Gewoonte verplasingsterapie

 

“When I have nothing more to say I stop talking.”  Martin Luther

 

Gewoonte verplasingsterapie

Dit is feitlik onmoontlik om een gewoonte te staak sonder om ‘n ander een te begin. As jy die een gewoonte los, skep jy ‘n vakuum wat deur ‘n ander een gevul moet word. Daarom lees ons in die Bybel dat ons die ou mens moet uittrek en die nuwe moet aantrek. In Psalm 37 praat die psalmis oor skelms en skurke, maar dan verplaas hy dit: Vind jou vreugde in die Here (vers 4). Dit is die twee alternatiewe: dink na oor ongeregtighede of vind jou vreugde in die Here.

 

Hoekom nou juis die Here? Hoekom nie sport of my beroep of my besittings of my vriende nie? Omdat hulle nie die beste dinge is nie – God is die beste. Vreugde in God is die alternatief tot nadink oor ongeregtigheid, want God is die teenoorgestelde van ongeregtigheid.

 

As ek bly nadink oor ongeregtigheid veroorsaak dit angs, ongeduld, teneergedruktheid en onsekerheid by my. As ek my vreugde by die Here vind veroorsaak dit liefde, geduld, kalmte, vertroue en stabiliteit. In Psalm 37:4 lees ons van vreugde en die Here in dieselfde sin. Die ware Christelike geloof is ‘n plesier en vreugde. God veroordeel nie vreugde nie – ons moenie almal met lang gesigte rondloop nie. God sê dat ons vreugde in Hom moet kry. Wees opgewonde en entoesiasties oor Hom.

 

Maar waar moet ons begin? Jy kan nie vreugde in Hom kry as jy Hom nie ken nie. Lees die Bybel. Toe ongelowiges met Spurgeon oor Christelike vreugde gepraat het, antwoord hy hulle: We Christians do have joy, we do have delights, such that we would not part with one dram of ours for tons of yours; not drops of our joy for rivers of your delights.

 

Die psalmis sê dat as ons ons vreugde in die Here vind, sal Hy jou gee wat jou hart begeer. Dit beteken nie dat die Here ons alles sal gee wat ons wil hê nie. Die konteks van hierdie psalm is ‘n klaaglied oor ongeregtigheid en ‘n verlange na geregtigheid. Dit is die begeerte van die psalmis se hart. As ons ons vreugde in die Here vind word ons hart gekalmeer op twee maniere:

  • Ons hart word onmiddellik deur God se vrede gekalmeer. Ons het vir God nodig. As ons ons vreugde in Hom vind, sal ons Hom meer begeer. So begin ‘n siklus.
  • Ons hart word uiteindelik deur God se geregtigheid gekalmeer. Ons weet dat geregtigheid sal geskied; ons weet dat God dit wat verkeerd is, sal regstel.

 

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer (Psalm 37:4).