Genade: Is dit ‘n werklikheid?

 

To wish the Lord to give us honour and ease in this life, is as unreasonable as if a servant should expect his master to wait upon him. – Spurgeon

 

Genade: Is dit ‘n werklikheid?

Meeste van ons het as kinders sekere geestelike dissiplines in die kerk geleer – om ons Bybel te lees, om te bid en om deel van die geloofsgemeenskap te wees. Dit was dikwels taamlik oppervlakkig. Eers na ons bekering was dit vir ons belangrik om Jesus Christus beter te leer ken. Toe begin ons die belang van genade besef.

 

Die Bybel vertel vir ons dat genade reeds voor ons geboorte vir ons van groot belang is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Efesiërs 1:4). Toe kom genade in die geskiedenis: Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn (Titus 2:11). Die Woord van God het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van God het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

 

Jesus Christus was die klimaks van God se manifestering van genade. Hy leef en sterf vir ons; Hy word opgewek en vaar op na die hemel waar Hy aan die regterhand van God sit en vanwaar Hy vir ons by God intree.

 

Wat weet ons van genade?

  • God roep ons uit sy genade: Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem (Galasiërs 1:6).
  • Ons word verlos deur God se genade: Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God (Efesiërs 1:7).
  • Deur genade glo on: Daar aangekom, was hy tot groot hulp vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het (Handelinge 18:27).
  • Deur genade word ons met God versoen, met Jesus Christus verenig en ontvang ons die Heilige Gees.

 

Sonder God is ons ongehoorsaam en sondig. Dan breek die genade van God in ons lewens in. Die genade van God beweeg in ons lewens in en verander ons leefwyse – ons word meer soos Jesus Christus. Hierdie is ‘n progressiewe proses wat dwarsdeur ons lewens voortgaan. Dit staan as heiligmaking bekend.

 

Genade is ‘n werklikheid in die lewe van gelowiges. Dit bring ons by ‘n volgende vraag: deur watter kanale werk genade?