Geregverdig deur geloof of werke?

 

We are all in the same boat, in a stormy sea, and we owe each other a terrible loyalty – G.K.Chesterton

 

Geregverdig deur geloof of werke?

Paulus sê: En Abraham het God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken (Romeine 4:3).

Jakobus sê: Julle sien dat ‘n mens uit werke geregverdig word en nie uit geloof alleen nie (2:24).

Hoe verklaar ons hierdie oënskynlike teenstrydigheid?

  • Romeine is voor Jakobus geskryf en Jakobus skryf om Paulus se fout van geregverdig deur geloof alleen reg te stel.
  • Ander sê dat Jakobus eerste geskryf is en dat Paulus hierdie lang uiteensetting skryf om Jakobus se fout reg te stel.
  • Ander sê hier is ‘n teenstrydigheid tussen die leer van die twee.

 

As ons glo dat ons hier met die Woord van God te doen het en as ons glo dat God nie uit twee monde praat nie, moet ons dieper in die teks gaan soek vir ‘n oplossing. Om ‘n oplossing te kry, moet ons eers na die konteks waarbinne die twee stellings gemaak is, gaan kyk. ‘n Goeie beginpunt is die vraag: “Watter vraag probeer die skrywer hier beantwoord?”

 

Jakobus sê vir ons watter vraag hy probeer beantwoord: Wat is die voordeel, my broers, as iemand sou sê dat hy geloof besit, maar hy sou nie die werke hê nie? Dié geloof is tog nie in staat om hom te red nie? (2:14). As Luther sê dat ‘n mens slegs deur geloof geregverdig word, beteken dit nie dat ek intellektueel aanvaar dat Jesus die Verlosser is nie. Ons moet ook ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus hê. Geregverdig deur geloof is nie ‘n abstrakte voorstel nie. Jakobus sê verder: Jy glo dat God een is. Jy doen goed! Ook die duiwels glo en hulle sidder (2:19). Enigeen kan in die bestaan van God glo. Die duiwels glo dit en sidder voor Hom, maar hulle vertrou nie op Hom vir hulle verlossing nie.

 

Wat nodige is, is persoonlike vertroue in Christus. Ons moet vertrou dat Jesus Christus ons sal red. Wat belangrik is, is dat as ons ware geloof het, sal dit onmiddellik in ‘n veranderde lewe manifesteer. As geen verandering op ons belydenis van geloof volg nie, het ons nie ware geloof nie. Werke vloei uit ons geloof, maar werke is nie die rede dat ons geregverdig is nie. God verklaar ons geregverdig as ons in Hom glo – selfs voor ons goeie werle gedoen het.

 

Wat is die voordeel, my broers, as iemand sou sê dat hy geloof besit, maar hy sou nie die werke hê nie? Niemand is nog ooit verlos deur te sê dat hy gelowig is nie. Dit is die besit en nie die verklaring van geloof wat belangrik is. Ware geloof word altyd deur gehoorsaamheid gekenmerk. Daarom sê Jakobus: Wys vir my jou geloof sonder die werke, en ek sal jou uit my werke my geloof wys (2:18). Jakobus sê dat die enigste manier om te weet of ons opregte geloof het, is deur ons werke.