GOD BEWEEG MENSE OM SY WIL TE DOEN

A true education is never finished, and a finished education is of little use. — A.T. Robertson

 

God beweeg mense om sy wil te doen

Ons word dikwels, menslik gesproke, oorgelaat aan die genade van ander mense – hulle besluite en optrede. Hoe moet ons optree? Kan ek vertrou dat God in daardie persoon se hart sal werk? Volgens die Bybel kan ons God vertrou. God doen dit egter op so ‘n manier dat hierdie mense  dit vrywillig doen.

 

 

Ons sien dit in die proklamasie van koning Kores van Persië wat die Jode toelaat om na die ballingskap terug te keer. Ons lees die Here het koning Kores van Persië laat besluit om die proklamasie uit te vaardig (Esra 1:1). Die bestemming van Israel was in die hande van die magtigste koning – menslik gesproke – maar in werklikheid was dit in God se hand. Jesaja gee ons ‘n verdere insig: Ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, het Ek jou op jou naam geroep, gee Ek jou ‘n eretitel hoewel jy My nie ken nie … Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie (45:4 – 5).

 

Kores kan ‘n proklamasie uitvaardig, maar die Jode moet reageer. Ons sien dat die familiehoofde van Juda en Benjamin, die priesters en Leviete – elkeen in wie God die voorneme gegee het, het toe klaargemaak om die huis van die Here in Jerusalem te gaan bou (Esra 1:5). God het hulle harte aangeraak. Later lees ons dat die Israeliete die fees van die ongesuurde brood vier – met vreugde. Hoekom? Toe Hy die gesindheid van die koning van Assirië teenoor hulle verander het, en dié hulle hande gesterk het in die werk aan die tempel van die God van Israel (Esra 6:22). God beweeg mense – selfs konings – om sy doel te bereik.

 

Ons kry presies dieselfde in die verhaal van Daniël. Daniël vra toestemming om nie die kos van die koning te eet nie: God het die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek gestem teenoor Daniël (1:9). Dit gebeur ten spyte van die beampte se vrees vir die koning. Ons sien ook dat Paulus vir God bedank dat Hy Titus net so ywerig gemaak het om julle te help as wat ons is (2 Korintiërs 8:16). Titus reageer met entoesiasme hierop.

 

God is in beheer. Niks gebeur sommer toevallig nie. Hy beweeg mense om sy wil te doen.