God is Gees

“Our greatest fulfillment lies in giving ourselves to others.” Henri Nouwen

God is Gees

‘n Mens wil graag jou eie idees oor God vorm. Miskien is dit om Hom maklikr te verstaan en te beheer. Die ware God is egter te groot vir ons om te verstaan. By die inwyding van die tempel sê Salomo: Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het (1 Konings 8:27). Paulus sê vir die Ateners dat God nie ver van enigeen van ons is nie (Handelinge 17:27). Hoe is dit moontlik dat een mens die heelal vul en tog naby aan elkeen van ons is?

 

Die antwoord kry ons in Johannes 4:24: God is Gees. ‘n Gees het nie vleis en bene nie. Die menslike liggaam  is beperk – hy word op dieselfde plek en tyd vasgevang. ‘n Mens kan nie op twee plekke gelyk wees nie. Sulke beperkings geld nie vir ‘n Gees nie. God as Gees is so groot dat Hy oral teenwoordig is – op alle plekke en op alle tye. Hy kan dus alles beheer; ons kan nie van Hom wegkruip nie.

Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontvlug?  Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas (Psalm 139:7 – 10).

 

Maar tog lees ons dat die Bybel van God se hande en oë praat. Hoe is dit moontlik as Hy Gees is? God gebruik dinge wat ons kan verstaan om dinge te verstaan wat veel groter as ons verstaansvermoë is. Hy het nie ons aardse soort hande en voete nie. Hy gebruik die woord oë as Hy sien en hande en voete as Hy oor sy optrede praat.

 

Ons moet altyd onthou dat ons baie klein teenoor Hom is. Daar is baie dinge van God wat ons nooit ten volle sal kan verstaan nie. Daarom  moet ons in vertroue aanvaar wat God sê. Hy weet die beste oor hoe om ons van dinge veel groter as onsself te vertel.