Geografiese plekke in die Bybel – Hermie van Zyl

Liesl vra:

In watter stad/dorp is Stefanus gemartel en waar staan dit in die Bybel? In watter stad/dorp het Petrus sy visioen gehad en waar staan dit in die Bybel?

Wie was die gehoor vir wie die volgende Bybelboeke geskryf is: Genesis, Numeri, Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, Esra, Nehemia, Ester, Job, Psalms, Spreuke, Hooglied, Jesaja, Klaagliedere, Miga, Habakuk.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Stefanus se martelaarskap: Stefanus was een van die sewe wat gekies is om te help met die versorging van die Griekssprekende weduwees (Hand 6:1-6). Ons lees van sy martelaarskap in Handelinge 7 (7:54-60 om presies te wees). Hierdie gebeure het in Jerusalem plaasgevind (vgl Hand 8:1). Trouens, al die gebeure van die begin van Handelinge tot en met hoofstuk 7 speel in Jerusalem af. Eers van hoofstuk 8 af versprei die evangelie (en gelowiges) na die omringende gebiede, soos Judea en Samaria. En van Handelinge 13 af versprei die evangelie na buite Palestina, na die (destydse) uithoeke van die bewoonde wêreld rondom die Middellandse See. Hierdie verspreiding is ook in ooreenstemming met die “program van aksie” wat in Handelinge 1:8 aangekondig word.

Visioen van Petrus: Petrus het sy visioen oor die rein en onrein diere in Joppe gehad. Ons lees daarvan in Handelinge 10:5-16. Joppe (vandag Jaffa) was ’n belangrike kus- en hawedorp van Palestina, ongeveer 50 km suid van Sesarea en 50 km noordwes van Jerusalem. Sesarea was die stad waar die Romeinse prokurator wat oor Judea geregeer het, sy hoofkwartier gehad het.

Gehoor (eerste leserskring) van Bybelboeke: Hierdie is ongelukkig nie ’n vraag wat maklik afgehandel kan word in die bestek van hierdie antwoord nie. Dit vereis ’n taamlik omvangryke beredenering. Die beste is om ’n Bybelkommentaar te raadpleeg, soos Die Bybellennium. ’n Eenvolume-kommentaar. Redakteurs: Fika J van Rensburg en Marius Nel. Uitgegee deur Christelike Uitgewersmaatskappy. Daarin word by elke Bybelboek volledige inligting gegee oor die skrywer, gehoor, tyd en plek van ontstaan. En dit bevat ook kosbare uitleg oor die inhoud van elke Bybelboek.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl