mens sou gegee het. Dit is ‘n vryheid wat geen verband het met sy vryheid nie, terwyl die mens as sy beeld tog geroepe is om sy vryheid te weerspieël. God se vryheid beteken nie dat Hy kan kies of Hy wil sondig of nie(?!). Sy vryheid is die infrastruktuur van sy liefde. Sy vryheid beteken dat Hy vry is van alle selfsug, vry van willekeur, nie gebonde aan sy hoë posisie nie, sodat Hy kan neerbuig en geringes kan liefhê.

As ons vryheid analoog aan syne moet wees, sal dit seker verband hou met sy vryheid en daarom ook met die NT se vryheidsbegrip waarvolgens die Seun ons vrymaak sodat ons vry is van die sonde, vry om lief te hê en God met ons hele hart te dien. Waarom sou God ‘n vreemde vryheid in sy beeld inbou wat geen verband met sy eie vryheid het nie?

Trouens dit bring ons by die tweede probleem. Is dit waar dat Adam en Eva hul vryheid (verkeerd) gebruik het toe hulle gesondig het nie? Moet ons nie eerder aanneem dat hulle hul vryheid verloor het deur te sondig nie? Het hulle nie in terme van die NT slawe van die sonde geword nie?

Die derde probleem is dat God hulle nie in die tuin voor ‘n keuse stel en vra dat hulle moet reg kies nie. Hy wys vir hulle ‘n weg, die enigste begaanbare weg: Hy verbied hulle om verkeerd te doen en gebied hulle om reg te doen. Dit is nie ‘n keuse nie. As Hy hulle voor ‘n keuse gestel het, kon Hy hulle nie agterna kwalik neem as hulle die keuse uitoefen nie.

Dit is dus beter om liewer die vryheidsbegrip te kies wat baie sterk in die NT ontwikkel het: materiële, inhoudelike vryheid, vry van die mag van die sonde en die duiwel, vry om God te kan dien en ons naaste lief te hê. Dit is vryheid as die infrastruktuur van die liefde, analoog aan die vryheid van God.

Dit kom sterk na vore in ‘n interessante uitspraak van Paulus: `Julle is tot vryheid geroep … dien mekaar dan deur die liefde’ (Gal 5:14). Dit is met die eerste oogopslag ‘n teenspraak. Kan ‘n mens tegelyk vry wees én dien, veral as ‘n mens besef die Griekse woord vir dien is slawediens? Slawe kan tog nie vry wees nie? Nie? Het Jesus nie die vorm van ‘n slaaf aangeneem nie, en was dit nie die sterkste getuienis dat Hy vry was om só ver in sy liefde te gaan nie? As Hy uitgelewer was aan sy heersersposisie, ‘n gevangene van sy goddelikheid, was Hy nie vry om te dien nie. En ons is geroepe om sy beeld te vertoon. Is ons dan nie juis vry as ons ons vryheid gebruik om in liefde te dien nie?

Vryheid is die regte gebondenheid. Israel is uit hul slawegebondenheid uit Egipte bevry om voortaan aan God gebonde te wees en daarom vry van slawerny. Maar telkens as hulle hierdie (regte en goeie!) gebondenheid aan God prysgegee het, het hulle in die slegte gebondenheid van slawerny verval (o.a. in die ballingskap). Onthou ons is aan die Verbondsgod gebonde, maar ook verbonde omdat ons by Hom geborge is.

Met liefde en vryheid het ons twee van die analoë eienskappe van ons menswees behandel. Die beginsel waarvolgens ons gewerk het, is die feit dat ons bedoel is om die beeld van God te wees en dus (analogies) iets van sy wese en lewe te reflekteer, iets van sy liefde en sy vryheid. Ons sou op dieselfde wyse by Hom iets kan leer van ander eienskappe wat die mens behoort te hê soos heiligheid en geduld.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König