God maak rokke

God maak rokke – Francois Malan

Jan vra:

Genesis 3: 21: En die Here God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek. God is Gees en ek wonder hoe Hy dan ‘n bok kon slag, die velle bewerk en rokke daarvan maak en om die twee dit te laat aantrek. Ek wil spekuleer dat Adam dit moes doen op die voorskrifte van God – maar dit is nie wat daar staan nie.

Antwoord:

Prof François Malan antwoord:

Calvyn het dieselfde gevoel gehad as die vraesteller, dat dit heeltemal in stryd is met die geestelike, onsienlike wese van God om ons voor te stel dat Hy, die Almagtige, eiehandig ‘n paar diere sou afslag, die velle aanmekaar werk en dit vir die twee aantrek. Hoe dit presies geskied het, kan ons nie sê nie. Maar die feit is dat God aan die eerste mense die eerste klere gegee het.

God vervang die onvoldoende verganklike blaarskorte (voorskote, Hebreeus chegorot), wat slegs hulle seksuele organe bedek het, met rokke (Hebreeus katenot) van diervelle, wat van die nek tot by die knieë of enkels bedek, wat later vir die priesters voorgeskryf is (Eks.28:41-42 maar vir hulle van linne gemaak is).

Volgens 3:21 het God die klere gemaak, wat die eerste slagting veronderstel. In 4:4 bring Kain die eerste diereoffer, en in 9:1-4 gee God die diere ook as kos vir die mens, terwyl 1:29 hulle kos tot plante beperk het voor die sondeval.

Dit is die kort antwoord op die vraag. Daar is ook ‘n baie lang antwoord, wat ek kortliks sal probeer opsom.

Die boeke Genesis tot Deuteronomium is waarskynlik op sy vroegste geskryf in die tyd van Dawid (1000 v.Chr.) of meer waarskynlik van sy seun Salomo (970-930 v.Chr.) [sommige verklaarders plaas hulle eers tydens of na die Babiloniese ballingskap tussen 600-500 v.Chr.]

Die skrywer het gebruik gemaak van geskrewe bronne, waarvan sommige tot by Moses sterk (1230 v.Chr), maar meesal van mondelinge oorlewerings. So plaas hy bv. twee skeppingsverhale na mekaar (1:1-2:4a; 2:4b-4:26), en twee verhale oor die verspreiding van die nasies (10:1-32; 11:1-9). Hy het ‘n kunswerk geskep en sy eie interpretasies gegee. Die eerste 11 hoofstukke is voorgeskiedenis, as inleiding tot die eintlike geskiedenis van God se verbond met die aartsvaders, wat met Abraham begin in 11:10. In die voorgeskiedenis wys die skrywer die plek van die mens in die skepping aan, en die plek van Israel in die volkerewêreld. Die skrywer bely dat die Here die aarde en die mens geskep het en die groot vloed gestuur het. Die skrywer het die velklere gesien as bedekking vir die mens wat in sonde verval het om sy skaamte te bedek, maar ook as ‘n herinnering aan sy sondigheid wat die dra van klere nodig gemaak het. Soos die mens God nie direk kan aanskou nie (Eksodus 33:20), mag die mens ook nie voor God onbedek lewe nie.

In Babilonië van die ballingskapstyd (597-520 v.Chr), en veel vroeër in die Sumeriese en Akkadiese tye, nog voor Abraham (1750 v.Chr.), was daar verhale oor die skepping en die groot vloed. In ‘n sekere sin is die eerste 11 hoofstukke van Genesis ‘n antwoord teen dié heidense verhale met hulle gode.

Die ou heidense stukke het melding gemaak van die verleidster wat die mens effektief verlei het, maar dat die mens daarna deur die natuur verwerp is, en sy vir hom sê dat hy nou wys is en soos ‘n god is. Daarna het sy sommige van sy klere verbeter en dit vir hom aangetrek om sy nuwe status aan te dui. Daarteen getuig die skrywer van God se genade wat die mens geklee het en geleer het om klere te maak. Maar hoe dit gedoen is, word nie uitgespel nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan