God se soewereiniteit; die mens se verantwoordelikheid

There are far, far better things ahead than anything we leave behind – C.S.Lewis

 

God se soewereiniteit; die mens se verantwoordelikheid

Hoe hou ons werk in hierdie wêreld verband met God se werk? Daar is drie moontlikhede.

 

  1. God doen niks nie en ons doen alles

Hierdie mense glo dat daar nie ‘n God is nie en daarom moet hulle volle verantwoordelikheid aanvaar. Baie Christene is praktiese ateïste: kom hulle voor ‘n probleem te staan, probeer hulle dit self oplos. Ons gaan onmiddellik in probleemoplossingsmodus in in plaas daarvan dat ons ons probleme aan God oorgee en vra dat Hy ons moet help.

As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat die Here liefhet, gee die Here dit in hulle slaap (Psalm 127:1 – 2).

Salomo se boodskap gaan eintlik dieper: wat is die sin van ‘n nuwe huis of ‘n veilige stad sonder God? Die lewe floreer nie sonder God nie.

 

  1. God doen alles en ons doen niks nie

Christene steek soms luiheid en passiwiteit weg in ‘n geestelike kleed – let go and let God.  Ons sê: “Ek bid vir jou,” in plaas daarvan dat ons prakties help. Maar bevorder Psalm 127 nie juis luiheid nie – dit help nie om vroeg op te staan en laat te gaan slaap nie. Let op: Dit is waar dat God die huis bou, maar daar is steeds mense wat bou; dit is waar dat God die stad beskerm, maar daar is steeds wagters wat waak.  “It is not the will of the Lord that we should be like blocks of wood, or that we should keep our arms folded without doing anything; but that we should apply to use all the talents and advantages which [God] has conferred upon us.” (Johannes Calvyn)

 

  1. God doen alles en ons doen iets

Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (1 Korintiërs 15:58).

Ons moet egter altyd onthou dat ons nooit soveel as God doen nie Ons het God nodig, maar Hy het nie vir ons nodig nie. As ons weet dat God in en deur ons werk, gee dit aan ons die moed en vertroue om meer aktief te wees in die werk wat Hy vir ons beplan het. Paulus stel dit so:

Ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is (1 Korintiërs 15:10).

 

God is soewerein, maar dit beteken nie dat ons nie ook ‘n verantwoordelikheid het nie.