God kommunikeer

 

My house shall be called a house of prayer, but you have turned it into a nursery for coddled Millennials” – Jim West

 

God kommunikeer

God is ‘n kommunikeerder. Deur te praat, het Hy alles gemaak. Sy woord is doeltreffend. Ons weet nie alles en verstaan nie alles van Hom nie, maar wat ons weet, het Hy aan ons bekend gemaak. Alles wat Hy van Homself bekend gemaak het, is genade vir ons. Wat ons van God weet, is in sy woord aangeteken. Die woord van God en die Heilige Gees om dit te verlig vir ons, is twee van die grootste gawes wat God aan sy kinders kan gee.

Net omdat God kommunikeer, beteken nie dat almal gretig is om sy woord te hoor nie. Party reageer soos die ryk jongman – hulle verwerp dit en loop weg. Ander, soos Feliks, wou nie dit wat hy gehoor het hanteer nie – hy het aanvaar hy sal nog ‘n geleentheid kry om te reageer (Handelinge 24:24 – 26). Die ideale reaksie is soos dié van Maria – in geloof en aanvaarding: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat U gesê het (Lukas 1:38).

Die reaksie op God se boodskap is dikwels ongeloof, ontkenning, verontagsaming en verwringing. Hoe ons op God en sy woord reageer, is van ewigheidsbetekenis. As ons sy boodskap verwerp, verwerp ons Hom; as ons sy woord gehoorsaam, gehoorsaam ons Hom.

Hoe reageer ons op God se woord? Kan ander sien dat God se woord ‘n prioriteit in my lewe is? Onderwerp ek my met blydskap aan wat Hy sê? Mag God in ons die begeerte wakker maak om sy boodskap te gehoorsaam; laat ons ons verheug in die grootste Woord wat God nog ooit met ons gepraat het: Jesus Christus.