God is oppermagtig oor al die nasies (2)

Let us believe whatever they can show us out of the Bible, but not a single word more –  J. C. Ryle

God is oppermagtig oor al die nasies (2)

In Jesaja 13 – 20, ‘n gedeelte wat ons gewoonlik vinnig lees, is daar drie primêre waarhede wat Jesaja beklemtoon. Vandag kyk ons na die eerste van hierdie waarhede:God is teen die hoogmoediges.

 

Hierdie is die grootste sonde van die mens. Ons het gehoor van die hoogmoed van Moab, van sy trots, sy vermetelheid, sy hoogmoed, sy hovaardigheid, maar sy grootpratery het tot niks gelei nieI (16:6). Jesaja gebruik vier woorde om Moab se trots te beskryf.

In vers 5 lees ons van trou … betroubaar … beywer vir wat reg is … reg laat geskied.  Moab kon dit alles gehad het, maar dan moes hulle in nederigheid voor God kom. Vir hulle was die prys net te hoog.

Wat sien God in die hart van die koning van Assirië? En dit is jy, jy wat gedink het: ek klim op hemel toe … ek word soos die Allerhoogste self (14:13 – 14). Kry ons nie nog steeds die selfde in ons wêreld nie? Dink ons nie te veel van onsself nie? Glo ons nie ons is op sekere dinge geregtig nie? Jesaja sê dat trots nie beperk is tot ‘n paar mense nie – dit is die gees van ons wêreld. Self-worship is the religion of mankind (Arnold Toynbee).

Ons weiering om in nederigheid voor God te kom, is die kern van sonde. Dit is die begin van al die misplaasde pogings om onsself te red. In die Magnificat sê Maria: Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog (Lukas 1:51 – 52). Jesus stel dit baie sterk: Wat deur die mense as belangrik beskou word, is ‘n gruwel voor God (Lukas 16:15).

Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges (Romeine 12:16). As ons wêreldvrede wil hê, is dit waar ons moet begin. Jesus sê: Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang (Matteus 5:5). Nederigheid is die gees van Jesus Christus en trots die gees van die antichris.

In die volgende blog gaan ons na die tweede primêre waarheid wat Jesaja in Hoofstuk 12 – 20 beklemtoon, kyk: God regeer.