Gelykenis van die tien maagde – Hermie van Zyl

Vraag

Jesus het met die mense gepraat dmv gelykenisse. Wat my opval in Matteus 25:6 is dat die bruidegom om middernag gekom het, en die verhaal gaan dan voort dat die tien opgestaan het om hulle lampe gereed te maak. Die vyf dwase maagde vra vir olie van die vyf wyses, maar dié gee goeie raad om olie te gaan koop by die verkopers.

Beteken dit dat daar mense was wat selfs om middernag olie sou verkoop, of is dit mense wat reisigers was wat buite die stadsmure oornag het om weer die volgende dag handel te dryf met die mense binne die stad?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dis nie so maklik om die vraag afdoende te beantwoord nie, want daar is ten minste drie areas van onsekerheid in die gelykenis van die tien meisies van Matteus 25:1-13: Eerstens weet ons baie min van destydse huweliksgebruike; tweedens, wat ons wel weet pas nie mooi in by wat in die gelykenis aan die bod kom omtrent die huweliksfees nie; en derdens is daar onsekerheid oor waar presies die gelykenis begin: by 25:1 of eers by vers 2? Al dié kwessies hou verband met mekaar en het implikasies vir die olie se koop om middernag. Kom ons probeer helderheid kry.

 

  1. Wat weet ons van huweliksgebruike destyds? Normaalweg het die bruidegom met sy boesemvriende (“strooijonkers”) sy huis verlaat om na die bruid se huis te gaan, waar daar sekere seremonies plaasgevind het. Van die bruid se huis af was daar dan ’n prosessie deur die strate van die dorpie, gewoonlik in die aand, na die bruidegom se huis toe, waar die res van die feesvieringe plaasgevind het. Laasgenoemde kon ’n paar dae duur. In die prosessie was elkeen veronderstel om sy of haar eie lamp of fakkel te dra.

 

  1. As ons hierdie karige gegewens vergelyk met die gelykenis sou die tien meisies die bruidsmeisies kon wees wat die bruid bygestaan het. Die vraag is net wáár hulle was toe die bruidegom gekom het, want nêrens word daar iets van die bruid vermeld of waar sy haar toe bevind het nie. Ons weet dus nie of die geroep dat die bruidegom kom (v6), plaasgevind het toe die bruidegom en sy vriende op pad was na die bruid se huis toe of toe hulle van die bruid se huis op weg was na die bruidegom s’n nie. Ons weet ook nie wat die oponthoud veroorsaak het nie. Moontlik onderhandelinge rondom geskenke wat aan die gang was tussen die ouerpare van die bruid en bruidegom. Sulke onderhandelinge kon soms uitgerek word om veral die belangrikheid van die bruid te beklemtoon. Wat ook al die oponthoud, dit het lank genoeg geduur sodat die bruidsmeisies aan die slaap geraak het. Wáár weet ons egter nie; dit kon óf in die bruid óf in die bruidegom se huis gewees het, selfs dalk op straat waar hulle gewag het. Maar gegewe die status en funksie van die bruidsmeisies, is die straat-opsie onwaarskynlik, want waar sou hulle nou op straat geslaap het? Tensy hier nie van bruidsmeisies sprake is nie, maar sommer van die dorpie se jonge dogters in die algemeen. Maar dis onwaarskynlik.

Belangrik om ook te vra waar die gelykenis begin. Geleerdes is oor die algemeen van mening dat 25:1 eintlik net ’n soort opskrif tot die gelykenis is, as aanduiding van waaroor die gelykenis , en dat die eintlike vertelling eers in v2 begin. Dit beteken dat die neem van die lampe om die bruidegom tegemoet te gaan nie in v1 al gebeur het nie, maar eers in v6. Hierdie insig maak dit “makliker” om die verloop van gebeure te rekonstrueer, naamlik dat die bruidsmeisies óf in die bruid óf in die bruidegom se huis aan die slaap geraak het, en toe die geroep opklink dat die bruidegom kom, hulle lampe in gereedheid gebring het vir die prosessie.

 

Dis op hierdie punt dat die dwase meisies toe agterkom dat hulle nie genoeg olie vir hulle lampe het nie. Waarskynlik het ons hier nie met ’n lamp te doen wat binnenshuis gebruik is nie, maar met ’n soort fakkel wat eers aan die brand gesteek is wanneer dit nodig was. Dit het bestaan uit ’n stuk lap, gedraai om die punt van ’n stok, wat in olyfolie gedoop is om dit langer te laat brand, dalk so vir vyftien minute, lank genoeg vir die prosessie en die danse wat daarmee gepaard gegaan het. Die voorstel van die vyf verstandige meisies aan die onverstandiges om by die handelaars te gaan olie koop, klink vreemd, want waar gaan hulle in die middel van die nag olieverkopers kry wat oop is. Maar in ’n klein dorpie waar almal by die troue betrokke is, was dit dalk nie so ’n vreemde voorstel nie. Almal was in elk geval wakker, ook die verkopers.

 

Maar ons weet dit nie vir seker nie. Daarom meen sommige verklaarders dat ons hier eerder met ’n ironiese, ontmaskerende voorstel te doen het; ’n interpretasie waarby ek myself aansluit. Die verteller – Jesus/Matteus – het goed geweet dat daar nie in die middel van die nag verkopers beskikbaar is nie, nogtans word die voorstel gemaak. So word alle klem geplaas op die onvoorbereidheid van die vyf dwase meisies. Almal weet dis te laat om nou olie te bekom; hulle moes vroeër daaraan gedink het. Genadetyd het vir hulle uitgeloop. Daarom dat die oordeelswoorde van die bruidegom – ek ken julle nie (v12) – pas by die vreemdheid van die voorstel om middernag te probeer olie koop. Ons kan sê dat die hele gebeure van die ontnugterende ontdekking dat hulle nie olie het nie; die middernagtelike, desperate gesoek na olie; die deur wat gesluit word; die meisies wat te laat daar aankom; hulle vergeefse geroep dat die deur vir hulle oopgemaak word; die kille, afwysende woorde van die bruidegom; alles maar net dien om die lot van die dwase meisies te verseël as mense wat nog nooit tot die koninkryk van die Bruidegom behoort het nie. Hulle onvoorbereidheid is eintlik maar net ’n simptoom van die feit dat hulle nooit deel van die Bruidegom se gevolg was nie, dat hulle net meelopers was wat nooit erg aan die Bruidegom gehad het nie. Die punt is: Hulle was te laat vir die prosessie. Om die ou geestelike liedjie ietwat anders hier te laat meespreek: Hulle kom tot die ontdekking dat hulle nie deel was van “that number when the saints went marching in” nie.

 

Hoe mens ook al die gelykenis se “onderdele” probeer rekonstrueer, die boodskap is duidelik: Wees waaksaam, omdat julle die dag en uur nie ken (waarop die bruidegom kom) nie (v13). Die waaksaamheid bestaan uit gereed wees, dit wil sê, om genoeg olie te hê vir jou lamp of sodat jy jou fakkel aan die brand kan steek wanneer die bruidegom kom. Want dan is daar nie tyd vir olie koop nie. Daar is dus twee maniere om te wag op die bruidegom: traak-my-nieagtig, deur die bruidegom nie as belangrik genoeg te ag om vooraf te sorg dat jy genoeg olie het om saam met hom in te gaan na die bruilofsfees nie; of om gereed te wees, met genoeg olie byderhand sodat jy die bruidegom tegemoet kan gaan wanneer hy kom om die bruilof saam met hom te geniet. So gesien is die bruidegom Christus, die bruidsmeisies die kerk, die talm van die bruidegom die uitbly van die wederkoms, en die koms van die bruidegom die wederkoms van Christus. Die kerk moet dus te alle tye verstandig handel, met genoeg olie byderhand om die fakkels aan te steek – die olie van geloof en die liefdesdade wat uit die geloof voortspruit (vgl Matt 23:23; 25:34-40). Dan is jy gereed, selfs al word jy aan die slaap gevang; dan kan die Bruidegom maar enige tyd kom.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl