Gelowiges is die liggaam van Christus

Gelowiges is die liggaam van Christus

Paulus moes aan Christene verduidelik wat dit beteken om God se mense in die wêreld te wees. Hy kies toe ʼn baie goeie voorbeeld, naamlik dié van ʼn liggaam (1 Korintiërs 12).

ʼn Liggaam is een, maar tog met ʼn groot verskeidenheid lede. Daar is voete, ore, oë, hande en so aan. Elkeen het sy eie werk en doel. Daarom kan die oë nie vir die hande sê dat hulle nie nodig is nie, en die hande ook nie vir die oë nie. Hulle het mekaar nodig en die een moet ook nie die ander een se werk probeer oorneem nie. Boonop moet die een ook nie dink dit is belangriker as die ander een se werk nie. Almal is ewe belangrik vir wat dit moet doen. Alleen as elke lid van die liggaam doen wat dit moet en saamwerk met die ander lede, kan die liggaam goed werk.

Net so is dit met Christene in ʼn gemeente. Hulle is soos die liggaam van Jesus. Deur saam te werk en ʼn eenheid te vorm, verteenwoordig hulle Jesus in die wêreld. Nie almal het dieselfde werk in die gemeente nie. Tog het elkeen sy plekkie. As elkeen sy deel doen kan die liggaam van Christus goed werk. Maar as die oog nie wil werk nie, gaan die hand nie weet waar om te vat nie. Samewerking is dus belangrik. Gelowiges moet so saamwerk en elkeen moet sy eie deeltjie bydra anders werk die liggaam nie behoorlik nie. As net ʼn paar lede van ʼn liggaam werk, is die liggaam gebreklik. Dit mag ʼn gemeente nooit met die liggaam van Christus laat gebeur nie. Gemeentewees is spanwerk in die volste sin van die woord.

Nou sien ons ook waar die kwesbaarste plek van ʼn gemeente lê: in lidmate wat nie hulle deel doen nie. Ons pak maklik die verantwoordelikheid op die skouers van die predikant of ouderlinge. Die Here het nooit bedoel dat sy kinders hulle klere op kerkbanke moet sit en deurskuur nie. Nee, Hy het vir elkeen ʼn werk. Jy as gelowige moet vir die Here vra waar Hy jou presies wil gebruik om sy liggaam in die wêreld goed te laat werk. En dan moet jy voluit aan die werk spring.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy