Gemaak na die beeld van God

 

“You can’t do anything about the length of your life, but you can do something about its width and depth.” – H.L. Mencken

 

Gemaak na die beeld van God

Een van die basiese lewensvrae wat ons gereeld vra, is: Wie is ek? Baie mense word beïnvloed deur wat hulle dink ander mense van hulle dink. Wat sê die Bybel oor hierdie vraag? Toe die vraag oor wie ek is aan Luther gestel is, was sy antwoord: You are the bearer of an alien dignity. Wat bedoel hy hiermee? Hy bedoel dat terwyl ons vasstel wie ons is deur wat ons doen en hoe ons met ander vergelyk, is dit verkeerd. Hy glo nie die vraag “Wie is ek” is die regte vraag nie. Die vraag moet wees: “Wie s’n is ek?” Wie se beeld dra ek?

 

Luther se antwoord dat ons die beeld van Iemand buite ons dra wat aan ons groot waardigheid gee, is die Bybelse antwoord. Daardie Iemand is God – ons dra God se beeld.

Toe het God gesê: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip. God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep (Genesis 1:26 – 27).

Is dit belangrik? Beslis. As jy nie weet na wie se beeld jy gemaak is nie, sal jy nooit weet waarom jy leef nie.

 

Beelddraer. Wat beteken dit? Mense moet God in die skepping verteenwoordig. As jy ooit wonder of Christene by dinge soos klimaatsverandering betrokke moet raak, hou op wonder: die antwoord is duidelik. Die vraag is nie of jy ‘n beelddraer is nie, maar watter soort beelddraer jy is. Jy verteenwoordig God in die skepping. God het aan die mens ‘n skepping gegee wat glad gefunksioneer het. Eendag gaan Hy dit van ons terug vra. Eendag gaan Jesus Christus terugkeer en Hy sal die mens verantwoordelik hou. Die eerste deel van beelddraer wees, is ‘n taak – om te heers oor die skepping. Hier gaan dit nie net oor die omgewing nie, maar oor ‘n skepping van God.

 

Die Drie-eenheid en beelddraer

Hierdie besluit van God om die mens te maak, is in die vorm van ‘n gesprek. God sê: Kom Ons maak die mens. Wie is hierdie Ons? Is dit die koninklike meervoud? As die koningin van haarself praat, sê sy ons. Of verwys hierdie Ons na die Drie-eenheid? Hierdie is nie so belangrik nie, want ons weet uit die res van die Skrif dat God drie-enig is. Wat belangrik is, is dat ons almal na die beeld van God gemaak is. Ons leef dit op verskillende maniere uit.

 

Ons is beelddraers, maar wat van die sondeval? Is ons steeds beelddraers? Nou moet ons ook aan ander beelddraers wat hulle beeld vergeet het, getuig. Maar wat beteken dit in die praktyk? Ek is ‘n verloste beelddraer – as gevolg van die vergifnis deur Jesus Christus word die gevolge van die sondeval omgekeer.

 

Die mens is ongelooflik, nie op grond van wie ons is nie, maar wie s’n ons is – na wie se beeld ons gemaak is. Daarom moet ons wakker wees om te sien wat God deur ons wil doen. Soos ons as beelddraers leef, besef ons gou dat ons dit nie alleen kan doen nie. Ons kan dit slegs as deel van ‘n geloofsgemeenskap doen.