God haat Esau – Hermie van Zyl

Leser vra:

Romeine 9:11-13

Boodskapteks: Ek verstaan nie hoekom ’n liefdevolle Vader uitdruklik sal sê Hy haat Esau nie. Ek glo nie aan die uitverkiesingsleer nie, maar tog lees ek dit in die genoemde deel. Verder lees ek dat die toekoms van die tweeling van Rebekka reeds voor hul geboorte uitgespreek is. Verduidelik asseblief.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl anywoord:

Die vraag raak eintlik twee kwessies: 1. die uitverkiesing in die algemeen, en 2. die verstaan daarvan in Romeine 9:11-13, spesifiek die kwessie dat God vir Jakob liefgehad maar vir Esau gehaat het. Oor 1. gaan ek nie hier handel nie, daar is genoeg bydraes oor die uitverkiesing op Bybelkennis.co.za. Ek verwys die vraagsteller graag hierna. Sleutel net “uitverkiesing” op die soekblokkie in en al die bydraes sal verskyn, ook dié wat ek self daaroor geskryf het. Ek is seker dat as die vraagsteller dit klaar gelees het, sal hy/sy anders dink oor die uitverkiesing as tans. Daar is soveel wanopvattings oor die uitverkiesing, maar ek kan die versekering gee: die uitverkiesing is nie iets waaroor ons bedruk of geaffronteer hoef te voel nie, asof God daarmee ons verantwoordelikheid as mense eenkant toe skuif en ons soos stokke en blokke na willekeur rondskuif sonder dat ons enige keuse het nie. Reg verstaan – soos die Bybel dit aanbied – is dit eerder ’n saak van verwondering en troos vir elke gelowige.

Oor die tweede kwessie – Romeine 9:11-13 – wil ek vervolgens in groter besonderhede handel. Om Paulus se argument hier te verstaan, is dit belangrik om dit binne sy breër konteks te sien. In Romeine 3-8 het Paulus die nuwe situasie beskryf met die koms van Christus: voorheen was die Jode die bevoorregte nasie; God het hulle sy volk gemaak deur met hulle ’n verbond aan te gaan en met hulle ’n besondere pad te loop. Maar nou het God sy redding uitgebrei na al die nasies toe. Hy het nou almal met homself versoen in Jesus Christus, en almal wat in Christus glo, deel nou in God se redding, ongeag wie jy is. Hierdie redding word nie gebou op jou eie godsdienstige prestasie – hoe goed jy die wet van God onderhou – nie, maar vloei enkel en alleen voort uit die genade van God. Ongelukkig het die Jode as nasie hierdie heilsweg verwerp; hulle het bly vashou aan getroue wetsonderhouding (= godsdienstige prestasie) as die manier om God te behaag. Nou ontstaan die vraag: wat is die posisie van Israel in die lig van God se nuwe heilsweg in Christus? Het God hulle afgeskryf? Het God sy beloftes aan Israel vergeet; geld dit nie meer nie? Dít is die vrae wat Paulus in Romeine 9-11 aan die orde stel.

Wat hierdie drie hoofstukke betref, loop die argument soos volg: In 9:1-5 betuig Paulus sy droefheid oor die Jode wat Jesus nie as die Messias wil aanvaar nie. Paulus is steeds voluit ’n Jood en sou wat wou gee – selfs om vervloek te word – as dit net tot hulle heil sou dien. In 9:6-10:21 handel Paulus vervolgens oor hoe bevoorreg die Jode was, dat God hulle uitgekies het, maar dat hulle in hardkoppigheid volhard het op ’n eiewillige weg van wetsonderhouding en nie die verlossing in Christus wou aanvaar nie. Daarom gaan God hulle verby en brei sy redding uit na die heidennasies toe. In hoofstuk 11 benadruk Paulus dat dit egter nie neusie verby is met die Jode nie. Hulle is miskien nou tydelik verhard, maar God gaan hulle jaloers maak op sy redding as hulle sien hoe die heidene daarin deel. Dan sal hulle weer die lig sien en sal God Hom oor hulle ontferm. En so sal Israel ook gered word.

Romeine 9:11-13 val dus in daardie gedeelte waar Paulus handel oor die bevoorregte posisie van die Jode. Hy prys hulle egter nie aan oor hoe voortreflik hulle die wet van God onderhou nie, maar beskryf hulle posisie as mense wat juis nie deur hulle uitnemende wetsonderhouding deel geword het van God se heil nie. Nee, hulle bevoorregte posisie is enkel en alleen toe te skryf aan God wat hulle soewerein en vrymagtig gekies het. Hulle het niks gedoen om hulle saligheid te verdien nie. God se soewereine optrede blyk daaruit dat Hy reeds aan die begin van Israel se geskiedenis, by die aartsvaders, dit duidelik gemaak het dat nie almal wat fisies Israeliete is, waarlik Israel is nie (’n gedagte wat Paulus later in 11:1-6 uitbou rondom die oorblyfsel uit Israel wat uit genade deur God uitverkies is). Daar is ’n fisiese lyn en ’n geloofslyn. En dis laasgenoemde wat die eintlike Israel is. Die onderskeid tussen hierdie twee lyne illustreer Paulus aan die hand van Abraham en Isak, en Jakob en Esau. Die belofte wat God aan Abraham gemaak het, was dat Hy vir Abraham ’n God sal wees en dat dié se nageslag vir God ’n volk moet wees. Maar dit het gou geblyk dat nie almal wat uit Abraham gebore is, waarlik kinders van Abraham was nie. Abraham het in eie krag vir hom ’n nageslag probeer verwek, en Ismael was die gevolg daarvan – die fisiese lyn. Maar God toon aan dat slegs Isak die seun van die belofte – die geloofslyn – was, juis hy wat in Abraham se ouderdom, toe Abraham nie meer kinders kon verwek nie, as ’n Godswonder uit Sara gebore is. En op sy beurt was dit net één van Isak se twee seuns wat die geloofslyn voortgesit het, naamlik Jakob, nie Esau die eersgeborene nie. En dan volg die belangrike woorde: Al hierdie gebeure is afhanklik van God se uitverkiesing; dit hang nie af van wat ’n mens doen nie, maar van God wat verkies en roep. Die vraag is nou, is dit nie onregverdig nie (v14)? Het die mens dan geen sê in sy eie heil nie? Hieroor moet ons ’n paar opmerkings maak.

Eerstens, die woorde “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat” (v13) is ’n aanhaling uit Maleagi 1:2-3. In laasgenoemde teks handel dit nie soseer oor Jakob en Esau as individue nie, maar oor hulle as verteenwoordigers van volke, naamlik Israel en Edom respektiewelik. En dít is ook die fokus in Romeine 9:11-13, want Paulus is besig om Israel as volk se huidige heilsposisie te beskryf, dat hulle nog altyd weens God se besondere bemoeienis ’n bevoorregte posisie beklee het – hoewel nie vanweë hulle inherente voortreflikheid nie, maar vanweë God se soewereine keuse. En dit is dan ook hoe die woorde “liefhê” en “haat” hier verstaan moet word. Hulle beskryf nie tipies menslike emosies van liefhê en haat nie, maar is ’n erkende Semitiese uitdrukking, ’n soort tegniese term, om Goddelike voorkeur uit te druk. Dit gaan dus nie oor ’n opwellende emosie van haat by God teenoor Esau nie (God is liefde; Hy haat niemand nie), maar daaroor dat Hy in sy heilsekonomie ’n bepaalde werkswyse gevolg het waar Hy vrymagtig en soewerein in sy Goddelike alwysheid besluit het om op Jakob se nageslag te fokus, nie op Esau s’n nie. Om hierdie bedoeling beter uit te druk, sou mens hier meer kontekstueel kon vertaal: “Vir Jakob het Ek gekies, maar vir Esau het Ek nie gekies nie”. En wat dít beteken, word nou verder verduidelik.

Tweedens, as hier staan dat God nog voordat Jakob en Esau gebore is, gesê het dat die oudste die jongste sal dien, dan klink dit asof ons met ewige en onveranderlike besluite van Goddelike willekeur te doen het: sommige verkies Hy lank voor hulle geboorte vir ewig en ander verwerp Hy vir ewig, en so staan dit vas vir tyd en ewigheid. En uiteraard beleef ons dit as arbitrêr en onregverdig. Vandaar ook die vraag in v14: “Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is?” Maar ons moet mooi begryp dat dit nie die ewige saligheid en verdoemenis van Jakob en Esau is waaroor dit hier gaan nie, maar die lotgevalle wat hulle in die tyd te beurt val. In teologiese taal sê ons dat die uitverkiesing en verharding waarvan hier sprake is heilshistoriese begrippe is. Dit beteken dat God ’n bepaalde keuse uitoefen om sy heil in die gang van die geskiedenis ’n sekere loop te laat neem. Dit verloop nie hoe die mens daaroor dink – via die eersgeborene, Esau – nie, maar via die lyn van Goddelike keuse en belofte, naamlik Jakob. Uitverkiesing en verharding het dus niks te make met die ewige lot van twee individue wat onveranderlik vooraf vasgelê is nie, maar verwys na die dinamiese gebeure van die geskiedenis, hoe God die geskiedenis rakende Israel en Edom gelei het sodat God uiteindelik sy heilsdoel met die hele wêreld sou bereik.

Derdens, as ons sê dit handel hier oor God se soewereine handelwyse in die lotgevalle van mense, dan val die klem nie op wat mense doen of nie doen nie, maar op wat God doen. Hierdie gedagte loop soos ’n goue draad deur Romeine 9. Die Jode was besonder trots op hulle godsdienstige prestasies, hoe getrou hulle die wet uitleef (vgl v32), maar in Romeine 9 sê Paulus dat Israel se heilsposisie in die oë van God niks te make gehad het met hulle prestasie, of hulle iets goeds of kwaads gedoen het nie, maar met God wat hulle gekies en geroep het (v11-13). Hierdie insig illustreer Paulus vervolgens in die geskiedenis van Moses en die farao (v14-18): God kies vrymagtig oor wie Hy Hom wil ontferm en wie Hy wil verhard. Paulus gebruik ook die voorbeeld van die pottebakker wat uit die klei tot sy beskikking iets besonders én iets alledaags maak (v21). Dis nie vir ons om vir God voor te skryf hoe Hy sy heil moet toeberei en beskikbaar stel nie. Hy het dit aanvanklik vir die Jode gegee, maar nou ook vir die heidene (v24-29). En dan sluit Paulus hierdie argument van God se soewereine handelinge af deur te sê dat die heidene wat God se vryspraak nie gesoek het nie, dit wel gekry het – deur die geloof; hulle is dus ook deel van die geloofslyn wat al van Abraham af kom. En die Jode wat God se vryspraak deur wetsprestasies probeer verkry het, het dit nie gekry nie (v30-33). Weer eens, die mens kan nie vir God voorskryf hoe Hy te werk moet gaan in die beskikbaarstelling van sy heil nie; God handel soewerein hierin. En wat ons ook goed moet besef, is dat wanneer God so soewerein handel, dit altyd met sy heil of redding te doen het. Hy is nie onregverdig wanneer Hy vrymagtig optree nie, maar Hy tree juis so op omdat Hy sy heil aan almal beskikbaar wil stel – nie net aan die Jode nie, maar ook aan die heidene. Ons kan God dus nie verwyt as Hy vir ons gevoel onverstaanbaar en selfs “onregverdig” optree nie. In sy alwysheid volg Hy juis ’n bepaalde weg in die geskiedenis om so sy goedheid aan almal te bewys.

Vierdens, dat God se verkiesing en verwerping nie ewige en onveranderlike begrippe is nie, word daarin geïllustreer dat Israel nie vir ewig verwerp word omdat hulle nie nou vir Christus aanvaar nie. Daar is nog hoop vir hulle. Romeine 11 beskryf hoe die redding van die heidene vir Israel nog jaloers gaan maak, en dan kan die mak lote van die olyfboom (Israel) weer terug geënt word op die olyfboom. Dit hang alles van Israel af, of hulle in ongeloof volhard of nie. So sien ons dat Goddelike uitverkiesing en menslike verantwoordelikheid nie onderling uitsluitende begrippe is nie, maar mekaar juis insluit. God se soewereine handelinge wanneer Hy kies en “verwerp” sluit nie die mens se verantwoordelikheid uit om daarop te reageer nie. God neem ons geloof en keuses in die tyd baie ernstig op. Daarom, die rede hoekom die Jode tans uitgesluit is, is nie omdat God hulle verwerp het nie, maar omdat hulle nie glo in Christus nie. Dit kan egter verander. Net so mag die heidene wat tans as wilde takke geënt is op die olyfboom (deel in God se genade) hulle nie aanstel oor Israel nie. Die heidene wat nou glo in Christus se posisie kan ook verander. As hulle nie volhard in God se goedheid nie, kan hulle weer uitgekap word (11:22). Goddelike verkiesing en verharding werk sigself dus altyd dinamies in die geskiedenis uit. Dit het niks te make met onveranderlike besluite vanuit die ewigheid wat maak dat mense vir ewig in ’n kategorie van verkiesing of verharding vasgevang is, ongeag of hulle glo of nie glo nie. Nee, wanneer God soewerein en vrymagtig kies, is dit om sy genade en redding beskikbaar te stel. Maar dit bly altyd die mens se verantwoordelikheid om te kies of hy in daardie stroom van genade wil deel of nie. Oor God se verkiesing staan mens altyd in verwondering: ons kan in vryheid daarop antwoord, maar ten diepste weet ons, ons kan dit nie weier nie. God se heilswerking in die geskiedenis is en bly ’n misterie; dit is enersyds onweerstaanbaar, maar andersyds laat God die mens ook toe om in vryheid te kies.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl