Geseënd is jy

 “Strategy never saved anyone. Only the gospel saves anyone.” – Thabiti Anyabwile

 

Geseënd is jy

Geseënd is ‘n woord wat ons dikwels hoor.  Soms beteken dit ryk: “Hy is nou werklik geseënd,” en dan beteken dit hy het baie geld Soms word dit as sinoniem vir goeie omstandighede gebruik: “Ek was geseënd om ‘n parkeerplek te kry.”

  J. D. Geear skryf hieroor en gebruik Maria as voorbeeld. Toe Gabriël by Maria kom en aankondig dat sy swanger is, beskryf hy haar as begenadigde. Toe Elisabet vir Maria ontmoet roep sy hard uit: Geseënd is jy onder die vroue (Lukas 1:42). Maria is ‘n goeie voorbeeld van wat dit beteken om geseënd te wees, al lyk dit nie vir ons so nie.

 

 Wat is die aard van Maria se seën? Dit bestaan uit twee dele:

  • Teenwoordigheid. Lees net die loflied van Maria in Lukas 1:46 – 55. Kyk hoe praat sy van God in die eerste persoon: my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Maar niks van Maria se omstandighede het verander nie, Sy verheug haar nie in wat God vir haar gegee het nie, maar wat Hy vir haar in Christus geword het. Watter groot dinge het God aan haar gedoen? Uitwendig niks nie. Maria besef dat die magtigste daad van God die geheim van verlossing was. Net een ding word in die Bybel die  krag van God genoem – die evangelie.  Psalm 8 sê dat die skepping van die heelal die werk van u vingers was – nie eers sy hand nie. God is teenwoordig – dit is Maria se seën.
  • ‘n Belofte. In Lukas 1:54 – 55 dink Maria aan God se beloftes. Die koms van Jesus was die vervulling van God se beloftes aan Abraham – deur sy nageslag sal al die nasies geseën word. Baie mense het gedink dat God al lankal van sy beloftes vergeet het. God het nie vergeet nie; Hy vervul sy beloftes. Jesus kom – ‘n groter seën as waarvan die mense gedroom het.

Om ‘n geseënde lewe te leef, beteken nie ‘n lewe sonder pyn en lyding nie. God het nie die wêreld deur Jesus se verheerliking verlos nie, maar deur sy vernedering en kruisiging.

Maria het die teenwoordigheid en beloftes van God as haar ware seën gesien. Maar nie omdat sy so merkwaardig was nie. Haar lied gaan oor God – sy karakter, beloftes, verlossing. Sy sien haarself as skuldig en swak – sy het hulp en sterkte nodig … sy het ‘n Verlosser nodig. Sy besing die grootheid van die Here – nie haar eie heiligheid nie. Christus het ons geneem toe ons nog swak en sondig was en versoen ons met God. Maak nie saak wat dit omstandighede is nie, dit is ware seën.

Leef ons soos mense wat ryklik geseën is? In die moeilikste omstandighede kan jy jou saam met Maria verheug, want jou seën kom van die teenwoordigheid en beloftes van God. Jy kan alles verloor, want in Christus het jy alles wat jy nodig het.