Genadedood – Vorms

Genadedood – Vorms – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons sekere algemene aspekte van genadedood gekyk. Vandag kyk ons na die vorms van genadedood

Is daar verskillende vorms van genadedood?

Die woord genadedood is ʼn sambreelterm waaronder verskillende metodes ter sprake is. Ons kan genadedood op verskillende maniere klassifiseer:

1. Volgens toestemming.

Dit beteken dit kan vrywillig wees of nie. Waar dit nie vrywillig is nie, is dit gewoonlik iemand anders wat ʼn besluit neem omdat die persoon nie in staat is om self te besluit nie. (Voorbeeld: die vader is bewusteloos na ʼn ernstige beroerte en die kinders besluit.) Soms word die kinders se besluit bepaal deur wat die persoon vooraf versoek het. Hierdie sogenaamde toestemming met volmag is altyd kontroversieel. Soms mag die kinders verskil oor wat reg of wat verkeerd is. Soms het hulle nie duidelike/skriftelike toestemming van die persoon ter sprake nie. Probleme ontstaan wanneer:

  • Die pasiënt nie in staat is om self ʼn besluit te neem nie.
  • Die wense van die familie teenstrydig is.
  • Toestemming onder druk verkry is.

 

2.  Volgens metode

  • Passief: Die pasiënt word toegelaat om te sterf. As ʼn persoon in ʼn diep koma as gevolg van ʼn beroerte longontsteking sou ontwikkel (ʼn baie algemene komplikasie van persone in ʼn koma), weerhou die geneesheer die toediening van antibiotika. Hy weet dat as hy die behandeling weerhou, sal die pasiënt sterf. Wat nog moeiliker is, is as so ʼn persoon op lewensondersteunende behandeling/ instrumente is. Mag ʼn geneesheer hierdie instrumente afskakel wetende dat dit die dood van die pasiënt sou veroorsaak?

•         Aktief/aggressief: die pasiënt se dood word direk en doelbewus veroorsaak. Die geneesheer doen iets om sy dood te verhaas. Hy dien byvoorbeeld ʼn oordosis morfien of ʼn middel om hartstilstand te veroorsaak, toe.

 

3.   Bygestaande (“assisted”) selfmoord

Hierdie is eintlik maar aktiewe genadedood. Ek noem dit apart, omdat hierdie metode wêreldwyd veld wen. Hiermee bedoel ons die voorsiening, maar nie die toediening, van ʼn middel wat die dood sal veroorsaak nie. ʼn Geneesheer gee vir die pasiënt  ʼn middel wat sy dood sal veroorsaak, maar die pasiënt moet self besluit of hy dit wil neem. [Hierdie praktyk is onwettig in Suid-Afrika.] Dit is dieselfde as die teregstellings in sekere state van die VSA waar die geneesheer die middels voorsien, maar nie toedien nie.

 

4.  Vrywillige aktiewe genadedood

Dit is waar ʼn terminaal siek persoon by sy volle verstand versoek dat sy lewe beëindig word as gevolg van erge pyn en/of lyding. Die geneesheer staan hom by deur die toedien van ʼn dodelike middel. Hierdie praktyk is onwettig in Suid-Afrika.

 

5. Die “lewende” testament

Die pasiënt, op ʼn stadium toe hy by sy volle verstand was, stel ʼn dokument op waarin sy bedoeling baie duidelik aan sy versorgers en familie bekend gemaak word: Sou hy ʼn permanente en ongeneeslike siekte ontwikkel, moet hulle die volgende doen en sekere dinge nie doen nie. Dit mag insluit die toedien van middels om die dood te verhaas.

 

Argumente vir en teen genadedood

Argumente ten gunste van genadedood:

  • Mense het die reg om te kies wat hulle met hulle lewe wil doen. As argument word dikwels gesê dat mense die reg het om selfmoord te pleeg – dit is nie ʼn kriminele oortreding nie. Dit gaan oor die vryheid van keuse: mense kan nie gedwing word om te bly lewe nie.
  • Die kwaliteit van lewe – fisies (voortdurende pyn) en emosioneel (verlies aan onafhanklikheid) – is ingekort. Die lewenskwaliteit is van so ʼn aard dat dit nie meer die moeite werd is om te lewe nie.
  • Ekonomies – gebruik eerder die beperkte beddens en gesondheidspersoneel vir mense wat ʼn goeie prognose het.
  • Ondraaglike pyn. (Dit is meestal moontlik om pyn doeltreffend te beheer).
  • Die wet en mediese etiek vereis nie dat mense ten alle koste aan die lewe gehou moet word nie – dit is wreed en onmenslik. Daar kom ʼn tyd wanneer behandeling gestaak moet word. Konsentreer net daarop om die pasiënt so gemaklik as moontlik te maak. Ondersteun die pasiënt emosioneel en geestelik.

 

Argumente teen genadedood:

1.         Godsdienstig

  • Dit is teen die wil van God. Lewe is heilig en behoort aan God. Daarom kan net God ʼn lewe neem.
  • Die gemeenskap se respek vir die heiligheid van lewe word afgewater.
  • Lyding mag van waarde wees.
  • Dit is die begin van ʼn gevaarlike neiging om mense dood gemaak omdat hulle onwenslik is. Ons is terug by die konsentrasiekampe van die Tweede Wêreldoorlog.

2.         Etiese argumente

  • Ons aanvaar dat sekere lewens meer waarde as ander het
  • Dit is dalk nie in die beste belang van die persoon nie

3.         Praktiese argumente

  • Goeie palliatiewe sorg maak genadedood onnodig
  • Dit is moeilik om genadedood behoorlik te reguleer
  • Dit is teen die professionele rol van gesondheidswerkers.
  • Dit ondermyn gesondheidspersoneel se toewyding aan die red van lewens

In die volgende artikel gaan ek meer sê oor die Christen se siening van genadedood.

Outeur: Dr Coen Slabber