God se manlikheid

God se manlikheid – Francois Malan

Saartjie vra:

My man is in twyfel oor God se geslag. Hoewel daar in die Bybel duidelik staan God die Vader beweer hy dat daar tog mense is wat dit betwyfel. Wat sê u?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

God bestaan buite die grense van ons verstaan, en ons kan nie ons beperkte idees en belewenisse van vaderskap en manlikheid op God toepas nie.

In Jesaja 55:8-9 sê die Here: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

Paulus sê in Romeine 11:34-36: O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy veplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid.

Jesus sê in Johannes 4:24: God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.

In die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees is daar nie sprake van manlikheid of seksuele voortbringing nie. Dit is ‘n ewige verhouding wat van ewigheid af bestaan.

In sy woord openbaar God Hom aan ons as die ewige Vader van ons Here (‘regeerder’) Jesus (‘verlosser’) Christus (‘gesalfde’ koning, priester, profeet), en die Heilige Gees wat saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is, wat ewig by ons kom bly om geloof in ons te skep in die ware God, Vader Seun en Gees, en die nuwe skepping wat Christus kom bewerk het in ons lewens uit te werk.

Vanuit die liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees (vgl. 1 Johannes 4:8,16 ‘God is liefde’) sien ons dat ons aardse vaderskap ‘n baie swak beeld van God se vaderskap is, wat ons vaderskap onder kritiek stel en aan ons vaderskap nuwe betekenis en waarde wil gee. God se Vaderskap en liefde vir sy wêreld wat Hy geskep het, het sy geliefde Seun aan ‘n kruis laat sterwe vir ons sonde, sodat ons die ewige lewe kan hê saam met sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het (Johannes 3:16). Dit gee Hy aan dié wat in sy Seun glo deur die werking van sy Heilige Gees.

Vir die gemeente in Korinte sê Paulus in 1 Kor.8:5-6: teenoor die heidene se baie sogenaamde ‘gode’ en ‘here’ is daar vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Malan