Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (1)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (1)

Mense dink en leef nie oral dieselfde nie. Daarom sê ons kulture verskil. Tog draai die hele wêreld om wat mense oor hulleself dink. In die een geval sal iemand in die straat aangerand word en almal sal verbystap (miskien met so ʼn ekstra vinnige passie by) en anderpad kyk. In ʼn ander geval word iemand aangerand en dan vernietig mense omtrent die hele stad. Waar lê die verskil? In die eerste geval het ons individualistiese denke: ek sorg vir myself en basta met die res. Ander mense se lot gaan my nie aan nie. In die tweede geval het ons groepsdenke. Een van die groep is aangerand en daarmee is die hele groep eintlik ook “aangerand”; die een se belange is ook die ander se belange. Daarom reageer almal saam.

In die Bybelse tyd was mense groepsmense

Die kultuur in die Bybelse tyd was ʼn groepskultuur. Mense is altyd met hulle familie, hulle herkoms of selfs die stad waar hulle vandaan kom, geassosieer. As jy hierdie inligting oor  ʼn persoon het, weet jy sommer ook baie van sy persoon. Daarom kry jy Simon, seun van Jona, Jesus van Nasaret, en so aan.

Met jou geboorte al kry jy die karaktertrekke van jou pa; jy aard na hom. En dan kom nog by dat jy baie noukeurig volgens die waardes en gedrag van jou groep grootgemaak word.(Daarom sê Jesus in Johannes 8:38 dat ʼn kind soos sy pa optree; hy het immers alles by sy pa geleer.) As jy in die dorp rondloop, moet mense kan sien aan watter groep jy behoort bloot op grond van jou naam en gedrag. Daarom wou die mense van Nasaret Jesus nie aanvaar nie, want hulle het sy familie geken en gesê dat niemand met so ʼn familie iemand belangriks kan wees nie (Markus 6:2-3). In Johannes 1:45-46 vra Natanael of iets goeds uit Nasaret kan kom. Die individu se karakter, wie hy was en wat hy gedoen het, is dus bepaal deur die groep waaraan hy behoort het. Omdat jou herkoms jou karakter bepaal, was geslagregisters so belangrik (Matteus 1:1-177; Lukas 3:23-38). Dit vertel sommer baie van die persoon met wie jy te doen het. As jy byvoorbeeld van koning Dawid afstam, beteken dit jy het ook blou bloed in jou are. Mense kan dus van jou optrede van daardie kaliber verwag.

Baie stereotipes het oor groepe en herkoms ontstaan. Die mense van Juda het byvoorbeeld gedink hulle is belangriker as die mense van Galilea – die tempel was immers in Juda. Daarom roep God nie ʼn profeet uit Galilea nie (Johannes 7:52). Natanael vra ook in Johannes 1:46 of daar iets goed uit Nasaret kan kom. Die Galileërs was weer bekend daarvoor dat hulle goeie soldate was.Stereotipe – ʼn Mens kan dit byna nie glo nie, maar in sommige gevalle het hulle selfs gedink die son en lug in party areas was beter as in ander areas. Daarom was die mense van die beter areas ook sommer beter mense. As iemand van ʼn spesifieke gebied dus ʼn atletiektoernooi, veral die Olimpiese Spele kon wen, het dit baie eer vir sommer die hele gebied gebring, want die oorwinnaar is een van hulle. Hulle is eintlik almal so goed soos die wenner, want hulle   deel mos sy gene.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt