God se onbreekbare liefde

 

We cannot change things and we will not accomplish anything, no matter how much we may torture ourselves with worrying. — Martin Luther

 

God se onbreekbare liefde

Jesaja 40 en Psalm 23 is sekerlik die gedeeltes in die Ou Testament wat ons die meeste hoor. G. F. Handel het Jesaja 40 gebruik aan die begin van sy “Messias.” In Jesaja 1 – 39 veroordeel die profeet vir Israel vir ‘n aantal sondes – veral hulle weiering om die weduwees, die weeskinders en die vreemdelinge te versorg. Die volk het nie God se wil en weg gevolg nie.

 

Dan skielik kom Jesaja 40. Ons hoor ‘n ander skrywer. Luister net na sy openingswoorde: Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir die volk sê. Ons as Christene glo dit kondig die koms van Jesus aan. Uiteindelik uitkoms – finaal en volledig.

 

Hierdie woorde van die profeet is gerig aan die ballinge wat uit Babilon terug gekeer het. Is ons nie ook ballinge nie? Ons huis is in God wat ons oproep om ons naaste lief te hê, die armes lief te hê, die geringes te dien. Ons hoop is die roeping en teenwoordigheid van God. Ons het uitkoms nodig – Iemand wat vir ons uitkoms kan gee. In Jesaja 40 hoor ons dat uitkoms hier is. Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes (vers 2).

 

Hier is ‘n duidelike stelling van God se genade. Hier sien ons sy onbreekbare liefde. Dit is die boodskap wat ons oor en oor moet verkondig – veral in Kerstyd, maar dwarsdeur die jaar. Ons is in ballingskap, maar dit is ons eie skuld. Ons het nie ons naaste lief nie; ons hoor nie die uitroepe van die behoeftiges nie. Ons word egter nog steeds deur God vertroos … om hierdie dinge te doen.

 

Is dit nie die tema van die Kerstyd nie? God gee uitkoms sodat ons sy kinders kan wees – sy agente in die wêreld bemagtig deur sy liefde.