God se tuin

 

Legalism lacks the supreme sense of worship. It obeys but it does not adore. —Geerhardus Vos

 

God se tuin

In Psalm 92:13 – 16 gee God aan ons ‘n begeleide toer deur sy tuin. Hy sien sy mense – die regverdiges – soos palmbome en seders. Maar Hy stel veral belang in die ouer en meer volwasse dissipels. Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees.

 

Vandag se kerk fokus op die jeug en daarom word senior burgers dikwels verwaarloos. Kyk weer na God se vriendelike en bemoedigende woorde aan hulle.

  • Hulle groei

Moegheid, agteruitgang, swakheid is die woorde wat ons gewoonlik met ouderdom assosieer. Hulle is Bybelse woorde – kyk maar net na Prediker 12:1 – 8 – veral die ou vertaling. Hier gee die Here egter aan ons ‘n ander perspektief. Seniors word fisies swakker, maar geestelik sterker: Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe (2 Korintiërs 4:16). Hulle groei in geloof, heiligheid, wysheid, hoop en liefde, want hulle is in die ryk grond van God se kerk geplant.

 

  • Hulle is vrugbaar

Die psalmis verwys hier spesifiek na die palmbome, want hulle het nie alleen kos vir die nomades in die woestyn voorsien nie, maar was ook ‘n aanduiding van waar water was. Hulle diep wortels het die ondergrondse water gekry. Baie bome dra nie meer vrugte as hulle oud word nie, maar God se seniors dra steeds vrugte. Hierdie vrugte is ‘n teken dat hulle gesond is, maar is ook tot voordeel van ander. Hulle is goed gesnoei en dra takke vol geestelike vrugte.

 

  • Hulle is fris

Fris hier beteken hulle is nog vol sap. Hierdie is ‘n innerlike sap – onsigbaar en ‘n bron van vog diep in hulle. Hulle uitwendige groei, is die gevolg van inwendige krag. Hulle word voortdurend inwendig vernuwe deur die innerlike sap van die Heilige Gees.

 

  • Hulle is lewenskragtig

Dit staan in teenstelling met die goddeloses: Al is die goddelose voorspoedig, al floreer almal wat onreg doen, hulle sal vir goed uitgewis word (Psalm 92:8). Die regverdiges, daarenteen, floreer selfs in hulle senior dae. Natuurlik word Christene ook oud, maar hier word nie na die liggaam verwys nie, maar na geestelike vermoëns:

  • Hulle oë sien nie meer nie, maar in geloof sien en glo hulle God se beloftes.
  • Hulle ore hoor nie, maar hulle hoor steeds die stem van die Verlosser.
  • Hulle stem kraak, maar daar is steeds ‘n melodie in hulle harte.
  • Hulle voete bewe, maar hulle stap nog stewig op die pad van geregtigheid.
  • Hulle vel is vol rimpels en plooie, maar hulle is mooi in die oë van die Here.
  • Hulle aptyt neem af, maar hulle honger en dors steeds na geregtigheid.
  • Hulle smaak neem af, maar hulle kan steeds proe en sien dat God goed is – die brood van die lewe.
  • Hulle hart versaak, maar hulle geestelike hart klop sterk.
  • Hulle belangstelling in die wêreld verminder, maar hulle belangstelling in die wêreld wat kom, neem toe.

 

  • Hulle getuig

Seniors getuig met hulle lippe, maar ook met hulle lewens. Hulle verklaar dat die Here regverdig is: Hy is my rots.

 

Seniors glo nie dat hulle groei of vrugbaar of fris of lewenskragtig is nie. Seniors moet meer waarde aan God se woord as aan hulle spieëls heg.

Volgende keer gaan ons na sekere aktiwiteite wat seniors moet doen, kyk.