Gesprekke in my kop

 

The assurance of my salvation comes not from the fact that I did trust Christ but that I am trusting Christ for my salvation – Adrian Rogers

 

Gesprekke in my kop

Adam McHugh het ‘n interessante boek, The Listening Life, geskryf. Dit gaan oor die belang van oplettendheid in ‘n wêreld vol afleidings. Hy kyk onder andere na luister na God, die Skrif, die skepping, mense in pyn en na jou lewe. Hy vra ‘n interessante vraag: Wat sou gebeur as die kerk nie meer ‘n plek is waar jy luister (die kerk vertel vir jou dinge) nie, maar ‘n plek wat hoor – ‘n plek wat opreg luister na die stories van sy eie gemeenskap.

 

Baie interessant was die gedeelte  oor die onderskeiding van stemme. Ignatius van Loyola verwys hierna as “die geeste  wat dit wat ons in ons innerlike wese voel, beïnvloed.” Dit gaan oor die onderskeiding van stemme in ons koppe Hy glo dat as ons aan hierdie stemme name gee, bemagtig ons onsself om hulle boodskappe te aanvaar of te verwerp – en om dit teen die stem van Jesus te meet.

 

Wat op aarde bedoel hy hiermee? Meeste van ons is bewus van ‘n gesprek in ons koppe. Ons dink gedurig. Ons gedagtes word gevorm deur ons ondervindings in die verlede. Hulle kom na ons in die vorm van stemme – stemme van mislukking, teleurstelling en kritiek. Deur aan hulle name te gee, onderskei ons hulle van onsself. Hulle is nie ons nie. Hulle is bloot gedagtes wat ons kan aanvaar of verwerp.

 

As ons name aan hierdie stemme gegee het, moet ons leer om Jesus se stem te onderskei. McHugh verwys na die Vader se stem op die berg van verheerliking: Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom (Lukas 9:35). Luister na Hom … Wat sou dit nie vir ons beteken om na sy stem in plaas van die ou stemme in ons kop, te luister nie. Jy kan maar sê ons voed ons gedagtes ‘n ander dieet. Soms uitdagend; soms gerusstellend of oortuigend of bemoedigend. Miskien kan ons stem ‘n bietjie meer soos syne klink – ‘n stem van deernis. Ons mag selfs wys word.

 

Hoekom gee ons nie aandag aan Jesus se stem nie? Ons hoor so baie woorde dat ons daarin verdrink. Ons moet die een of twee woorde wat ons op ons lewensreis sal help aan boord neem en van die ander vergeet.

 

Mag God ons die genade gee om na Jesus se stem, te midde van al die daaglikse lawaai, te luister.