Gemengde Huwelike – Hermie van Zyl

Celesté vra:

My vraag is, waar staan dit in die Bybel dat wit mense met swart mense mag trou of nie? Ek hou nogal van Pastoor Robert Morris se preke, en ek het toevallig gesien sy dogter is met ‘n swart man getroud. Dit maak nou nie dat ek minder van Pastoor Robert hou nie, dit verwar my net. Vir jare wil ek graag weet wat God daaroor sê omdat ek grootgeword het dat ras by ras bly en ons nie meng nie. Verskeie mense glo ook so en so ook pastore met wie ek al gepraat het. Maar nogtans sien ek meer en meer wit en swart mense met mekaar trou. Ek myself is nie ‘n rassis nie. Ek glo dat ons almal God se eiendom is en wat God vir een ou wil hê, wil Hy vir ‘n ander een ook hê. Ek weet dat kleur ons nie bind nie, want ons almal is deur God geskape. Wat is God se siening oor die gemengde trouery en is dit ‘n sonde?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Vir Suid-Afrikaners wat in die “ou” Suid-Afrika grootgeword het waar huwelike tussen verskillende rasse deur die wet verbied is (die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike, 55 van 1949; en die sg Ontugwet, 21 van 1950), is dit uiteraard vreemd om vandag huwelike tussen mense van verskillende rasse te sien, of dat mense vrylik oor die rassegrense heen met mekaar verhoudings aanknoop. Hierdie wette was weliswaar tiperend van Apartheid Suid-Afrika van die 1950’s tot 1980’s, maar het ook vir periodes in ander lande soos die VSA (tot 1967) en Duitsland (tot 1945) voorgekom. (Die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike in SA, is reeds in 1985 geskrap, voordat die “nuwe” Suid-Afrika amptelik in 1994 tot stand gekom het.)

Die “ordening” van die samelewing deur ongeskrewe taboes en gebruike is so oud soos die mensdom self. Orals in die wêreld kom dit voor dat rasse of kulturele groepe wat dieselfde leefruimte deel, “apart” van mekaar lewe. Gewoonlik gebeur dit op ‘n spontane en natuurlike manier. Maar in SA is dit deur wetgewing afgedwing. Basies spruit sulke wette voort uit ‘n gevoel van rassemeerderwaardigheid van een groep teenoor ‘n ander. Die wette het dan ten doel om ‘n bepaalde ras (bv blankes) sogenaamd suiwer te hou, of om te keer dat in ‘n sekere konteks ‘n minderheidsgroep (bv blankes) deur ‘n meerderheidsgroep (bv swartes) ingesluk of gedestabiliseer word. Die apartheids-huwelikswet was net nóg ‘n poging om swart en wit uit mekaar te hou en rasvermenging te keer. Vóór hierdie wet het rasgemengde huwelike wel voorgekom, hoewel nie baie nie.

Die Bybel is egter duidelik daaroor dat alle mense van een voorvader af stam (Hand 17:26) en dat ons in daardie sin van die woord almal tot dieselfde “ras” – die menslike ras – behoort. Die feit dat ons nie almal dieselfde lyk of optree nie (en mekaar daarom wantrou), het niks te make met ewige Goddelike skeppingsordeninge wat ons van mekaar skei nie, maar het oor tyd heen ontstaan as gevolg van allerlei omgewingsfaktore en genetiese aanpassings en veranderings. Alles natuurlik, so glo ons, onder die voorsienige hand van God. Die punt is egter dat daar geen beletsel vanuit die Bybel bestaan dat mense van verskillende rasse met mekaar mag trou nie. So lees ons bv van Moses wat met ‘n Kussitiese vrou getroud was (Num 12:1). Sy was waarskynlik afkomstig uit Etiopië in Afrika en donkerder van kleur as die Semiete (Israeliete). Die punt is dat sy ‘n nie-Israeliet was en dat dít waarskynlik die aanleiding was vir Aäron en Miriam (veral lg) se afgunstigheid op haar – dat sy as nie-Israeliet meer invloed by Moses sou hê as hulle. Onmiddellik moet mens egter byvoeg dat daar onder die antieke volke rondom die Middellandse See-gebied nie groot rasseverskille was nie. Almal het min of meer dieselfde velkleur gehad. Uiteraard was daar wel kulturele en godsdienstige verskille, maar dit het nie gekeer dat daar dikwels ondertrouery tussen die volke in Palestina was nie. Ook die Israeliete het hieraan meegedoen, dikwels tot groot ontsteltenis van die geestelike leiers – nie vanweë rassevooroordele nie, maar weens godsdienstige redes (Neh 13:23-27). Wat my by die volgende gedagte bring.

Die enigste verbod wat die Bybel wel het as dit by trou kom, is dat gelowiges nie met ongelowiges behoort te trou nie, vanweë die potensiële verleiding tot afgodediens (Gen 28:1; 1 Kon 11:1-13; Esra 9-10; Neh 13:23-27), en omdat die intieme lewensverbintenis in die huwelik dit moeilik maak vir man en vrou om in een juk saam te trek as daar groot geloofsverskille is (1 Kor 7:39; 2 Kor 6:14-7:1). Hierin was daar egter ook soepelheid, veral as een party ná die huweliksluiting gelowig geword het maar die ander party nie (vgl 1 Kor 7:12-16). In elk geval was daar niks wat verhoed het dat iemand uit ‘n ander volk met ‘n Israeliet trou nie, mits daardie persoon die Israelitiese/Joodse geloof aanvaar. In die Ou Testament is die klassieke voorbeeld dié van Rut, die Moabitiese skoondogter van Naomi, wat met Boas, die Israeliet, getroud is en so die voorouer van koning Dawid geword het. Ten grondslag van die Bybelse verbod op gemengde huwelike weens geloofsoortuigings lê die gedagte dat die huwelik nie net ‘n liggaamlike en sosiale eenheid is nie, maar eintlik die kerk in die kleine is. Dis hier waar die geloofsgemeenskap primêr begin en gebou word. En as daar nie oor geloof eenstemmigheid tussen man en vrou is nie, word die volk van God benadeel. Dit is dikwels so dat as man en vrou aan verskillende gelowe behoort, daar geen duidelike geestelike leiding aan die kinders gegee word nie “ter wille van die vrede”. En so eindig die volgende geslag sonder God.

Die feit dat daar geen beletsel in die Bybel is op huwelike tussen verskillende rasse nie, beteken nie dat dit altyd aan te beveel is nie, gewoon omdat die huwelik ‘n intieme lewensgemeenskap tussen twee persone is. Dit is al klaar “moeilik” om met iemand vanuit jou eie ras- en kultuurgroep, waar daar met die wegspring baie gemeenskaplikhede is, oor die weg te kom. Hoeveel te meer nog as dit met iemand uit ‘n ander kultuur- of rasgroep is. Tog is daar talle voorbeelde van sulke gemengde huwelike wat baie geslaagd is. Dit kan werk. Punt is: Rasgemengde huwelike is ‘n persoonlike keuse tussen twee individue. Daar is niks in die Bybel wat dit verbied nie. Hulle moet net die konsekwensies vooraf baie goed bereken en vir die regte redes trou, nie om een of ander punt te bewys nie. Maar waar daar opregte aangetrokkenheid en liefde is, is daar geen rede waarom so ‘n huwelik nie kan slaag nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl