God het van oordeel gepraat (2)

 

 “The remarkable thing about God is that when you fear God, you fear nothing else, whereas if you do not fear God, you fear everything else.” – Oswald Chambers

 

God het van oordeel gepraat (2)

In die vorige blog het ons gesien dat God se oordeel onvermydelik is. Hoekom is God kwaad?  Deur net na Romeine 1 te kyk, kry ons ‘n hele aantal antwoorde. Kom ons kyk na ‘n paar:

  • Omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie (1:21).
  • In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange (1:23).
  • Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig (1:25).

 

Ons hanteer dinge wat God gemaak het asof dit Hom kan vervang. Die dinge wat ons moes help om God te eer en te ken, word nou teen Hom gebruik – dit word wapens om die kennis van God te vernietig. Ons draai weg van God se waarheid en verruil dit vir die leuen.

 

Wat doen die mens as hy sy rug op God keer? Hy maak vir hom ‘n meer aanvaarbare “God.” Kyk net wat het by Sinai gebeur. God gee aan die hele volk die tien gebooie. Luister na die tweede gebod: Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie (Eksodus 20:4). Maar die mense word moeg om te wag vir Moses om van die berg af te kom. ‘n God wat jy nie kan sien nie en wat so tydsaam is, was vir hulle onaanvaarbaar. Daarom maak hulle vir hulle ‘n ander “god” – ‘n goue kalf (Eksodus 32).

 

Luister wat sê die volk oor hierdie goue beeld: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel! Aäron bou selfs ‘n altaar waarop die volk offers vir hierdie nuwe “god” kan bring. Hulle glo dat aanbidding vir die ware God moes wees, maar hulle wou Hom nie in sy huidige vorm hê nie. Hulle soek ‘n god wat hulle sou toelaat om te leef soos hulle wil.

 

Volgende keer gaan ons kyk na die aanbidding van afgode en demone.