God heers oor die nasies

The primary qualification for a missionary is not love for souls, as we so often hear, but love for Christ. —Vance Havner

 

God heers oor die nasies

God is Here oor die mens se geskiedenis – Hy laat alles gebeur volgens sy raadsbesluit (Efesiërs 1:11). God se soewereiniteit is gewoonlik nie ooglopend nie. As ons kyk na Jesus se geskiedenis. Dit is keiser Augustus wat ‘n dekreet uitvaardig vir ‘n sensus. Die gevolg is dat Josef en Maria na Betlehem moet reis waar Jesus gebore word. Dit vervul die profesie van Miga 5:1: Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede! Augustus se doel wat sekerlik nie om ‘n Ou Testamentiese profesie te vervul nie.

In die gebed van die gelowiges (Handelinge 4:27 – 28) lees ons: Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen  u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het.

 

As die Bybel praat van God se soewereiniteit oor die nasies is daar sekere waarhede wat uitstaan.

  1. God vestig regerings vir die beswil van alle mense – gelowiges en ongelowiges. Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God … want die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil (Romeine 13:1, 4). Ons aanvaar hierdie stelling baie moeilik. Ons moet altyd onthou dat God met ‘n ewigheidsperspektief werk en ons met ‘n tydelike perspektief. Daarom Paulus se oproep dat ons vir almal wat regeer en gesag uitoefen moet bid (1 Timoteus 2:2). Die feit dat die heerser se hart in God se hand is, is ‘n stimulus om te bid – dit is nie ‘n rede vir ‘n fatalistiese gesindheid nie.
  2. God bepaal wie heers. Nebukadnesar was die heerser in Daniël se tyd. So sal alle mense weet dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dat Hy dit gee aan wie Hy wil; Hy stel selfs die onbelangrikste mens daarvoor aan (Daniël 4:17).
  3. God bepaal die tyd wat heersers regeer. Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai,, skaars het hulle wortelgeskiet of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind waai hulle weg soos stoppels (Jesaja 40:23 – 24). Ons sien dit in die lewe van Nebukadnesar (Daniël 4). God onthef hom van sy koningskap en hy word uit die samelewing uitgestoot – hy eet selfs gras. Dit duur ‘n beperkte tyd: Dan sal jy moet erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil (vers 32).Aan die einde van die tydperk herstel God hom weer. Geen regering of diktator is so magtig dat hulle buite God se soewereine heerskappy val nie.
  4. 4.God beheer alle besluite. Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom (Spreuke 16:33). God beheer selfs daardie besluite wat die mens dink hy neem deur daaroor te loot. ‘n Baie interessante verhaal is dié van Absalom wat raad vra by Agitofel en Gusai. Dan lees ons: Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring (2 Samuel 17:14). Rehabeam vra raad by die ouer en jonger manne. Hy verwerp die raad van die ouer manne: Dit was ‘n beskikking van die Here sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het (1 Konings 12:15). In beide gevalle word goeie raad verwerp; in beideword dit toegeskryf aan die soewereine werk van God wat leiers se denke kan rig om sy wil te bereik.

 

Uit wat ons tot dusver gesê het, kan ons sekere gevolgtrekkings maak.

  • God werk in die harte en verstand van heersers/regeerders om sy soewereine wil te bereik. Hulle neem elke besluit vryelik – meestal sonder dat hulle eers aan God en sy wil dink.
  • God veroorsaak soms dat heersers/regeerders dwase besluite neem om oordeel oor ‘n nasie te bring.

 

Ons plig is om te bid dat ons leiers wyse besluite neem, maar ons moet God vertrou as dwase besluite geneem word.