God as Pappa

God as Pappa – Francois Malan

Henriette vra:

Iemand my gevra hulle het Bybel deurgelees en vind nêrens in Bybel dat ons vir God as Pappa moet aanspreek nie. Nou voel hulle dis `n woord vir ons aardse vaders. Moet hulle of moet hulle nie vir Hom aanspreek as Pappa nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die Ou Testament word God, of die Verbondsgod ‘die Here’, min kere ‘Vader’ genoem,  slegs 16 maal (vgl. bv. die lied van Moses in Deutr. 32:6 waar die verbondsgod ‘die Here’ Israel se Vader genoem word, wat hulle geskep het; die Here se belofte aan Dawid oor sy seun in 2 Sam 7:14 ‘Ek sal vir hom ‘n vader wees en hy sal vir My ‘n kind wees;’ Ps 68:6 noem die Here ‘n Vader vir weeskinders; die belofte aan die koning uit die geslag van Dawid: ‘Hy sal My aanroep met die woorde: U is my Vader…’; Jesaja 9:5 die Seun wat gebore sal word, sal genoem word: Ewige Vader’; Maleagi 2:10 ‘Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep.’).

Toe die Seun van God, Jesus Christus, gekom het, het Hy ons geleer dat dié mense wat in Jesus glo, deurdat die Heilige Gees hulle aan Hom verbind, die voorreg ontvang om God ons Vader te noem en te aanbid as sy kinders vir wie Hy versorg. In die Nuwe Testament word God meer as 200 maal ‘Vader’ genoem.

Jesus leer sy volgelinge om in gebed God aan te spreek as ‘Ons Vader wat in die hemel is ’ (Matteus 6:9); of ‘Vader’ (Lukas 11:2).

Jesus het God ook so in sy gebede aangespreek, bv. Mat. 11:25 ‘Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde…’; of slegs ’Vader’ Joh. 12:27,28; en dan die gebed van Johannes 17: ‘Vader’ 17:1,5, 11 ‘Heilige Vader’, vs24, 25 ‘Regverdige Vader’; en Mat 26:39 in Getsemane: ‘My Vader…’(vgl. Luk 22:42); en toe Hy sterf: ‘Vader, in U hande gee Ek my gees oor (Luk 23:46).

Op drie plekke in die Nuwe Testament word die Aramese vorm ‘Abba’ gebruik: Mark.14:36 sê dat Jesus in Getsemane sy Vader aangespreek het as ‘Abba Vader’; In Romeine 8:15 sê Paulus dat die Gees ons tot God laat roep ‘Abba’, dit beteken ‘Vader’; in Galasiërs 4:6 sê Paulus ‘in ons roep die Gees van God se Seun uit: Abba! dit beteken Vader.’

Waarskynlik het Jesus in sy prediking en gebed die woord ‘Abba’ gebruik in Aramees wat Hy gepraat het. Die Nuwe Testament is in Grieks geskryf, en het Abba weergegee as die Vader, Vader, my Vader, ons Vader. Daarmee het Jesus die algemene benaming van kinders vir hulle vaders op sy verhouding tot God toegepas (vgl. bv. Lukas 2:48-50). Met die gebruik om God as Vader aan te spreek, is ‘n baie intiemer verhouding tussen gelowiges en God uitgedruk as wat in die Ou Testament moontlik kon wees, want ons kry die besondere voorreg om die Skepper-God ons Vader te noem, omdat ons in die nuwe verhouding tot Hom staan. Die Heilige Gees betrek ons in die liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. En dit gebeur omdat God se Seun Hom met ons kom vereenselwig het, ons sonde op Hom geneem het, en van ons kinders van God gemaak het, saam met Hom (Joh 1:12).

Die gebruik van ‘pappa’ of ‘pappie’ is ‘n vertederende vorm van ‘pa’ of ‘vader’. Dit sou seker uitdrukking kon gee aan ‘n intieme verhouding, maar teenoor God mis dit tog ‘n groot mate van respek. In ons verbondenheid met Christus Jesus as die Here van ons lewens en deur ons geloof in Hom kan ons wel met vrymoedigheid en vertroue na God toe gaan (Efesiërs 3:12), maar moet ons onthou dat Hy die Heilige God is, die Vader voor wie Paulus in eerbied kniel in gebed (Ef.3:14) en voor wie die engele en die gestorwe gelowiges en die ganse skepping in eerbied kniel, en die krone waarmee die Here hulle gekroon het voor sy troon neersit en sê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom; Here ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep (Openbaring 4:8-11)..

Hebreërs 5:7 sê Jesus se gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God.  So moet ons ook na God toe kom. Met die Vader mag ons nie te eie word nie, want aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid (Judas 1:25).

 

Skrywer: Prof Francois Malan