Geneeskunde in die Bybel (1)

Geneeskunde in die Bybel (1) – Coen Slabber

[Hierdie reeks artikels moet saam met twee vorige artikels oor Voorkomende Geneeskunde in die Bybelse tyd gelees word.]

In hierdie reeks artikels gaan ons na enkele aspekte van geneeskunde in die Bybel kyk. Volgens die Bybelse tradisie is genesing beskou as die werk van Jahweh en die mense wat deur Hom bemagtig is.

(a) Ou Testamentiese tyd

Die Hebreërs van die Ou Testamentiese tyd het maar min aandag aan geneeskunde gegee.  Dit is in teenstelling met hulle bure – Egipte en Mesopotamië.  Daar het mediese kennis ʼn belangrike rol gespeel.  In die biblioteek van die Assiriese koning Assurbanipal is 800 tablette wat met geneeskunde verband hou, gekry.  Dit is duidelik dat geneeskunde in Israel se buurlande op daardie stadium ʼn mengsel van godsdiens, waarsêery en demonologie (= die studie van demone) was.  Hulle aptekershandboek was uitgebrei en het sulke middels soos hondemis en menslike urine ingesluit.  Daar was selfs geneeshere wat chirurgiese operasies gedoen het.

Daar was ʼn interessante metode van diagnosering in Babilon. ʼn Dier is doodgemaak en geslag.  Daarna is die lewer van hierdie dier vergelyk met ʼn kleimodel van die lewer van ʼn gesonde dier.  Die verskille tussen die twee lewers is dan gebruik om die pasiënt se toestand te diagnoseer.  Ons lees hiervan in Esegiël 21:21 waar die koning van Babel by ʼn kruispad staan en hy na ʼn teken soek.  Onder andere skud hy die pyle en raadpleeg hy die afgodsbeeldjies en hy kyk na ʼn dier se lewer.

Geneeskunde in Egipte was meer gevorderd as in Mesopotamië.  In Egipte het dit berus op logika en observasie.  In papirusse word dinge soos frakture, ontwrigtings, wonde, gewasse en sere bespreek.  Hulle het reeds steke, pleisters en selfs kauterisasie gebruik.  [Kauterisasie = om die vel of wond te brand om bloeding te stop of om infeksie te voorkom.] By hulle was klismas (enema) ʼn baie gewilde vorm van behandeling. [ Dit is nie so vergesog nie. Hoeveel van ons ouer mense onthou nie nog hoe ons sisteem skoongemaak is met kasterolie voor ons met vakansie gegaan het nie!] Hulle het ook heelwat “geneesmiddels” gebruik – van kasterolie tot diervet tot warm sand.  Die Egiptenare was ook kundiges op die gebied van balsem.  Ons lees dat Josef die dokters in sy diens beveel het om die lyk van sy pa te balsem (Genesis 50:2).

Die Jode van die OT se siening van siekte het radikaal verskil van dié van hulle heidense bure.  Hulle het nie in al die bygelowe en afgode geglo nie.  Die Jode het siekte as God se oordeel gesien. So lees ons in Deuteronomium 28:22: Die Here sal jou tref met tering, inflammasie en koorssiekte. Genesing was dan ook die werk van die Here: Dit is Hy … wat al my siekte genees (Psalm 103:3).  Geen wonder dat Asa se vertroue op dokters nie goed beoordeel word nie.  Hy het ʼn ernstige siekte aan sy voete opgedoen, maar selfs in dié siekte het hy nie die Here geraadpleeg nie, wel die dokters (2 Kronieke 16:12).  Alhoewel daar dokters in Israel was, was geneeskunde nie so ver ontwikkel soos in sy buurlande nie.

Die belangrikste bydrae wat die Jode tot geneeskunde gemaak het, was die higiëniese maatreëls wat ons veral in Levitikus 11 – 15 kry.  Hierdie maatreëls het primêr ʼn godsdienstige betekenis gehad, maar hulle het ook die fisiese welstand en algemene gesondheid van die mense bevorder.  Die rol van die priester in Israel was om te bepaal watter toestande die persoon seremonieel onrein maak.  Daar is geen aanduiding in die Bybel dat priesters siektes behandel het nie.  In baie ander kulture was die priester ook die dokter.

God as Geneser is ʼn sentrale aspek van God se verhouding met sy verbondsmense. Reeds in Genesis 20 lees ons van Abraham wat vir Abimelek bedrieg het deur te sê dat Sara sy suster is.  Abraham bid tot God om nie vir Abimelek te straf vir hierdie sonde wat hy onwetend gedoen het nie.  Ons lees dat God vir Abimelek, sy vrou en sy slavinne genees het van hulle onvrugbaarheid (vers 17).  Na die verlossing uit Egipte en die deurtog deur die Rietsee sê God vir Israel dat as hulle sy gebooie onderhou Hy hulle sal bewaar van die siektes wat Egipte getref het, want dit is Ek, die Here, wat julle gesond hou (Eksodus 15:26).  In Moses se lied verklaar God: Ek maak siek en Ek maak gesond (Deuteronomium 32:39).

Ons kry presies dieselfde in Job 5:18: Dit is Hy wat wonde toedien, maar Hy verbind hulle weer, wat seer slaan, maar Hy maak weer met sy eie hand gesond.  Psalm 30:3: Here, my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. Soortgelyk in Psalm 41:5.  Soms word genesing en vergifnis gekoppel: Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees (Psalm 103:3). Soms word dit gekoppel aan naderende vernietiging: Hy het hulle bevry van hulle ellende. Hy het hulle met ʼn enkele woord gesond gemaak (Psalm 107:19 – 20).

Dit is egter veral in die profete-boeke waar God se rol as geneser sterk na vore kom.  In Jesaja is daar herhaalde oproepe op Israel om na God terug te keer en genees te word (6:10; 19:22; 30:26). Hiskia pleit by die Here: maak my tog gesond, herstel my (Jesaja 38:16).  God het dus hierdie dubbele rol: Hy sal straf en genees (Jesaja 19:22; 57:18 – 19).  In Jesaja 53:5 is dit die lyding van God se dienaar wat genesing bring: deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.  Jeremia betreur blykbaar die afwesigheid van ʼn dokter: Is daar nie ʼn dokter nie? (8:22). Later bevestig hy egter dat dit God is wat genees: Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees, sê die Here (30:17; ook in 33:6).

Hierdie beeld van God as geneser kry ons uit ʼn ander perspektief as Esegiël vir Israel teregwys: Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie (34:4). In vs. 16 sê God dan dat Hy self hierdie taak sal verrig.  Ons kry presies dieselfde teregwysing in Sagaria 11:15 – 17.  Dit is baie duidelik: in die OT is Jahweh die geneser.

Outeur: Dr Coen Slabber