Gideon doen die onmoontlike

You’ve got to do your own growing, no matter how tall your grandfather was. –Ierse Spreekwoord

Gideon doen die onmoontlike

Gideon en sy slaaf Pura staan teen die berg en kyk af op die Jisreëlvlakte.  Daar sien hy 100 000 soldate van Midian. Daardie oggend het God geoordeel dat Israel se leër van 32 000 te veel is. Hoekom? Israel sal teenoor my spog en sê: “Ek het myself gered.” Daarom stuur Gideon almal wat bang was – 22 000 mans – huis toe. Nou is dit 10 000 teenoor 100 000. God voel daar is nog te veel manne. God gee vir Gideon ‘n snaakse bevel: Vat hulle af water toe, en daar sal Ek hulle vir jou sif. Hoe? Deur hoe hulle water drink.: Elkeen wat water drink soos ‘n hond dit met sy tong oplek, moet jy skei van dié wat kniel om te drink. Drie honderd het die water met die hand opgeskep. Hierdie 300 man moes saam met Gideon die vyand verslaan.

 

 Drie honderd – Gideon moes sekerlik God se oordeel in twyfel getrek het. Die vyand het meer kookvure gehad as wat Israel manskappe gehad het. Toe praat God met Gideon: Ek sal vir Midian in jou mag oorgee. Miskien het Gideon vir homself afgevra: Hoeveel manskappe was nodig om die Egiptenare by die Rooisee te vernietig? Niks nie. Hoeveel manskappe was nodig om Jerigo se mure te laat intuimel? Niks nie.

 In die geskiedenis van Israel was die magtigstes nie die sterk vegters nie, maar hulle wat op God vertrou het en Hom gehoorsaam het – al lyk dinge onmoontlik. God het belowe hulle sal die Midianiete verslaan. Daarom: vertrou Hom en gehoorsaam sy bevele.

 Daardie nag kom die Here by Gideon en sê vir Gideon: Kom, gaan na die Midianitiese laer toe.  Ek gee hulle in jou mag oor. Gideon en Pura gaan die kamp in en hoor ‘n man wat vir sy maat sê: Ek het gedroom daar kom ‘n ronde garsbrood in ons laer ingerol. Die brood het tot by die tent gerol, daarteen gestamp en dit laat omval. Die ander man antwoord: God gee Midian en sy hele leërs in Gideon se mag oor.

Toe Gideon die droom en sy uitleg hoor, gaan hy terug kamp toe en sê vir sy 300 manskappe: Kom, die Here gee die leër van Midian in ons mag oor. Hulle val die Midianiete aan. Die Midianiete vlug. Nie een van die Israeliete het omgekom nie.

Wat leer ons uit hierdie verhaal? Maar die regverdiges word deur die Here gered. Hy is hulle toevlug in tye van nood (Psalm 37:39). God gee vir ons meer as wat ons kan hanteer. Hoekom? Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe (2 Korintiërs 1:9). As ek voor ‘n probleem staan wat vir my te groot is, hou moed. Dink aan Gideon.