Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (9)

Gesinne en waardes in die Bybelse tyd (9) – Jan van der Watt

Waardes was groepwaardes 3

Nog ʼn belangrike waarde vir die Mediterreense mens was eer. Eer was iets wat jy in die oë van ander gehad het; dit is wat hulle van jou gedink het. Dit was veral jou eie groep se opinie van jou wat baie getel het. As die Fariseërs dus vir Jesus probeer vasvra en Hy wys hulle tereg, styg sy aansien in die oë van die mense; só styg sy eer dus. As die mense vir Jesus “hosanna” toejuig as Hy Jerusalem inry, is dit ʼn teken van erkenning van sy eer. Wanneer hulle egter skreeu: “Kruisig Hom,” is dit om Hom te onteer. ʼn Mens was dus destyds wat jy in die oë van ander was. Dit het egter ook afgehang van wie die “ander” is. As die koning baie van jou dink, was jou eer hoog, al het die gewone mense nie baie van jou gedink nie. Dit is dan ook die argument wat ons baie in die Bybel kry: mense dink nie baie van gelowiges nie en vervolg hulle, maar in die oë van God is die gelowiges Koningskinders. Hulle eer is dus hoog omdat hulle in die oë van God belangrik is, maak nie saak van die res nie.

Dit is dus te verstane dat groepe hulle eer hoog probeer hou het deur hulle goeie naam te beskerm. As een van die groeplede die naam van die groep skade aangedoen het, moes hy tereggewys word. As ʼn mens nie volgens die waardes van die groep geleef het nie, het die groep jou gewaarsku om terug te kom en weer soos ʼn egte lid van die groep te leef. Dit was ʼn liefdesaksie om die afgedwaalde persoon weer in pas met die groep te kry (Matteus 18:15-20). As ʼn persoon hom glad nie meer aan die waardes van die groep gesteur het nie, is hy uiteindelik deur die groep verstoot (Johannes 9:28-34; 1 Johannes 2:18-19).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt