God het deur sy woorde gepraat

 

“… marriage is foremost a vocation. Two people are called together to fulfill a mission that God has given them. Marriage is a spiritual reality. That is to say, a man and a woman come together for life, not just because they experience deep love for each other, but because they believe that God loves each of them with an infinite love and has called them to each other to be living witnesses of that love. To love is to embody God’s infinite love in a faithful communion with another human being.” – Henri Nouwen

 

God het deur sy woorde gepraat

Geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig (2 Petrus 1:20 – 21).

God se profetiese boodskap kry ons in die Skrif. Wat die profete geprofeteer het, was nie hulle eie boodskap of interpretasie of persoonlike mening nie. Ware profesie is nooit die produk van die menslike wil nie. Die profesie kom van God en sy Heilige Gees het die profete gelei om neer te skryf wat God beplan het.

 

Die profete skryf in die taal en wyse van hulle tyd – Hebreeus, Aramees en Grieks. Ons kan dikwels uit hulle skrywes sien watter soort persoon hulle was. Die Heilige Gees gebruik alles – tyd, plek, taal en persoon self – om te skryf presies wat God wou gehad het, neergeskryf moet word. Daarom kan Paulus met vertroue sê: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:16 – 17).

 

Soek jy onderrig wat van God kom? Gaan na die Skrif. Het jy regstelling nodig? Gaan na die Skrif. Daar gee God self vir jou rigting sodat ons na Hom kan terugkeer. Die Skrif berei ons deeglik vir elke goeie werk voor. God het ten volle en duidelik deur die Skrif gepraat. Die Bybel is in werklikheid ‘n biblioteek met 66 boeke. In die proses het God veertig verskillende skrywers oor ‘n tydperk van 1500 jaar gebruik. Tog vertel almal een verhaal. Die Bybel is die Here se boek.

 

Maar hoe praat God met ons? In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in die laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun (Hebreërs 1:1 – 2). Beteken dit dat die profete niks meer vir ons te sê het nie? Nee, in die Hebreërboek self kry ons baie aanhalings en lesse uit die Ou Testament. God se hoofmanier van praat, is egter deur sy Seun. In Hebreërs 3:1 – 6 sien ons dat Jesus is groter heerlikheid  waardig geag as Moses.

 

God het in twee dele gepraat:

Tyd: In die verlede … nou, in die laaste dae.

Groepe: Ons voorvaders … met ons.

Metodes: Deur die profete … deur die Seun.

 

In die verlede was die belangrikste manier waardeur God gepraat het deur sy profete. God het egter die hele tyd beplan om ‘n beter metode – sy Seun – te gebruik. Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (Hebreërs 1:3).

 

Die ou profete gee baie van die basiese kennis wat ons nodig het. Wat hulle gesê het, is steeds waar. God wil egter hê dat ons meer volledig moet weet hoe Hy is. God het baie om vir ons te sê, en daarom moet ons na sy Seun luister.